Daars 'n nuwe rock chick in Afrikaans en haar naam is Karien Stander. Sy is 27 en kom van Roodepoort en speel in die band Stander. Haar debuut-CD, Afrikaanse rock chick, is onlangs bekend gestel. Die lirieke is eerlik en haar boodskap is hard en duidelik: Jong Afrikaners het die reg om in hul eie taal met mening te rock. Marguerite van Wyk het met haar gesels.

Wat beteken dit as jy sê jy is 'n Afrikaanse rock chick?
Net wat dit sê: Ek is Afrikaans, ek is 'n girl en ek kan rock in my taal.

Jou debuut-CD bestaan uit dertien snitte waarvan jy almal, behalwe die titelsnit, ''Afrikaner rock chick'', in samewerking met Karla Venter geskryf het. Wat is jou gunsteling-liedjie daarop en hoekom?
Nommer 8, ''Mis jy my'', want dit bevat klaviermusiek en ek is absoluut mal oor die klavier.

Waar kry jy inspirasie vir jou songs?
Meestal uit verhoudings en ander ondervindings, maar dit gaan grootliks oor die liefde.

Benewens advertensies en verhoogwerk (o.m. in Deon Opperman se Pata-Pata), het jy ook die rol van Tanya in 7de Laan en Tanya in Villa Rosa vertolk. Geniet jy toneelspel? En sal jy in die toekoms in 'n rolprent wil speel?
Ek geniet toneelspel baie. Ek het 'n drama-kwalifikasie van AFDA. Ek sal mal daaroor wees om in 'n surf-fliek te speel omdat ek dit self doen en nie kan wag vir die Desembervakansies sodat ek al my tyd in die water kan spandeer nie.

Wie is jou mentors in die musiekbedryf?
Tori Amos is iemand na wie ek die meeste opkyk, want haar musiek is vir sewe jaar deur mense in die bedryf misken en ''hulle'' het vir haar gesê sy moet iets anders vind om te doen en nou is sy volgens my een van die beste musikante ooit.

Bespeel jy nog musiekinstrumente behalwe die kitaar?
Ek speel klavier, maar nie so goed soos wat ek wil wees nie.

Waar tree jy en Stander, wat in Maart verlede jaar gestig is, orals op?
By kroeë in Gauteng en by kunstefeeste landwyd.

Wat is jul planne vorentoe?
Ek wil gróót gaan met my band en sal weer betrokke wil raak by toneelspel.