Die “Klas van 2020”. Hulle het binne ’n oogwink meer inligting tot hul beskikking as waarvan hul ouers op hul ouderdom kon droom. Dit het sy voordele, maar stel ook uitdagings. Daarby erf hulle ’n siek aarde saam met die  talle ander probleme waarmee ons op die ondermaanse worstel.

Toe kom Covid-19 boonop net vóór hulle hul volgende treetjie die wye wêreld in moet gee: Met ’n pas verworwe matriek of graad wat hulle hoop deure sal oopmaak.

Dit wil lyk asof tieners/jong volwassenes se gesondheid die ernstiger effekte van Covid-19 gaan vryspring. Maar wanneer dit by die pandemie se sosiale en ekonomiese mokerhoue kom, is hulle waarskynlik nog meer weerloos as enige ander ouderdomsgroep.

“Sommige pas beter aan as ander,” sê Zay-Dee Mentoor, ’n tweedejaarregstudent aan die Noordwes-universiteit. “Van ons is kwaad, ander angstig, en glo dit of nie, sommige het nuwe perspektief op die lewe gekry en is opgewonde om die post-pandemiewêreld aan te pak.”

“Generation Pandemic.” Só noem die nuustydskrif TIME hulle onlangs op die voorblad. En: “A global crisis changed their lives. How they respond will change the world.”

Goue ballonne  teen die muur wat 2020 uitspel met ’n string liggies daarby. Maar die twee jongmense op die rusbank is duidelik nie in ’n partytjiestemming nie. Die meisie lyk verveeld en mismoedig, die jong man lê met skootrekenaar en kombers passief op die naat van sy rug.

Vir vandag se jonges is dit inderdaad ’n geval van “Life Interrupted”, soos ondertoe op die voorblad staan.

Zay-Dee Mentoor FOTO Verskaf

Terwyl die Amerikaanse koerant The Atlantic (atlantic.com) verklaar: “Generation C has nowhere to turn.” Generasie C, nie net babas wat in die post-corona-era gebore word nie, maar ook skoolkinders, studente en dié in hul eerste werk. Dis húlle wie se loopbaan,  finansies en sosiale lewe die grootste gevaar loop om te ontspoor.

Hoeveel te meer hier in Suid-Afrika met ons eiesoortige probleme. Só is die harde werklikheid dat baie jongmense moet klaarkom sonder die hulpmiddels noodsaaklik vir suksesvolle aanlyn studie. “Kyk, ’n student in Suid-Afrika het drie dinge nodig (. . .) Die internet, ’n rekenaar en elektrisiteit. Vir jou en  my dalk vanselfsprekend, vir baie van ons landgenote nie,” skryf Rudolf van den Berg, ’n BCom-rekeningkundestudent aan die Universiteit van Johannesburg, tereg in Die Student, netwerk24.com. Dis die minimum, sou ’n mens kon byvoeg.

Geldelike Koorddans

Feit is, wanneer die virus sy greep verslap en ons weer met ons lewe kan  voortgaan, gaan dit waarskynlik nog jare neem vir die ekonomie om te herstel. Ons land s’n was reeds voor die pandemie so te sê op ’n ventilator. Elkeen van ons gaan ’n finansiële  koorddans moet uitvoer. Des te meer jongmense wat hul plek in ’n morsdooie arbeidsmark moet vind.

Ouers, wat heel moontlik self die rieme dunner moet sny, gaan ook nie juis kan help nie. “Ons dink dis ouer mense wat weens besnoeiing hul werk verloor,” sê prof. Renata Schoeman, psigiater en hoof: MBA in gesondheidsorgleierskap aan die Universiteit Stellenbosch Bestuurskool.

“Maar dié wat laaste aangestel is, word gewoonlik eerste afgedank – en dis dikwels jongmense. Werkloosheid onder dié groep (en oor die algemeen) in ons land is reeds so hoog.”

