Sy is sedert 2007 die gesig van Chanel se gewilde Coco Mademoiselle-parfuum en het pas haar tweede advertensieveldtog vir dié geur geskiet. Keira Knightley vertel dat sy in haar lyfpak – wat spesiaal deur Karl Lagerfeld vir die veldtog ontwerp is – net soos ’n “Chanel Superwoman” gevoel het.

Is daar ooreenkomste tussen jou en Coco Chanel?

Ek wens! Ek is mal oor haar sterk persoonlikheid. Maar wie weet? Deur haar parfuum te dra raak ek dalk eendag ’n Keira bietjie meer soos sy. Dié legendariese ontwerper is ’n vrou wat my geweldig beïndruk en ek dink ek sou haar taamlik intimiderend gevind het. In my kop is sy geheimsinnig, maar sterk, invloedryk en veral onafhanklik – ’n noodsaaklike eienskap vir my.

Vind jy dit moeilik om na jouself op skerm te kyk?

Ek is nie baie goed daarmee nie.Tog is dit belangrik om die eindproduk van ’n film te sien, want dit gaan nie net oor jou nie,maar ook oor die
honderde mense wat hard gewerk het om die finale produk moontlik te maak.

Maar dit maak nie saak hoe hard ek myself probeer oortuig nie, dis vir my moeilik om na myself te kyk. Ek is my eie grootste en wreedste kritikus.

Geniet jy toneelspeel meer soos jy ouer word?

Ja! ’n Paar jaar gelede het ek byna vyf jaar aaneen gewerk sonder om te stop en asem te haal en ek was uitgeput. Die plesier van toneelspeel het daarmee saam verlore gegaan.

Sedertdien het ek rustiger begin leef. Ek het weer my passie vir werk en toneelspeel ontdek en kies nou projekte baie versigtiger.

Watter rol speel parfuum in jou lewe?

Geur is geweldig belangrik in ons lewens. Dit is soos ’n verlenging van wie jy is. Ek kan byvoorbeeld nooit aangetrokke voel tot iemand van wie se reuk ek nie hou nie. Dit is hoekom reuk een van ons vernaamste sintuie is.

Verbind jy van die karakters wat jy speel aan ’n geur?

Ja, soos my karakter in The Duchess, Georgiana Cavendish, wat in 1774 die hertogin van Devonshire geword het op die ouderdom van 17. Ek het haar karakter gekoppel aan ’n vintage geur van die oudste parfuumwinkel in Londen. My ma het daar ’n parfuum met ’n oorweldigende outydse geur gevind. Dis so swaar, ek dink nie iemand sal dit vandag kan dra nie. Maar ek het dadelik geweet dat dit die geur is wat my karakter in die fliek sou dra. En elke oggend voor ek
op die stel gegaan het, het ek ’n paar druppels aangetik.

Dink jy ons reukgeheue is belangrik?

Dis baie kragtig. Dink maar hoeveel herinneringe dit oproep wanneer jy die parfuum van ’n vorige kêrel ruik. Dieselfde kan gesê word van die parfuum wat my ma en ouma gedra het. Dis onkeerbaar en wonderlik, want hoewel baie mense dieselfde parfuum dra, is die reaksie met elkeen se vel anders en die herinnering wat dit in elkeen van ons se geheue laat heeltemal uniek.

Die geboorte van geur

  • Coco Mademoiselle (R875 vir 50 ml EDP) is in 2001 gebore toe parfumeur Jacques Polge die bestaande geur, Coco, herformuleer het danksy nuwe tegnologie wat in die 1990’s beskikbaar geword het.
  • Dié parfuum het ’n hart van patsjoelie wat gemeng word met note soos pienkpeper, roos, muskus en jasmyn.
  • Coco Mademoiselle val in die geurkategorie van ’n moderne chypre. Dié soort geur het ’n sterk kontras tussen ’n vars sitrus-topnoot en ’n houterige mosbasis.
  • Kate Moss was met die bekendstelling in 2001 die gesig van dié parfuum.
  • Die geur is plaaslik beskikbaar as ’n EDP, EDT en Extrait.

KYK DIE ADVERTENSIE HIER: