Vandat hy ’n kind was, het Jurie Els vir musiek gelewe. Hy onthou hoe hy op sewe saam met sy niggie na langspeelplate geluister het op sy oom se plaas in die destydse Wes-Transvaal.

“Die wêreld het skielik ’n beter plek geword,” vertel hy in sy outobiografie, Ver van Vrede, wat einde Augustus verskyn. “My gedagtes en lewe word totaal en al gevul met drome van radio-ateljees, plaatopnames en musiekkonserte. Ek sal nooit weer twyfel oor wat ek met my lewe wil doen nie. Musiek word my lewensideaal wat sou groei en ontwikkel. Tot 2008 toe alles meteens tot stilstand kom en elke goue droom van agt en dertig jaar in duisend skerwe spat.” Dis die jaar toe die jong sanger Robbie Klay hom van seksuele molestering beskuldig het. Jurie het Robbie se loopbaan help bevorder vandat Robbie elf jaar oud was. ’n Hofsaak het gevolg, maar in Desember verlede jaar is Jurievrygespreek op alle aanklagte. Die Robbie-sage sal nog vir lank ’n skadu werp, maar deesdae wy Jurie weer al sy aandag aan musiek.

Hy en sy vrou, die gewese Olimpiese hoogspringatleet Hestrie (Cloete), en hul twee kinders, Chrizette (amper 4) en Jason (2), is terug in Nieu-Seeland, waar hulle sedert 2008 woon.

Nuwe musiekblyspel

Jurie werk nou saam met Edwin Randell, “’n baie talentvolle Suid-Afrikaanse musiekregisseur wat

deesdae ook in Nieu-Seeland woon,” aan ’n musiekblyspel wat elke jaar in Nieu-Seeland en Australië op die planke gaan wees: SA Goud/SA Gold.

“Die program verander elke jaar en bestaan uit al die gewildste musiek uit Suid-Afrika deur die dekades,” vertel Jurie. “Dis in Afrikaans en Engels en dis iets soos die Alabama-studentegeselskap se jaarlikse revueprogram. Alles word met ’n groot orkes gedoen, geen back tracks nie.”

Sy plate-etiket in Suid-Afrika, StetsonMusiek, is steeds aan die gang. “Ons het onlangs twee nuwe albums uitgereik, Lance James se Die Stem en die versamelalbum Whispering Hope, spesiaal om dankie te sê ná die hofuitspraak.”

Hestrie speel netbal en rig hoogspring af in Nieu-Seeland.

“Ons het goed aangepas en ons het baie vriende,” sê Jurie. “Aanvanklik sou ons net vir ’n jaar of twee Nieu-Seeland toe kom. Ons moet egter aan ons kinders se toekoms dink. Al bly Suid-Afrika ons hartland, is daar geen geleenthede vir ons kleingoed nie en die misdaadsyfer bly net te hoog. Daarom is ons nou meer permanent in Nieu-Seeland.”

Ná die hofsaak het Jurie die laaste hoofstukke van sy outobiografie voltooi.

“Ek weet dat enigiemand wat nog twyfel of meer wil weet van wat in die hof gesê is, nou die boek kan optel en uitvind. Dis ook belangrik dat my kinders, eendag as hulle ouer is, kan lees wat werklik gebeur het.”

Jurie wys daarop dat die boek ook heelwat humor in het. Dit gaan nie net oor Robbie en die binnewerkinge van die Afrikaanse musiekbedryf nie, maar vertel ook van Jurie en Hestrie se liefde en hoe hy verskeie kere verlief geraak en een keer amper getrou het voordat hy sy droomvrou ontmoet het. Hier is ’n paar eksklusiewe uittreksels.

Elke skoolseun se droom

Jurie vertel op skool op Vrede in die Vrystaat het ’n paar meisies sy hart gesteel, soos Tracey Anderson en Elize Bloem, die dominee se dogter.

En natuurlik Brooke Shields. Hy was 18 toe sy die wêreld getref het.

My hormone word verder opgejaag deur ene Brooke Shields, en 1981 behoort aan haar film The Blue Lagoon. Ek verander selfs my hele slaapkamer en maak The Blue Lagoon die tema daarvan. Ek sny riete by die spruit naby die rondawels en ry dit aan huis toe. Ek bedek my kamermure en die plafon daarmee. Tientalle varings en palms word ingebring en die laaste oop spasie in my kamer word versier met seetonele, skulpe, visnette en dies meer.

Tog is dit asof daar nog iets kort. Ek maak kontak met Ster-Kinekor se publisiteitsmense, en hulle skenk my ’n lewensgroot plakkaat van Brooke Shields. Dis ’n besonder mooi halflyffoto van die bruingebrande Amerikaanse tienergodin . . . Om alles te kroon het sy ’n boodskappie op die plakkaat geskryf en dit self onderteken. Ek is in die sewende hemel. ’n Blue Lagoon-hemel.