Cara-Lee Compton, wat ook ’n blog, 25andalive.com, oor “mode, kos en allerhande goed” het, vertel die impak van die virus op elke aspek van haar lewe is “amper onwerklik”. “My navorsing vir my LLM staan stil, ek kan nie eens toegang tot die biblioteek kry nie. As jong werkende tref dit my byna nog harder. Ek kry net 60% van my reeds klein salaris as prokureursklerk. Dis moeilik, ek heroorweeg elke dag of ek my klerkskap moet voltooi. Daar is egter nie veel ander opsies nie.”

Volgens Shané Schwartz, ’n onderwysstudent in haar finale jaar aan die Kaapse Skiereiland-Universiteit van Tegnologie op Wellington, moet sy werk om vir haar studies te kan betaal. Voor die pandemie was dit weeksdae tot laatnag op haar voete in ’n kroeg, naweke promosiewerk.

Daarby is sy klasskakel en fakulteitsverteenwoordiger, wat baie tyd verg.

“Weens die lang inperkingstyd is my geld op met geen werksvooruitsigte nie. Almal het simpatie daarmee dat ons studente aanlyn klasloop. Maar ’n groter probleem is hoe ons daarvoor moet betáál?”

Die gedwonge, rustiger pas het Shané boonop tyd gegee om oor haar toekoms te besin. Sy sukkel om haarself aanstaande jaar in die onderwys voor te stel. “Ek het vrese oor hoe die kurrikulum aangepas gaan word en of ons as onderwysstudente gereed is daarvoor. En gaan daar hoegenaamd ’n aanvraag na onderwysers wees ná al die veranderinge?”

Ook matrikulant Nicolette Botha en haar vriende wonder nou “aanmekaar” of hul gekose studierigting die regte een is. “Gaan ons ’n leeftyd studeer om te eindig in ’n mark waar groei gesmoor bly? Ons deel gereeld ons drome om in Suid-Afrika te bly, maar gaan dit moontlik wees met geleenthede vir ons jonges wat deur die virus-versnelde omstandighede platgevee word?”

Nicolette Botha FOTO Verskaf

Geen handeling

Sy ervaar ’n groot eensaamheid onder leerders wat voel asof hulle alleen deur die lewe waad, sê ’n onderwyseres wat anoniem wil bly. Hulle zoom en whatsapp, ja, maar dis nie dieselfde as om fisiek sáám tienerdinge te doen nie. “Daar is ongelukkig nie ’n handleiding oor hoe om in dié pandemie-tyd te leef nie. Vir tieners het die ongeskrewe reëls en uitdagings onverhoeds van groepsdruk na eensaamheid verander;  van ’n oorvol program na ’n saai bestaan. Alle sosiale aktiwiteite het eensklaps verdwyn. Hulle lewe nou in ’n wêreld waar ouers en onderwysers op hul eie probleme en oorlewing moet fokus. Dit kan veroorsaak dat leerders minder ondersteuning kry as waaraan hulle gewoond was. Uiteindelik moet elke jongmens stoei om sy eie handleiding te skryf vir dié vreemde en onseker tyd.”

Prof. Schoeman beaam die verlies aan ’n sosiale lewe is vir tieners ’n dilemma. Sosiale isolasie in dié tyd van hul identiteitsontwikkeling maak hulle vatbaarder vir angs en depressie. “Op ’n manier is hulle nogal veerkragtig. Hulle is tegnologies vaardiger as hul ouers en gewoond om só te kuier. Tog mis hulle die fisieke interaksie met vriende.”

Om afhanklik van die tegnologie te wees om jare lange vriendskappe te koester, is inderdaad ’n uitdaging, sê Nicolette. “Saam-saam snuffel ons aanlyn vir unieke apps en kortpaaie om op hoogte van mekaar se doen en late te bly. Daaglikse WhatsApp-boodskappe is nou die beste uitreik en Zoom die troue staatmaker om gereeld  vir Bybelstudie bymekaar te kom. ’n Aanlyn bordspeletjie, of net gesels, die warm kampvuur teen die angs as jy pouse jou moontlik besmette masker moet afhaal om jou toebroodjie te eet.”

