Hy sing weer voor in die koor by vanjaar se KKNK met sy show Van Babilon tot Bloedrivier, so tussen rumoerige gehoorlede deur. Hester Carstens het met hom gesels tussen sy twee shows op Woensdag 8 April – en vasgestel hy weet nog nie van SARIE se nuwe webwerf nie . . .

Hoe’t die show so pas gegaan; is dit lekker by die KKNK?
Die show was lekker, maar nie heeltemal so nice soos gister s’n nie, die mense was maar so half gevrekkerig. Dis ’n héérlike fees, en dis lekker in die week, want daar’s minder mense, ’n mens kan makliker rondbeweeg en parkeer en so.

So jy sê jy raak gewoond aan die rooies so vroeg in die oggend? (Die Burger het op 8 April berig dat Koos op die vorige dag om tienuur in die oggend met ’n bottel rooiwyn in die hand op die verhoog verskyn het.)
Wel, ja, ek raak nou nie dronk nie, maar ek het agtergekom ek kan nie sing sonder wyn op die verhoog nie. Koffie of Coca-Cola werk glad nie. Ek moet maar die glasie wyn langs my hê.

Dis nou 20 jaar ná Voëlvry. Wie dink jy is waardige opvolgers daarvoor, so in die tyd van Zuma?
Dis moeilik om te sê, die situasie verskil. Voëlvry was maar ’n paleisrevolusie onder Afrikaners, nog so een sal nie help nie, Afrikaners het verander. Nuwe mense sal almal moet deel aan patriotisme, dit kan nie net ’n klomp snaakse Afrikaanse ouens wees nie. En een ou is nie genoeg nie, dit gaan oor samewerking. Maar daar’s hoop. Kyk, wanneer laas kon ons politici in dié land vertrou, meer as 50 jaar laas. Almal raak nou gatvol, dis nie meer ’n wit-swart ding nie.

Hoe gaan dit met die nuwe memoires?

Hy’s feitlik klaar, dit was baie lekker, baie terapeuties. Dit sal so teen Kersfees op die rak wees, in Engels en Afrikaans tegelyk – Die tyd van die kombi’s en Short Drive to Freedom.

Wat dink jy so terwyl jy bestuur? (Koos se Beyerskloof-geborgde bussie sê “Wees versigtig, Koos dink en bestuur”.)
Nee, ek’s baie versigtig met drink en bestuur, baie streng met myself. Ek’s maar senuweeagtig, en nie net vir die polisie nie.

Sal jy ’n 2010-sokkerwedstryd gaan kyk, of net as die Dalai Lama kan saamkyk?
Dis die grootste ironie, ek’s baie entoesiasties oor 2010 al is ek glad nie ’n sokker-fan nie. Ek dink dit sal baie goed wees vir toerisme, ’n goeie inspuiting. Maar sokker is vir my so ’n bietjie soos skaak, ek verstaan nie die reëls nie. Koos klink ten slotte nogal uit die veld geslaan toe ek vra of hy weet dat SARIE ’n splinternuwe webwerf het waarop hy nou gaan verskyn . . .