Sunette Bridges, Patricia Lewis, Helenè Bester (en agterdog oor Robbie)

Op 14 Mei 1987 woon Jurie Bles Bridges se vertoning in die Sun City Superbowl by. Hy is maar steeds dieselfde Blessie wat ek by Vrede se stadsaal gehelp het om sy klanktoerusting te dra.

Hy en Sunette kom groet my en nooi my na die “after party”. Daar is nie ’n teken van hoogmoed by een van hulle nie. Ek kom agter dat ek Sunette net nie uit my gedagtes kan kry nie. Sy is soos ’n prinses uit ’n sprokie. Hierdie dogter van Bles is later in matriek, en ek is ’n jong onderwyser. Ek gaan kuier ’n paar maal by Sunette. Een vakansie gaan maak ek ’n draai by die Bridges-gesin se strandhuis in die hoofstraat van Margate. Bles word in die musiekbedryf byna soos ’n pa vir my . . . Ek is mal oor Sunette.

Sy vergesel my na die Hoërskool Menlopark se matriekafskeid. Hoewel sy nog self in matriek is, het sy baie selfvertroue en kwyt haar goed van haar taak. Sy pas gemaklik in tussen my onderwysvriende. Ek besef dat die mooie meisiekind met die sterk persoonlikheid gewoond is aan groot geld en dat ek, met my karige onderwyssalarissie, nooit sal kan voldoen aan haar finansiële behoeftes nie. Nadat sy matriek geskryf het, sien ek al minder en minder van Sunette.

In 1998 is Jurie al ’n bekende sanger, hy het vir Patricia Lewis “ontdek” en is verantwoordelik vir die 12-jarige Robbie Klay se CD-opnames.

Toe ons omslagfoto’s vir Robbie se BMG-album op die plaas gaan neem het, was oom Leon en tannie Hester Dörfling [bure op Vrede] ook daar. Jenny [Robbie se ma] natuurlik ook, want waar Robbie is, is sy. Soms kry ek die gevoel dit gaan eintlik oor my.

Eintlik weet ek dit. Haar briefies en geskenke het my vermoede bevestig. Oom Leon spot my gedurig oor Jenny so agter my aan is. Hy dink dis baie snaaks dat ek so probeer vlug. Hy weet van die kaartjies. Ook van die duur goue ketting wat Jenny my vir Kersfees gegee het.

Hy weet ook ek vrek oor Patricia Lewis. Maar Patricia en Pierre Griffioen is al jare lank saam. Ek dink nie ek staan ’n kans nie. Al dink die hele land ek en sy hoort saam, want ons sing saam. Ai, die mense darem! My ma is bekommerd oor iets veel ernstiger as Jenny se geskenkies. Sy vertrou nie die vrede nie. Sy hou nie daarvan dat Jenny soms vra dat Robbie by my huis moet oorslaap nie. Sy hou ook nie van die ding dat ek en Robbie sê ek is sy pa nie. Sy het my reguit gevra wat ek sal doen as hulle eendag omdraai en sê ek het hom gemolesteer. Ek het gesê sy is laf en dat haar paranoia absoluut absurd is. My ma se antwoord was dat mense enigiets vir geld doen. Ek het my skouers opgetrek en gesê Robbie het reeds ’n paar maal by my huis oorgeslaap en dat die koeël daarom dan eintlik reeds deur die kerk is. As hulle wil vuil speel, kan hulle dit alreeds doen. Ek is egter in my hart oortuig dat hulle nooit so laag sal daal nie. Ek is die pa-figuur wat Robbie nooit gehad het nie en dis goud werd. My ma se reaksie: “Presies. Goud werd.”

2004

Toe Kevin van der Spuy, grootbaas van Hoezit Platemaatskappy, besluit daar moet ’n musiekvideo van “Droomvrou” gemaak word, is Helenè Bester my eerste keuse vir die titelrol . . . Ek het al ’n paar maal probeer om Helenè te laat verstaan hoe ek oor haar voel, maar ek kry gemengde seine van haar af terug.

Soms dink ek ek staan beslis ’n kans en ander kere is sy weer so afsydig dat ek voel sy is ’n totale vreemdeling. Tydens die opname van die “Droomvrou”-video word dit vir my duidelik dat ek nooit regtig gaan weet waar ek met Helenè staan nie. Sy is die regte keuse vir die video en dit werk uitstekend op kamera.

