Altyd met ’n glimlag en vroegoggend reeds vriendelik – voordat die meeste van ons al ons eerste koppie koffie gedrink het. Maar in die nuwe Afrikaanse fliek As jy sing wys hy ’n ander kant van sy persoonlikheid.

Katlego Maboe is vinnig besig om ’n bekende in die vermaaklikheidsbedryf te word – as sanger in die sanggroep Flip a Coin (wat onlangs ontbind het), as aanbieder vroegoggend op die onbytjoernaalprogram Expresso én as akteur.

NUUT! Die lokprent vir die nuwe Afrikaanse film As jy sing

Dié 27-jarige speel eersdaags in As jy sing, die nuwe Afrikaanse musiekrolprent waarin onder andere Karlien en Bobby van Jaarsveld speel. Die film gaan oor die sanggroep Die Bekfluitjies onder leiding van hul passievolle musiekonderwyser, mnr. Conradie (Bobby), wat ’n sangkamp bywoon. Hul teenstanders is die Militêre Ape, waarvan Katlego se karakter, Duma, die hoofseun en leier is. Duma, is ’n ferm hoofseun wat die reëls noukeurig nakom en seker maak dat ander dit óók doen. Die loskop en ongeorganiseerde Bekfluitjies steek hom dus dwars in die krop.

Katlego as Duma in 'As Jy Sing' Katlego as Duma in 'As jy sing'

Maar die “liefdevolle ou”, soos Katlego homself noem, het dit geniet om ’n ander kant van sy persoonlikheid te wys met dié rol. “Ek het in karakter gebly, selfs tussen die tonele. Mense ken my as die energieke ou wat altyd vriendelik is, daarom was almal verbaas dat ek tussen die tonele nie gepraat het nie. Ek het dié rol ernstig opgeneem.”

Juanita se dogter, Franja, oor haar rol in As jy sing

Voordat hy hom in die vermaaklikheidswêreld bevind het, Katlego vir rekenmeester studeer. En die vaardighede wat hy tydens sy studies geleer het, help hom nou nog in sy loopbaan. “Rekeningkunde het my geleer om nie met blinde oë die toekoms in te gaan nie. Ek dink aan my toekoms – ek wil oor 10 jaar ’n groter naam wees.” En van stilsit weet hy min.

Sy oggend begin sowat 04:00 sodat hy 06:00 gereed is vir Expresso. Maar wanneer die kameras om 08:30 afgesit word, is sy dag ver van klaar. Dán begin die voorbereiding vir die volgende dag – navorsing oor gaste, insetsels en stemwerk. Tussendeur werk hy aan twee besigheide – ’n reis- en vermaaklikheidsmaatskappy.

Nadat Flip a Coin tot ’n einde gekom het, het hy ook besluit om met sy solo-loopbaan af te skop. “Musiek was ons lewe … ons alles. Omdat ons nie volledig toegewyd kon wees nie, het ons besluit om dit eerder nie te doen nie.” Hy het al by verskeie geleenthede solo opgetree, maar werk nog saam met ’n vriend aan sy eerste album.  “Ek weet nog nie wanneer dít gaan gebeur nie, ek wil my tyd neem om iets unieks te maak.”

Eksklusief: Nuwe fliek met Bobby, Karlien, Hanna en …?

FOTO: Twitter FOTO: Twitter

Hy het onlangs die Australiese en Suid-Afrikaanse volksliedere voor rugby-toetsreekse gesing. “Ek wil hou van wat ek doen, want as jy lief is vir wat jy doen en jy werk hard, sal jy suksesvol wees…”

Katlego se skoonheidswenke

  • Drink baie water, rooibos- en groentee
  • ’n Goeie afskilferaar en ’n verfrissende gesigwasproduk is baie belangrik
  • Ek moet ’n nagroom en ’n beskermde vogroom gebruik, want my vel droog uit van die poeier wat ek elke dag moet dra
  • Oefening is baie belangrik – al gaan draf ek net op Seepunt se promenade
  • Ek probeer so gesond moontlik eet

FOTO: Twitter FOTO: Twitter

Lokprent vir As jy sing: