“Die jaar 2020 was steeds die moeite werd. Ons is so besig om te hustle en om te probeer oorleef dat ons van onsself vergeet. Daar was weer tyd vir myself, familie, huis mooimaak en net om te dink,” sê Katinka Weyers, oftewel Katinka die Kat, soos aanhangers haar op sosiale media ken.

Dié internetster en talentvolle foto- en videograaf moes haar troue weens die verlenging van die amptelike inperking uitstel.

“Ek het begin dink dat dit nooit gaan gebeur nie. Deur al die trane het ek die realiteite probeer aanvaar en insien dat daar óók ’n rede vir 2020 is. My gunsteling-aanhaling van Morgan Harper Nichols, ’n Amerikaanse musikant en liedjieskrywer, is: ‘One day you will look back on this season and know that you are truly blessed, and not because things were perfect but because you found perfect grace in the worst of it.’”

’n Intieme troue met net hul naaste familie was die antwoord. “Met ’n paar Persiese matte, liggies, ’n luidspreker en Burger King was dit die perfekte resep vir die mooiste troudag!”