Ma-wees is harde werk - selfs vir celebs. Maar hulle sou dit nie anders wou hê nie.

Die sangeres en aktrise Karlien van Jaarsveld vertel haar drietjies het haar fyn leer luister. "God praat so baie deur hulle. Ek skryf gereeld die goed neer wat hulle sê, want wat hulle sê, kom nie uit hulle nie … hulle is nog heel in ons gebroke wêreld, hulle hoor dinge baie mooier as ons. Ek leer elke week iets van God uit hul monde ..."

Sy is dankbaar oor wat sy by haar kinders leer. Die tweeling, Daniël en Eliah, is nou "four going on 14", lag sy, en klein Elah skaars sewe maande.

Karlien se tweeling FOTO Instagram / @karlienvanjaarsveld
Baba Elah FOTO Instagram / @karlienvanjaarsveld

Hulle laat haar ook lág. "Hulle is opreg en nie gepla deur mense en hul opinies nie. Hulle smile en waai vir wie hulle wil en sê wat hulle wil sê op die mees ongeleë tye - ek is mal daaroor! Hulle laat my ook meer bid as wat ek nog ooit het."

Die aktrise Lika Berning, ma van Hugo (6), Jesse (2½) en Anneke (1), vertel "dinge is nogal wild en chaoties in ons huis, maar lekker spontaan".

Sy draai nie doekies om nie en sê dit is 'n uitdaging dat die jongste twee so na aan mekaar in ouderdom is. Hugo is darem al groter. "Ek kan hom soms vra om 'n bietjie te help."

Hoewel hulle nie die derde babatjie beplan het nie nie, "is ons ongelukkie die grootste blessing".

Lika saam met haar jongste, Anneke. FOTO Leana Clunies-Ross

Angelique Gerber het nooit gedroom van trou nie, maar wel om eendag aktrise te word - en ma te wees. Sy het 'n seuntjie van een en 'n half, Jacques, en ook 'n tweeling wat nou vier maande is, Annabelle en Olivia.

"Ek het letterlik binne 13 maande drie babas ryker geword. Dis rof, ek's moeg, dis harde werk."

Angelique saam met haar man, Jacques, en drie kinders. FOTO Instagram / @JacquesPotgieter7

Elke kind is anders, sê Angelique. "Dan is een se magie seer, of hy/sy hoes, of hulle slaap nie. Nie een van hulle kan praat en regtig sê wat fout is nie. Jacques kan darem al eina sê en wys waar hy seer het. Ek moet op die Here vertrou om my te wys wat hulle nodig het. Ek moet my intuïsie gebruik. Ek het al baie vir die Here gevra hóé kan Hy vir my drie kinders gee sonder 'n handleiding. Ek weet nie hoe mense dit regkry sonder geloof nie."

Haar kinders het haar baie geduld geleer. "Ek is ontsettend ongeduldig en wil alles beplan, maar met kinders kan jy nie. Hulle is nie masjiene nie. Jy moet leer om by húl behoeftes aan te pas. Ek het vinnig aangepas."

Die tweeling FOTO Instagram / @Angeliquegerber83
FOTO Instagram / @AngeliqueGerber83

En die liefde vir jou kinders is oorweldigend, sê Angelique.

"My liefde vir hulle is onbeskryflik groot. Noudat ek 'n mamma is, verstaan ek God se liefde vir ons vir die eerste keer. Ek is maar net 'n mens en kyk hoe lief is ek vir my kinders. Ek wil net die beste vir hulle hê. Hy het ons almal lief. En tog blameer ons Hom so gou."