Toe Covid-19 by die voordeur instap, het skoolrituele en -sport by die agterdeur uitgevlieg. Nicolette praat van “’n knaende gevoel van verlies” aan dít wat kon gewees het. “Ons mooi tradisies, soos die kerkafsluiting, saamsing-byeenkomste, koortoere en -optredes en ons veelbesproke matriekafskeid en -vakansie, staan op spaghetti-bene met die virus as hardgebakte taakuitdeler.”

Nadat hulle eers nuuskierig vrae gevra het (“gaan daar nog ’n interskole wees?”, “wat van die akademie?”, “wat van al die danse en matriekafskeid?”), gevolg deur optimisme, het die realiteit uiteindelik ingesink, vertel Bernard van Jaarsveld, ’n matrikulant aan Greykollege, Bloemfontein. “Ons matriekjaar is, in vergelyking met die verlede, omvergewerp. Baie het moed verloor. Ander het hulle in hul skoolwerk gewerp. Nog ’n groep het op ander  dinge begin fokus, sien eenvoudig nie die nut om hul skoolwerk te doen nie.”

Bernard, wat aanstaande jaar rekeningkunde op Stellenbosch wil gaan swot, moet gewoond raak aan die idee dat hy sy eerste jaar waarskynlik aanlyn sal moet aanpak. “Soos ons in matriek baie goed nie kon beleef nie, gaan ons dit dalk in ons eerste jaar ook misloop.” Ook Nicolette verwys na die “teleurstellende moontlikheid” dat sy en haar vriende “afgesonderde tuisblyeerstejaars gaan wees”.

Cara-Lee Compton FOTO Verskaf

Geen sin!

Soveel van haar vriende het al oorweeg om op te skop, sê Zay-Dee. “Dis hartseer om te sien hoe baie van ons moed verloor en sukkel om daaglikse struikelblokke te oorkom.”

Daar’s ’n byna nihilistiese gevoel onder tieners en jongmense dat die lewe betekenisloos is, volgens prof. Schoeman. “Ek kan netsowel opgee en volgende jaar weer my studies aanpak.” Of: “Wat is die sin om ná matriek te gaan studeer, ek gaan tog nie werk kry nie.” Die teenoorgestelde is egter ook waar, sê sy. Hulle doen nou meer lewenskennis op, het dalk meer verantwoordelikhede. Studente is tydelik terug by hul ouerhuis, vir baie dalk ’n teleurstelling. Daar kan hulle egter iets beteken: Hul ouers met die tegnologie help, wat hulle soveel beter verstaan. Hul jonger sibbe met hul skoolwerk bystaan 

Leerders word gedwing om grootmensbesluite te neem, volgens Rudeé Barker, wat by Grey-kollege vir matrieks ekonomie gee. Met die skool se eerste Covid-19-geval moes negentien koshuiskinders aanvanklik vir die isolasietyd in ’n gastehuis gaan bly. Later het hulle die keuse gekry om die res van die tyd by hul ouerhuis deur te bring. Vyftien het besluit om vas te byt, bang hulle steek dalk hul gesin aan. “Terwyl elke ou se instink sekerlik is om huis toe te gaan, het hulle hul geliefdes se belange eerste gestel.”

Geduld! sê Zay-Dee met gevoel. Haar ouers, albei onderwysers, hou nou onder moeilike omstandighede skool. Sy´ moet haar dae met ’n bedrywige agtjarige boetie deurbring. “Die beste raad wat ek aan gesinne kan gee, is om op ’n gesonde manier te kommunikeer.”

En Cara sê: “Dis belangrik dat ons mekaar herinner dat ons weer sal kan droom. Dat die ekonomie sal herstel, daar werkskepping sal wees. Ons mekaar aan die lewe sal hou en nie toelaat dat die virus ons drome vernietig nie!”

Oftewel: Kies hoop bo vrees.

Bernard van Jaarsveld FOTO Verskaf