Jy kan nie stry nie dat jou voete begin jeuk wanneer Kurt Darren “Loslappie” of “Meisie meisie” sing, of jy nou ’n aanhanger is of nie. Dis juis aan ritme dat hy die hardste werk, sê hy. Soos hulle op Engels sê, soft-spoken. Wat dadelik opval, is sy diep-blou oë en perfek-gevormde neus. Sy kuif staan regop en sy hare blink. Ver in die verlede lê die dae toe hy skouerlengte hare en ’n oorbel gedra het. Hy het netnou met ’n donkerbril op uit ’n restaurant op Langebaan gevlug. Almal wil ’n stukkie van hom hê – al is dit net om aan sy hand te vat. “My pa, Koot, het my geleer om altyd my hande en naels te versorg, al is ek nie ’n metro-man nie,” sê hy met ’n skamerige glimlag. Ons gesels in ’n tent op Langebaan waar Kurt dié aand sal optree. Tussenin spring hy op die verhoog en toets die klank, heupswaai en al. ’n Swaar man bó op ’n leer wikkel sy heupe saam. ’n Paar Langebaners wat agter die skerms werk, som Kurt só op: “Doelgerig”, “’n lojale vriend”, “jy weet waar jy met hom staan”, “een van die nice-ste kunstenaars”. Kurt gaan akkoord met “jy weet waar jy met hom staan”: What you see is what you get, sê hy. En hy weet wat hy wil hê. “Ek werk kliphard om die lirieke en musiek van elke CD nog beter te maak as die vorige een. Ek kompeteer net met myself.” Van trollies in ’n supermark stoot tot die enigste Afrikaanse sanger wat verlede jaar genooi is om aan oud-president Nelson Mandela se 90ste verjaardagviering in Londen deel te neem. Hy is ook pas vir 3 SAMA’s (South African Music Awards) benoem: beste sokkie/dans-album, MTN se album van die jaar en die beste Afrikaanse DVD, Treffers Live. Daarby is hy al SA kunstenaar wat 8 dubbelplatinum-albums (80 000 verkope per eenheid) ná mekaar kon regkry. Sy CD Sê net ja het driedubbele platinumstatus (120 000) verwerf en sy 15de album, Uit die diepte van my hart, het verlede jaar binne die eerste week van uitreiking platinumstatus bereik. Verkope staan tans op 110 000. Radiostasies speel ook gereeld sy Engelse liedjies soos “Standing on the Edge” en “My Facebook Song”, en in Mei word sy nuwe Engelse album uitgereik. Tussendeur bied hy ook nog op Sondagaande die musiekprogram Jukebox op kykNET aan. Van kinders tot oumas hou partytjie op Kurt se musiek. “Ek maak pop-dansmusiek, maar gooi ook ballades tussen-in,” vertel hy geesdriftig. Wanneer ek ‘Af en af ’ sing, sak die hele gehoor af en met ‘Staan op!’ is almal weer op hul voete.” Hy’s gaande oor sy aanhangers, maar “mense moenie my persoonlike ruimte binnedring nie. Soos wanneer ek eet en die sous nog aan my mondhoek sit.” Hy hou nie van sterbehandeling nie. “Dis dan juis my aanhangers wat sorg dat ek ’n wildplaas kan bekostig!” Oor die man met die kenmerkende heupswaai hoor jy nooit skandale nie. “Nee . . . Ek gedra my. Daar is kinders wat my dophou.” Vir hulle is hy net Kurt, nie “oom Kurt” nie. En daarvan hou hy . . . Jou liedjies is al in verskeie tale vertaal. Hoe vaar hulle?
Goed! Dit word in België, Nederland en Duitsland gesing. “Meisie meisie” heet “Mooiste Meisje” in Nederland en “Hallo Susse” in Duitsland. Jan Smit, ’n Nederlandse sanger, het ’n CD uitgereik waarop twee van my liedjies, “Sê net ja” en “Staan op!”, as eerste en tweede snit verskyn. Hy het al 300 000 CD’s verkoop! Wat is jou reaksie as ander neerhalend sê jy maak kommersiële musiek?
