Juia Roberts is een van Hollywood se hoogs betaalde sterre en wêreldwyd ’n huishoudelike naam. Meer as 20 jaar gelede het sy opslae gemaak met haar vertolking van ’n sekswerker teenoor Richard Gere in die rolprent Pretty Woman.

Twee jaar gelede het sy letterlik die verkeer in Rome tot stilstand gebring tydens die verfilming van die gewilde boek Eat Pray Love. Nou is sy die gesig van die skoonheidshuis Lancôme se nuutste parfuum, La vie est belle.

“Dit is onwerklik om skielik in jou veertigs ’n supermodel te wees,” skerts Julia tydens die wêreldbekendstelling van die parfuum in die suide van Frankryk. Sy verduidelik dat sy nog altyd probeer het om ’n obsessie oor skoonheid te vermy.

Geluk is die sleutel tot skoonheid. Of ons daarvan hou of nie, jy dra jou lewe op jou gesig en in jou houding.

“Daarom is geluk die belangrikste eienskap.”

Dit is dus ironies dat Julia onlangs te sien is in Mirror Mirror (wat op die verhaal van Sneeuwitjie geskoei is) ?en waarin sy die rol van die gemene koningin speel en haar karakter se obsessie met voorkoms die sentrale tema is.

Hieroor is sy filosofies: “Sneeuwitjie is ’n baie ou feëverhaal wat wys dat ydelheid en die obsessie met jeug en skoonheid al eeue oud is.

“Ons kan dus nie sê mense jaag dit vandag na weens die klem wat Hollywood daarop plaas nie. Ongelukkig raak mense deesdae skoon laf met behulp van kosmetiese chirurgie.  

“Ek is net nie oortuig dat geluk die eindresultaat is nie. Ek dink ek sal eerder met terapie begin.”

Wanneer sy oor haar lewe in die kollig praat, is dit duidelik dat sy al hard gewerk het om die sin in die lewe te vind.

“Ek is baie bewus van wie ek is wanneer ek wakker word en hoeveel mense nodig is om my soos ’n filmster te laat lyk. My werk maak my nie ’n buitengewone mens nie, maar my omstandighede is wel ongelooflik. Dit maak mý egter nie ongelooflik nie.”

Haar volgende fliek is August: Osage County saam met Meryl Streep. “Ek het nog nie saam met haar gewerk nie, behalwe een aand by ’n liefdadigheidsvertoning. Ek verafgod haar.”

Julia is getroud met Daniel Moder, ’n kameraman wat sy in 2000 op die stel van The Mexican ontmoet het. Hulle het drie kinders, die tweeling Hazel en Phinnaeus, en Henry.  

“Ek sal graag my kinders na Afrika wil neem wanneer hulle ’n bietjie ouer is en alles sal kan onthou wat ons daar gaan doen. Ek dink om Afrika te sien sal wonderlik wees.”

[box:full:grey:both]

JULIA SE LEWE IN GEUR

Lancôme se La vie est belle

Sy was deel van die ontwikkelingsproses van Lancôme se nuwe parfuum, La vie est belle. “As ek ’n geur verteenwoordig, moet dit iets wees waarop ek dol is. Daarom het ons baie gepraat oor die geure waarvan ek hou. Een daarvan is beslis patsjoelie.

“Ek onthou eenkeer het ek ’n vriendin raakgeloop wat ek lanklaas gesien het. Sy het my ’n drukkie gegee en gesê: ‘Jy ruik nog net dieselfde!’

En weet jy, dit het my gelukkig gemaak en ons vriendskap dadelik teruggeneem na die laaste keer toe ons saamgekuier het. Dís die ding van geure. Patsjoelie was nog altyd deel van my lewe, en wanneer ek dit dra, dan weet mense ek is in die omtrek.

“Ek hou ook van houtgeure. Net nie iets te poeierig nie.”

Ook die ontwerp van die bottel is vir Julia ’n bron van inspirasie: “Deesdae gaan alles oor handelsname en gewoonlik word dit duidelik op die houer aangedui. Dis baie uniek dat daar niks op dié parfuumbottel staan nie, nie eens die naam van die parfuum nie; dis net skoon en mooi. Dit maak ’n baie sterk stelling om net ’n pragtige bottel te hê.”

* La vie est belle (R590 vir 30 ml EDP) put inspirasie uit die oorspronklike kuns om parfuum te skep en steun op die krag van eenvoud. Die geur bestaan uit net 63 bestanddele, sodat elke geur tot sy reg kan kom.

* Die eindresultaat was ná meer as 3 jaar en 5 000 weergawes voltooi.

* Die hoofbestanddele is patsjoelie, iris, jasmyn, lemoenbloeisel en “eetbare note” soos vanielje, tonkaboon, pralien, swartbessie en peer.