Sy was die darling van die laat 1990’s en begin 2000’s met trefferflieks soos 10 Things I Hate About You, Save the Last Dance, Mona Lisa Smile en The Bourne Identity-reeks. Groot name soos Julia Roberts, Matt Damon, Shirley MacLaine, Robert De Niro, Heath Ledger, Alicia Vikander, Bradley Cooper, Jennifer Lawrence, Liev Schreiber, Kerry Washington en Ethan Hawke het al in flieks saam met haar verskyn. Maar eers in haar laat 30’s het sy regtig in haarself begin glo. Die Hollywood-ster Julia Stiles gesels met SARIE.com.

“I hate the way I don’t hate you. Not even close, not even a little bit, not even at all.” As jy ’n kind van die 1990’s was, kan jy hierdie stukkie dialoog alte goed onthou. Uit die mond van Kat Stratford, Julia se karakter, in die gewilde romkom 10 Things I Hate About You, gegrond op William Shakespeare se The Taming of the Shrew. Die rolprent, wat van Julia en Heath megasterre gemaak het, is vandag 21 jaar oud.

Die Oscar-wenner Health Ledger uit een van ‘10 Things I Hate About You’ se ikoniese tonele. FOTO Getty Images / Gallo Images

Tog sou die helder kollig van Hollywood nog vir jare daarna ’n eensame plek vir Julia wees. “Ek het so gehunker na erkenning, na aanvaarding. Ek het nooit geglo ek is goed genoeg nie,” erken Julia telefonies teenoor SARIE.com. “Jy is genoeg ... dis so ’n belangrike stelling. Ek het eers in my laat 30’s dit werklik begin glo en uitleef. In my beginjare het ek alles gedoen om ander se goedkeuring en applous te kry. Nou weet ek dit ... ek is genoeg.”

Op 39 is Julia gemaklik met haarself. Sy is vrou, sy is ma, sy is gelukkig. Dis bevrydend, sê sy.

Die industrie het ook verander. 

“Dit raak al hoe beter vir vroue. Toe ek in Hollywood aangekom het, was ek angsbevange oor hoe my loopbaan in my 30’s en 40’s sou lyk. Sou ek nog een hê? Daar was net nie sterk rolle vir ouer aktrises nie. Maar nou is dit anders ... ons begin opstaan, ons begin praat, ons skep.”

‘10 Things I Hate About You’ het groot sterre van die jong Heath en Julia gemaak. FOTO Getty Images / Gallo Images

Sedert 2017 vertolk sy die hoofrol in die BBC-reeks Riviera, wat in die pragtige Franse Riviera afspeel. Haar karakter? Die kunskurator Georgina Clios, ’n komplekse vrou wat skielik met die geheime van haar vermoorde miljardêr-man, Constantine Clios, gekonfronteer word. Die tweede seisoen begin op 28 Junie op BBC First (DStv-kanaal 119). 

Georgina het Julia op vele vlakke uitgedaag - fisiek, geestelik, emosioneel. “Ek kan nou vir jou in hakskoene hardloop! Dis ’n vaardigheid wat ek danksy Georgina aangeleer het,” lag sy. “En op enige terrein: Teer, grond, klip.”

Boonop het haar karakter se klerekas vir groot mode-oomblikke gesorg. Ralph Lauren, Chanel, Stella McCartney, Erdem, Roland Mouret, Emilia Wickstead, Dior, Yves Saint Laurent en Victoria Beckham is net van die name wat Julia in Riviera gedra het. Die reeks se kostuum-ontwerper, Emma Fryer, het die items in die sjiekste strate van Londen uitgesoek.

Julia vertolk al sedert 2017 die rol van Georgina Clios in die BBC-reeks ‘Riveria’. FOTO Riveria / BBC

“O, ek het al ’n paar keer my kostuums by die kostuumafdeling oorgekoop. Daar is net soveel mooi items. Nie dat dit nou help nie, ons kan nêrens heen gaan nie,” skerts sy. “Miskien moet ek sommer een van Georgina se aandrokke in my kombuis ophang en daarna kyk as ek kook ... in hakskoene. Opwindend!”

Danksy die reeks, wat vir ’n derde seisoen hernu is, kon Julia vir byna ’n jaar in die Franse Riviera woon. Dis in die Franse stad Nice waar sy Michelin-sjef Jan Hendrik van der Westhuizen ontmoet het. 

“Hy is so ’n vrygewige siel. Hy het uit sy pad gegaan om vir my en my man [Preston Cook] te bederf met die heerlikste kos. Een aand het hy spesiaal vir ons in sy woonstel gekook, ons het geverf en gedans. Dit was net wonderlik. Hy het ons ook in Italië laat wyn proe. Ek het Suid-Afrikaanse kos geproe, maar die name het my ontglip. Jan het die mooiste siel.”

Sy bewonder sjef Jan. “Hy is ’n kunstenaar. Só talentvol, ’n fotograaf, ’n skepper. Kreatief!”

Danksy hom wil sy Suid-Afrika kom besoek. “Ek begeer om Kaapstad te sien ... ek het reeds so baie van dit gehoor.”

Toneel uit ‘Riviera’. FOTO Riviera / BBC

Maar vir nou is Julia, Preston en hul driejarige seun, Strummer, in Vancouver, Kanada - 2 055 km weg van Hollywood Boulevard. Die Covid-19-pandemie het hulle ook tot stilstand gedwing.

“Die jaar het so anders uitgedraai. Maar ek is gedwing om stil te word, asem te haal, teenwoordig te wees.”

Sy het skielik weer die klein, vanselfsprekende dinge begin waardeer. “Soos tuinmaak, kosmaak, die stilte, om te lees en om met my seun te speel.”

Sy en Preston het ook soos die Franse begin kook - die geur van varsgebakte brood vul nou daagliks hul huis. “Vars, vol geur. Eintlik is dit my man. Dis hy wat kook.”

En Julia? Sy kon uiteindelik die kuns van vergenoegdheid herontdek. “Om te wees in die hier en nou. Om net te wees ... dis al.”

- Die tweede seisoen van Riviera word vanaf 28 Junie op BBC First (DStv-kanaal 119) vertoon.