Wanneer ons egter ’n blaaskans neem en die kameras is nie aan nie, is dit ’n ander storie. Sy weier byvoorbeeld volstrek om vir stilfoto’s saam met my te poseer. Ek verstaan dit nie, want sy speel tog immers die hoofrol teenoor my in hierdie musiekvideo van die immergroen Lucas Maree-liefdesliedjie.

Uiteindelik sien ek maar af van Helenè Bester.

Die ware droomvrou

Jurie ontmoet Hestrie Cloete in 2001 by ’n promosie in die Kolonnade-winkelsentrum in Pretoria.

Sy stuur ’n vriendin na my toe met twee van my CD’s wat sy gekoop het. Die meisiekind vra ek moet dit teken, “aan Hestrie”. Ek vra of mens dit spel soos die atleet se naam. Hestrie kommeteens vorentoe en sê: “Ek is die atleet!” Ek kyk geskok op van waar ek sit. Ek herken die lang vrou onmiddellik . . . Ek kan my oë nie glo nie. Kan dit waar wees dat Hestrie Cloete na my musiek luister?

Ek druk die mikrofoon in haar hand en vra dat sy die mense moet groet. Hestrie stem laggend in. Sy het duidelik nie ’n gebrek aan selfvertroue nie. Ons ruil nommers uit. Einde van die storie.

In 2004 is Hestrie nog getroud met Andries Cloete van Coligny.

Ek hoor weer van Hestrie Cloete kort nadat my 10 uit 10-CD uitgereik is. Haar vriendinnetjie Lallie daag by ’n promosie op. Sy lig my in dat Hestrie my nuwe CD vra, maar dat sy nie daarvoor gaan betaal nie. Ek lag, haal een van die CD’s uit, skryf “Met liefde aan Hestrie”daarop, teken my naam en gee dit vir Lallie . . . Later bel Hestrie.

Sy wil weet wat ek haar gaan vra om ’n liefdadigheidsvertoning in Lichtenburg se stadsaal te doen vir ’n vriend wat tydens ’n winkelroof geskiet en ernstig beseer is. Ek sê ek wil ’n groot, getekende en geraamde aksiefoto van haar hê vir my nuwe huis, dis al . . . Die aand is ’n groot sukses en ek kry my getekende aksiefoto, geneem in Berlyn, net voor die wêreldkampioenskappe in Parys toe Hestrie met haar persoonlike beste van 2,06 meter die titel suksesvol verdedig het.

Jurie hang die foto in die eetkamer van sy nuwe huis in Moreleta Park. Nooit sou ek kon raai dat die vrou op daardie einste foto my droomvrou sou word of dat ons verloof sou raak op 1 Junie 2005 en op 30 September 2005 sou trou nie. “Die hart van ’n wenner” word ingesluit op ’n versamel-CD van Jurie se gewildste opnames en hy dra dié liedjie op die omslag aan Hestrie op. Ek laat weet Hestrie per SMS dat ek die liedjie aan haar opgedra het en dat ek deur Coligny gaan ry op pad Noord-Kaap toe. Sy laat niks van haar hoor nie. Op pad terug van Kathu af, gooi ons petrol by die Shell-garage net buite Coligny in. Ek besluit om Hestrie weer te SMS. Sy antwoord:“Wag net daar, ek is nou daar” . . .

Hestrie en ’n paar vriendinne is op pad Lichtenburg toe vir ’n Wimpy-ontbyt. ’n Paar minute later klim die lang vrou uit die Kia Carnival, draf die eetplek binne en gryp die CD. Sy bedank my en toe is sy net so vinnig weer daar weg. Seker lekker honger!

Ek wag om te hoor wat Hestrie van my Treffers-CD dink, maar maande lank gebeur daar niks. Hestrie laat my uiteindelik weet sy is op pad Pretoria toe en dat sy na my nuwe huis wil kom kyk. Ek besluit om haar en Andries te nooi vir ’n braai.

Sy daag alleen op. Later verneem ek sy het besluit om van Andries te skei. Sy wil haar in Pretoria kom vestig. Ons begin planne maak om saam te werk. Ons dink daaraan om veilings te hou van memorabilia van bekende vermaaklikheids- en sportpersoonlikhede. Hestrie het baie kontakte in die sportwêreld en ek in musiek. Ek help Hestrie om ’n goeie blyplek te kry en later ook om haar luukse huureenheid in te rig . . . Ek en Hes het skaars haar nuwe woonplek ingerig met nuwe meubels en ou rnamente, toe ons besef ons is smoorverlief.

