Karlien het Maandagaand 10 Junie getwiet:

Vroeër verlede week het ons met dié twee gesels waar hulle 'n ruskansie geneem het:

Alhoewel Karlien pas haar nuutste album, Uitklophou, opgeneem het, klink sy nie moeg oor die telefoon nie. Sy en Derick hou vakansie in die Pilansberg, “om bietjie weg te kom en te rus”. Inteendeel, sy klink baie opgewonde as sy oor die album praat. “Ek kan nie wag dat almal die liedjies hoor en sê wat hulle dink nie.”

“Dit is dieselfde klank as my vorige album, maar bietjie meer volwasse, omdat ek meer volwasse is ... in ’n nuwe stadium van my lewe is – ek is nou getroud!” Sy het twee liedjies op dié album vir Derick geskryf – ‘Al breek ons gelyk’ en ‘Jy laat my wonder’.

Sy geniet dit nog om ‘mevrou’ te wees, maar hulle daaglikse lewe is maar rof omdat hulle albei se loopbane soveel tyd vereis. “Ons moet vaste planne maak om mekaar te sien en nie verby mekaar te leef nie.” Een van hierdie planne is om saam te oefen. “Hy sleep my gym toe! Maar noudat ons hier op vakansie is en nie gym nie, mis ek dit nou om te stap-draf op die treadmill."

Ek voel gesonder en my brein voel lewendiger as ek oefen.

“Dit is lekker om saam te oefen, want Derick motiveer my baie. Op my eie het ek nul motivering om te gaan oefen!”

Die heel moeilikste van ’n oefenprogram volg? “Om net my klere aan te kry en te gaan! As ek eers daar is, is dit beter.”

Derick, ’n voormalige Springbok losskakel, se uithouvermoë is iets wat sy bewonder – nie net as dit by oefening kom nie, maar ook as deel van sy persoonlikheid. “As hy sy kop op iets sit, dan bereik hy dit.”

“Ons persoonlikhede is heeltemal uiteenlopend. Ek vat dinge dag vir dag, en beplan nie werklik vooruit nie. Hy is anders as ek. Soms is dit frustrerend, maar dis ook lekker. Mense verskil.”

Daar is ’n kinderstem in die agtergrond. Karlien maak verskoning vir die geraas. “Dit is vriende wat saam met ons vakansie hou se dogtertjie wat opgetel wil word.” So tussen die kinders, is sy nie soms lus vir haar eie nie? “Ek sien verskriklik uit om kinders te kry.”

Haar stem is méér opgewonde as toe sy oor Uitklophou gepraat het. “Hoe kan ek sê ...” Sy aarsel ’n oomblik. “Ons keer nie eintlik nie. Ek sal baie gelukkig wees as daar iets gebeur.