Met elke episode het Hetta van Deventer-Terblanche haar hart op haar mou gedra. “Dit was moeilik om deelnemers huis toe te stuur. Maar ons moes onderskei, sonder om ons menslikheid te verloor. The process is ugly, but we’re not.

“Ons het dikwels snot en trane gehuil, hulle moes by tye verfilming gestop het,” beaam Sam Woulidge, medebeoordelaar, laggend. 

Die Kokkedoor-beoordelaars: Sam Woulidge, sjef Nic van Wyk en Hetta van Deventer-Terblanche. FOTO kykNET

Volgende Donderdag om 20:00 begin die derde seisoen van die gewilde kykNET-koswerklikheidsreeks Kokkedoor. 20 onthoukokke, boffins van hul eie huis se kombuis, en 10 professioneel opgeleide kinkelkokke ontmoet Sam en Hetta saam met sjef Nic van Wyk in die alombekende Kokkedoor-stoor.

Deelnemers, wat uit duisende inskrywings gekies is, kom van alle uithoeke in die land, van George tot New Castle.

Paul Venter, vervaardiger, sê Kokkedoor 3 is aangepak op die publiek se aandrang. 

“Dit was oorweldigend, kykers wou weer ’n seisoen van die moederreeks sien.” 

Dis juis danksy die gewildheid van die eerste reeks, wat op Prins Albert verfilm is, dat ander Kokkedoor-familielede uitgedink is: Koekedoor, Kokkedoortjie en Koekedoortjie.

Woensdag kon media die nuwe Kokkedoor-stoor tydens ’n amptelike voorskou sien. Minimalisties met ’n tikkie drama. “Ons eie interpretasie van art deco. Dis ’n ode aan Kaapstad,” sê Sanet Olivier, regisseur.

FOTO KykNET
FOTO kykNET

Sy verklap dat dié seisoen talle kinkels en klitsers gaan inhou. "Reeds met die eerste episode moes 10 onthoukokke die stoor verlaat."