Hy't in die kamera gekyk en gesê hy sal nooit weer met Ashley Hayden praat as sy hom in die rug steek nie en toe sy wys- en middelvinger om mekaar gedraai en gewys: "Ons is só." Met die volgende episode het Ashley vir Kas Pillay gesê sy gaan teen hom stem en dieselfde aand was hy die volgende stamlid wat die eiland moes verlaat.

So, praat jy en Ashley al?
Ek was teleurgesteld en kwaad vir Ashley omdat sy my in die rug gesteek het. Al die emosies wat ek op die eiland ervaar het, was werklik. Ek en Ashley het 'n spesiale band gehad, maar ek was naïef om te dink ek kon Survivor speel soos ek my lewe leef - deur mense te vertrou. Noudat ek na Survivor op TV kyk, besef ek Ashley het van die begin af strategies gespeel. Ek het op 'n stadium vermoed sy konkel, maar ek het die idee laat gaan, want ons is mos vriende. Ek is nog nie daaroor nie. Ons gesels as ons mekaar by geleenthede raakloop, maar dis asof daar 'n deurskynende versperring tussen ons is.

Jy was 'n underdog in die begin van reeks. Deelnemers het jou uitgestem min wetende dat jy dan 'n stam sou kon kies. Toe eindig jy onder die top-vyf.
Ek dink van die mense het nie gedink ek gaan my deel op die eiland kan doen nie. Vóór ek Survivor gedoen het, was ek 'n couch potato. Ek het op die rusbank gesit, aartappelskyfies geëet en TV gekyk. Toe ek op die eiland kon bly, het my doelwitte verander. Eers het ek alles in my vermoë gedoen om nie eerste afgestem te word nie, toe wou ek tot by die merge kom en toe wou ek die top-vyf haal. En ek het dit reggekry!

Wat het jou gedryf?
Die feit dat ek honger was en koud gekry het, het my gedryf om kos te kry en hout aan te dra om vuur mee te maak. Ek wou my familie by die huis trots maak en dit het my gedryf om so lank moontlik op die eiland te bly. Iemand moes dalk net vir my gesê het ek moet ook die speletjie speel!

Het jy baie gewig verloor?
10 kg. Ek weeg weer wat ek in matriek geweeg het. Ek het besluit om nou gesonder te leef. Ek het op 'n Saterdag ná Survivor in Suid-Afrika geland. Ek was die Maandag in die gimnasium. Ek neem in Mei aan 'n driekamp deel. Ek eet nou minder as voorheen. Ek het nou die dag ribbetjies in 'n restaurant bestel. Ek het twaalf ribbebene op my bord gehad. Ek het onmiddellik gedink ek kan twaalf porsies kos hiervan maak. Ek het skoon skuldig gevoel oor die baie kos op my bord. Ons eet heeltemal te veel.

Was jy spyt jy't jou kans om tyd saam jou ma deur te bring prysgegee sodat die ander deelnemers tyd saam met hul familielede kon deurbring? Die stam het jou toe in elk geval uitgestem.
Glad nie. Dit het mos nie sin gemaak vir een mens om tyd saam met 'n geliefde deur te bring terwyl die ander moet toekyk nie, as daar 'n kans is dat vier mense dit kan doen terwyl een toekyk. As Suid-Afrikaners het ons 'n ingebore sin vir ubuntu. Ons wil vir ander mense gee.

Wat het jy uit Survivor geleer?
Dat ek enigiets kan doen wat ek glo ek kan doen.