Preke wat ’n mens moed gee dat almal in hierdie ou wêreld nog nie uitverkoop het aan gierigheid en oneerlikheid nie. Daar is goeie mense oral om ons. Mense wat meer as hul woord hou. Mense wat omgee.

Ons almal ken die grappe oor stereotipes: vaal rekenmeesters, verstrooide professors, dom voorspelers, eksentrieke kunstenaars . . . En dan natuurlik die skelm tweedehandsmotor-handelaar.

Van laasgenoemde het ek onlangs weer nuwe hoop vir die mensdom gekry. Skaars het ek ’n “nuwe” ouerige motor gekoop met die versekering van die verkoopsman dat dit ’n uitstekende koop is, of die duur outomatiese ratkas gee die gees. Nog voor ek eers een langpad kon aanpak. So gou ná die opwinding van kar koop. En vir ons vroulike lesers wat daardie opwinding nog nie verstaan nie, glo maar net: Dis ’n koors onder die manlike geslag waarvoor daar nog nie ’n medisyne ontdek is nie. Ieder geval, ’n opgewondenheid wat minstens ses maande moes duur, het skaars twee weke gehou.

Dis asof ek dit wat sou volg byna woord vir woord kon voorspel. Die gekompliseerde reëls van die maatskappy. Die moeilike situasie met die kontrakbepalings. Die moontlikheid om dalk in die toekoms afslag op ’n ander motor te kry. Die versekering dat die koop, ten spyte  van die onvoorsiene ratkasprobleem, tog ’n baie groot winskoop was. Ek was gereed om op ’n hopie te gaan sit en wonder waar ek dit dan gemis het. Ek was dan só oortuig dat hierdie ’n uiters verantwoordelike en weldeurdagte besluit was, al het ander partye gemeen dat ’n jeukery eerder as diep denke aanleiding gegee het tot die oortuiging dat die tyd aangebreek het om die klein motortjie te vervang. Waar het ek dit gemis?

En toe, soos ’n vars bries, kom die versekering. Ons naam is vir ons belangrik. Die probleem is ons s’n, nie joune nie. Moet jou asseblief nie bekommer nie, jy sal nie ’n sent hoef te betaal nie. Vergeet van die kontrak wat jy geteken het dat jy die motor in goeie werkende toestand ontvang het. Dis die beginsel wat tel. En ons jare lange vriendskap.

Die beste preke het nie ’n kansel nodig nie, net ’n lewe. Wanneer mense se lewens spreek, juig die hemele. Dan is dit soos Kersfees. Heilig. Selfs tussen tweedehandskarre.

Gee iemand ’n present. Die preek van jou lewe.