Waar woon jy?

Ek en my man, Dolf, woon tans in die Kaaimanseilande, wat bestaan uit Groot-Kaaiman, Kaaiman-Brac en Klein-Kaaiman. Brac en Klein-Kaaiman het merendeels net verblyf vir toeriste en basiese infrastruktuur. GrootKaaiman, waar ons woon, is die grootste en ons het meer infrastruktuur met besighede, winkels en selfs ’n bioskoop.

Hoe lank is julle al daar?

Ons het in Desember 2016 hierheen verhuis.

Watter werk doen jy?

Ek is ’n arbeidsterapeut by ’n private praktyk op die eiland wat spesialiseer in pediatrie. My man is ’n geoktrooieerde rekenmeester vir PwC. Hier is geweldig baie finansiële poste omdat geen belasting op die eiland gehef word nie en dus is dit voordelig vir besighede om hier te registreer. Die eiland is besig om te ontwikkel en hier is dus iets vir almal.

Stingray City, waar jy met die pylsterte kan speel
Stingray City, waar jy met die pylsterte kan speel, van bo gesien

Hoe ver is die eiland van Amerika?

Dis geleë net onder Kuba en ’n vlug na Miami duur so ’n uur na ’n uur en ’n half en so vier uur na New York. Dit maak reis in Amerika baie gerieflik. So mooi soos wat die eiland is, is dit maar klein en ons probeer so een maal elke drie maande weggaan, al is dit net vir ’n langnaweek, om die eilandkoors te breek.

Sunset over the pier at Rum Point, Grand Cayman
Spotts-strand, waar jy in die helderblou water saam met die skilpaaie kan swem.

Het jy al saam met skilpaaie en pylsterte geswem?

Ons het al en geniet dit vreeslik om die skilpaaie en pylsterte in hul eie habitat te sien. Snorkel hier is fantasties omdat die water so skoon en deursigtig is – mens sien byna netsoveel soos die duikers. Jy kan byna enige plek van die strand sowat 100 m tot 200 m inswem en jy behoort ’n pragtige ongerepte rif te kry waar die seelewe gons. Daar is een strand, Spotts, waar ons altyd gaan snorkel om na skilpaaie te kyk. Dis nie die beste strand vir swem nie want daar is seegrasse, maar dis juis waaroor die skilpaaie so mal is. Die kans dat jy daar een sal sien, is byna 100%, dus vat ons altyd vriende en familie soontoe. Soms sien jy tot vyf op een dag. Om saam met die pylsterte te swem is ’n kort bootrit na ’n sandbank waar hulle bymekaarkom. Die mense het al name vir al die pylsterte wat kom kuier.

Spotts-strand, waar jy in die helderblou water saa
Spotts-strand, waar jy in die helderblou water saam met die skilpaaie kan swem. FOTO Getty Images / Gallo Images

Duik jy ook?

O ja, ons is ywerige duikers en het ons eie duiktoerusting aangekoop. Meestal swem mense sommer na die rif toe en is dit nie nodig om van ’n boot af te duik nie. Die water is baie stil om die eiland en glad nie gevaarlik soos in SuidAfrika nie. Dus hoef jy ook nie saam met ’n instrukteur te duik nie. Die duik is beeldskoon en die sig onder water is baie goed. Ons gunstelingplek om te duik is een van die koraalriwwe op die rand van die tektoniese plaat. Hier val die seebodem eensklaps en word die blou van die water byna grys. Dis so oneindig diep, mens kry byna hoogtevrees as jy oor die rif swem. Dis ’n belewenis wat ek nie in woorde kan omskryf nie. ’n Ander gunstelingduik van ons is ’n bekende oorlogskip wat in die omgewing gesink het.

Sunset over the pier at Rum Point, Grand Cayman
Dolf vang kreef vir later se braai op die strand.

Wat behels Seerower-week?

Dit vind een maal per jaar plaas en is nogal groot pret met sierwaens en parades waar almal soos seerowers aantrek. Op die laaste dag is daar ’n groot vuurwerkvertoning in die hawe vir jonk en oud. Die eiland het ook ander groot gebeurtenisse soos Batabano. Dis ’n ou tradisie, byna soos die karnaval in Brasilië, wanneer die plaaslike inwoners hul helder en blink kostuums met vere aantrek en in die straat daarmee paradeer. Hier was ook vanjaar ’n musiekfees op die eiland, KAABOO, met wêreldberoemde musikante soos Flo Rida, The Chainsmokers, Shaggy, Jason Derulo, Duran Duran en Blondie wat opgetree het. Dit was so ’n groot sukses dat die organiseerders besluit het om dit weer volgende jaar aan te bied en ons hoop dit word ’n instelling.

Sunset over the pier at Rum Point, Grand Cayman
Saam met Lora en Hannes Haasbroek, Suid-Afrikaners wat tans in Atlanta bly, by die KAABOO-musiekfees.

Wat is jou gunsteling-eilandgereg?