Die prys van roem

Jurie en Hestrie se troudag het die land aan die praat, maar daar is bitter saam met die soet. Dis weke ná ons troue. Rapport se plakkate op straat verkondig: “Rapport ruk Jurie se masker af.” Die suggestie is duidelik. Hulle plaas ’n berig oor die grimering wat ek by die troue op my gesig gehad het. Ek het kwansuis meer grimering aangehad as my bruid. Wat hulle nie sê nie, is dat ons TV-opnames van die troue gemaak het vir Blonde Ambisie op SABC2 en vir die DVD van SonyBMG. Ek moes genoeg poeier aanhê sodat my gesig nie op kamera sou blink nie, en ek moes boonop grimering kry vir Huisgenoot se voorblad. Alle mans wat op TV verskyn, dra grimering.Selfs sportkommentators.

Alle mans wat op Huisgenoot-voorblaaie verskyn, dra grimering. Dis hoe dit werk.

Ongelukkig weet die tannies op die platteland dit nie en die Rapport-storie laat my baie aansien verloor. Dit maak van my ’n teiken. By elke braaivleisvuur en VLU-vergadering word daar skielik met my gespot en mense begin wonder of ek nie dalk inderdaad gay is nie. Leon Schuster neem ’n liedjie oor my en Hes op. Hy kom ons lelik by. Na my mening het hy te ver gegaan. Nádine ook. Sy het saamgesing, al hou sy vol sy’t nie geweet waaroor dit gaan nie. Die hele grimeringding is uit verband geruk. Almal, insluitende Leon Schuster, dra grimering wanneer hulle op TV of in ’n film verskyn! Die einste Schuster verskyn in Mama Jack vol grimering in vroueklere. Hy, van alle mense, behoort dus van beter te weet . . .

Na Chrizette se geboorte [op 5 Oktober 2006]

raak die mediadruk vir ons net te veel. Ons voel asof ons onder ’n vergrootglas dopgehou word . . . Alles wat ons doen, is kontroversieel. Maande voor Chrizette se geboorte plaas die Son ’n “foto” van haar. Hulle kondig oral op straatplakkate aan: “So lyk Jurie en Hestrie se baba.” Hulle het ’n foto van ’n vet baba geneem en dit gemanipuleer deur van my en Hes se gelaatstrekke te gebruik. Die kind lyk soos Alfred Hitchcock. Net voor sy dood . . . Hoe gaan ons dit eendag aan Chrizette verduidelik? Wat het sygedoen om dit te verdien? ’n Onskuldige babatjie wie se grootste “sonde” is dat haar ouers albei bekend is. Toe Hestrie besluit om vir Chrizette oorbelletjies te laat insit, word sy gekruisig. Chrizette se naam lok net so baie reaksie uit. My eerste naam is Christiaan en Hestrie se tweede naam Suzette. Hes het die twee saamgevoeg, vandaar die naam Chrizette. Daar word dae lank gepraat oor hoe “kommin”dit nou kwansuis is as ’n pa en ma hulle name saamvoeg om ’n nuwe naam te skep. Selfs Gareth Cliff het op 5FM ’n eiertjie te lê.

Ná Chrizette se eerste verjaardagpartytjie...

is daar kritiek oor alles. Mense isongelukkig oor haar Felicity-ontwerpersrokkie. Hulle besef nie Simon Rademan het dit aan haar geskenk nie. Hulle spoel hulle monde uit oor die koste van die partytjie, oor die gaste, die kos, die tema. Oor letterlik alles. Ons raak gaandeweg gatvol. Die partytjie het ons nie ’n sent gekos nie. Alles is deur borge voorsien. Net soos met ons troue. Die publiek weet dit nie. Die media berig dit nie. Daar bestaan soveel wanpersepsies en dis ’n onbegonne taak om dit alles weer reg te stel. Why bother? . . . Die misdaad en swak dienslewering in ons land dra by tot ons frustrasie. Eskomse kragkrisis ook. ’n Ondersoekbeampte van die SAPD bel een aand laat. Hy lig ons in dat Chrizette in gevaar is. Die SAPD het op dokumente afgekomwat daarop dui dat bekendes se kinders ontvoer gaan word en haar naam is op die lys. Hulle het reeds ’n verdagte geïdentifiseer. Die polisieman vra dat ons nie met die media hieroor moet praat nie. Dis baie delikate informasie.Die SAPD wil nie enige rolspelers bewus maak van die feit dat hulle dopgehou word nie.

Ons onderneem om stil te bly . . .

Ons besef ons kind se veiligheid en toekoms kom eerste. Ons sal ons bekendheid en inkomste opoffer om seker te maak sy

is veilig. Ons besluit om ons verblyfreg te gebruik om ’n jaar of wat in Nieu-Seeland te gaan woon.

(Hulle was nog besig om bokse uit te pak by hul nuwewoonplek, toe Hestrie kom vertel van die eerste koerantberig met Robbie se bewerings . . .)


• Kontak Jurie op sy Facebook-blad Jurie Els Nz