Waarna kan kinders uitsien noudat Krynauw van Egoli weer Hannes van Wyk en lynbestuurder by Homebrew Films is?
Stories! 7 nuwe reekse. Net in Afrikaans (eers later ook Engels). Op DStv. Kanaal 307.
Dié nuwe kanaal genaamd KOOWEE skop op 4 April af en saai uit vir kinders van 0 tot 6 jaar, van soggens 5-uur (wanneer party woelwaters begin woel) tot saans 7-uur.
Grootmense kan hul ore oophou vir die stemme van Nic de Jager, Marion Holm, Margit Meyer-Rödenbeck en ander. Mynie Grové, Pedro Kruger en Niël Rademan is van die name wat vir die musiek sal sorg. Waaroor die kinders meer gepla sal wees, is Trixie en Wagter, Juffrou Vis, Tjiff en Tjaff, die Diereland-tweeling, en Matilda, die onverskrokke verslaggewer van Die Muisgenoot – drama en trane is haar kos! En die hele ding het Hannes so opgewonde soos ’n kind, het André le Roux agtergekom:

Waarom ’n nuwe kinderkanaal?
In hierdie tyd van geweld, TV-speletjies en flieks is dit tyd dat kinders weer iets kry waarmee hulle kan indentifiseer. Gesonde vermaak oor dinge wat vir hulle belangrik is en hulle laat lag.

Wat laat ’n kind lag?
Vir ’n kind tot 6 jaar is die visuele baie belangrik.

Hoe werk ’n kind se kop?
Ons onderskat soms kinders. In die reekse wat ons vervaardig, probeer ons by die kind se leefwêreld aansluit, dat hulle meer leer deur vermaak.

Jou eie gunsteling-programme toe jy 'n kind was?
Beslis Liewe Heksie en Haas Das!

Jou mooiste kinderherinnering?
Rondom my ma, alles wat hulle vir my gegee het as ’n kind.

Wat kan grootmense by kinders leer?
Iets wat ek elke dag by kinders leer, is hul naïwiteit en die absolute onskuld wat hulle het en waarin hulle glo.

Hoe kan ons hierdie land ’n beter plek vir ons kinders maak?
Deur hulle kans te gee om na gesonde vermaak te kyk, om nie van hulle te verwag om grootmense te wees nie.

Wat doen ’n lynvervaardiger?
Dit klink baie belangriker as wat dit is (dink ek). Ek is baie betrokke by die kreatiewe kant (konsepte, tekste, ensovoorts). Die lynvervaardiger is ook die een wat die finale sê het voor die stuk na die kanaal toe gaan.

Jy gaan weer ’n laaste draai in Egoli maak?
Dis fantasties om elke aand in my eie bed te slaap en nie so baie te reis nie. Maar ja, ek gaan van 10 Julie tot 10 Augustus terug en dit klink na ’n heerlike storielyn, want dis dan die einde van Egoli!