Die eiland en die hele Karibiese gebied is bekend vir “jerk chicken”, ligte gemarineerde hoender wat ’n bietjie brand en gewoonlik saam met rys en bone voorgesit word. Mens kan egter nie nee sê vir vis as jy op ’n eiland bly nie en ons gunsteling is maar vars tuna of “mahi-mahi” – dorado soos Suid-Afrikaners dit ken. Die eiland het baie restaurante en mens kan byna enige gereg kry waaraan jy kan dink, hoewel dit ongelooflik duur is om uit te eet. ’n Hoofgereg teen die huidige wisselkoers kan jou maklik R440 uit die sak jaag. Hier is selfs ’n Suid-Afrikaanse gangetjie in een van die winkels waar jy blatjang kan kry as jy gelukkig is. Nog ’n winkel maak hul eie boerewors en kan nie voorbly nie. Die resep is deur Suid-Afrikaners vir hulle gegee en hulle noem dit ook “South African-style Boerewors Sausage”.

Is die mense konserwatief?

Die inwoners is baie gelowig. Op Sondae is al die winkels toe en jy moet maar jou inkopies Saterdagaand doen, want al wat jy op ’n Sondag sal oop kry, is ’n petrolstasie. Ons het maar by ’n kerk aangesluit waarheen al die Suid-Afrikaners gaan. Hier is baie landgenote op die eiland en ons vorm ’n baie lekker gemeenskap.

Een van die kleurryke strate in George Town, die e
Een van die kleurryke strate in George Town, die eilandgroep se hoofstad.

Mis jy die humorsin van Suid-Afrikaners?

Mens sal Suid-Afrika altyd mis – die humorsin, ons familie, vriende, braai en biltong. Ons is gelukkig dat hier so baie Suid-Afrikaners is en ons so lekker Afrikaans kan praat. Daar sal naweke verbygaan waar ons nie ’n woord Engels hoef te praat nie. My man sê altyd hy praat meer Afrikaans by sy werk as wat hy in Johannesburg gepraat het. Dit maak egter nie altyd op vir jou mense nie. Een nadeel hier is die feit dat ons sewe uur agter Suid-Afrika is. Dit maak dit moeilik om met die mense by die huis te kommunikeer. As ons wakker word, dan is dit al middag by hulle en as ons klaar is met werk, is dit middernag.

Kry julle gereeld orkane?

Die Kaaimanseilande is geleë onder Kuba en links van Jamaika en dié eilande beskerm ons ’n bietjie teen die groot orkane, wat gewoonlik van Junie tot einde November voorkom. Dis nie noodwendig lewensgevaarlik nie omdat hier goeie infrastruktuur is in terme van skuiling, en mense koop maar blikkieskos en water as voorbereiding vir as een die eiland tref. Hier is ook orkaanbeplanning vir buitelanders en indien ’n groot orkaan op pad is, sal hulle die meeste mense probeer uitvlieg. Die laaste ernstige orkaan was die kategorie 5-een Ivan in 2005 wat groot dele van die eiland verwoes het, met baie plekke wat drie maande sonder krag was.

kuberkuier
Saam met ons is ons vriend Tiaan Snyman, wat uit Suid-Afrika kom kuier het.

Padreëls wat jy nie aan gewoond kan raak nie?

Die eiland is klein en hier is nie regtig groot paaie nie. Die eerste dubbelbaanpad is maar onlangs hier gebou. Dus ry ons nie sommer vinniger as 60 km per uur nie. Wanneer ons in Suid-Afrika kuier, is ons skoon angsbevange oor die spoed wat die mense ry op die snelweë. Die son- en seeskade aan die motors is ook duidelik sigbaar op die eiland. Dus ry die meeste mense maar ou karretjies wat hulle net van plek A na plek B kan vat. Mens wil ook nie te jammer voel vir jou motor nie, want dit het alewig sand binne. Dis maar die eilandlewe.

Jou naaste winkel?

Ons naaste winkel is so twee kilometer van ons af en hier is net drie op die eiland. Meeste van die produkte word per boot van Miami af ingevoer. Dit maak dit dus baie moeilik om vars vrugte en groente te kry, want ná die seereis is hul raklewe al taamlik kort. Ons het al hoeveel keer groente en vrugte gekoop wat ons die volgende dag moes weggooi, want met die hitte hou dit eenvoudig nie. Die niebederfbare produkte is maar baie Amerikaans. Die pryse is weer eens baie hoog omdat dit ingevoer word. Ons kry wel goeie beesvleis van Amerika af, so mens braai meer biefstuk as wat jy dink. Ongelukkig is die skaapvleis nie waffers nie en ek sal wat wil gee vir ’n Karoo-tjoppie. Die vis is egter baie vars en daar is ’n markie waar die plaaslike vissermanne dit verkoop.

Sunset over the pier at Rum Point, Grand Cayman
Die son sak oor die Seven Milestrand ná die dag se skepbordry (standup paddling).

Hoe duur is dit om te reis?

Ons het aanvanklik gekom met die doel om te reis en die wêreld te sien en dit is wat ons doen. Ons het al ’n groot deel van Amerika gesien en was al in Miami, New York, Austin in Texas, Nashville, Chicago, Boston, Mexico, Breckenridge in Colorado, asook Kuba. Die vliegtuigkaartjies van die eiland af is heel billik en dit kos so $300 om Miami toe te vlieg en $400 New York toe. Dis duur in rand, maar as jy dollar verdien, is dit nie so erg nie. Mens kan ook nie regtig klere koop op die eiland nie, dus probeer ons maar ons wegbreke kombineer met ’n inkopie-ekspedisie. Alle pryse op die eiland is in Kaaiman-dollar, wat gelyk is aan sowat 1,20 Amerikaanse dollar. So die wisselkoers is vir eens aan ons kant as ons reis.