Ek sê: Luister mooi na die gehalte van “Hemel op Tafelberg”. (Don Kelly en Marc Brendon het help skryf.) My musiek het meer vleis as dié van die sogenaamde doef-doef-kunstenaars. Buitendien, hoekom sou ek musiek wou maak wat nie verkoop nie? Ek kan ’n sukkelbestaan voer óf sekerheid vir my kinders opbou.
Hoe voel jy oor backtracks?
My gehoor verwag dat my liedjies op die verhoog presies nes dié op my CD moet klink. Maar die verhoë is te klein vir al die instrumente wat ek benodig. So, ja, ek gebruik backtracks. Maar ek sing wel elke noot. Om te mime is om te kul!
Mel Botes en Dozi het in 2007 die CD Travelin’ Buddies saam met jou gemaak. Mel (’n vriend) wil weet of jy sy rofstoei-partner wil word. Hy reken daar’s ’n hele paar Afrikaanse sangers wat hy in die kryt wil uitdaag!
Ja, ek sal, maar ek sal nie daardie uitspattige kostuums dra nie! Wat die kunstenaars betref, I would rather kill them with kindness.
Jy sing die pragtige liedjie “Dis jy” saam met Coenie de Villiers op sy album Weerlig oor die see. Hy sê jy’s een van die mees professionele musikante, ’n one take-man. Speel die feit dat jy nie welgesteld grootgeword het nie ’n rol?
Beslis. Ek wil nie teruggaan na die dae toe ek trollies in Checkers gestoot het nie. Ek het alles gehad wat ek moes hê, maar nie weelde nie. Ons was nege kinders (vier is stiefbroers en -susters uit sy pa se vorige huwelik) en wanneer daar ’n skooluitstappie was, het ons gewerk om geld te kry om te kon saamgaan.
Coenie sê jy moet vertel wat in 2008 agter die skerms van die 46664-konsert in Londen gebeur het.
Ek wou graag ’n Afrikaanse vertaling van my ballade “Standing on the Edge” sing. Maar toe sê die organiseerders ek moet “Gimme hope Jo’anna” saam met Eddy Grant sing. Dis ’n bekende anti-apartheidsliedjie. Ek het gevoel apartheid is lankal verby, Suid-Afrika het gevorder. Grant wou boonop hê ek moes net die koorgedeelte saamsing. Ek sê toe op ’n mooi manier nee, ek sing ook twee versies. Ek moes op my tong byt, maar ek het besef die geleentheid is groter as ek. Agterna het Grant ook nog gesê ek het ’n Jamaikaanse aksent gehad. Selfs Queen se bestuurder het om verskoning gevra vir die behandeling. Dit was nietemin ’n groot voorreg om te kon optree.
Wie was jou gunstelinge onder die sterre daar?
Beslis Will Smith en Elton John. Will is so ’n knap akteur, so snaaks en so gewild, selfs ander kunstenaars agtervolg hom. Ek was ook nog altyd ’n groot Elton John-aanhanger. Toe ek hom ontmoet, was die oomblik so groot dat ek hom per ongeluk Mister John genoem het. Kan jy dit glo? Die man is ’n Sir! Hy het my genooi om by hom te staan vir ’n foto. Hy is glad nie ’n diva nie.
Jou bewonderaars is glo besonder getrou?
Daar’s vroue wat vier van my shows ná mekaar in verskeie groot stede bywoon. Hulle sê dis vir hulle soos ’n sport, want hulle geniet dit om te sien hoe mense oral anders reageer.
Wat is die weirdste ding wat ’n bewonderaar al gedoen het?
Dit bly vreemd as vroue wat ek glad nie ken nie hul liefde aan my bely. Daar was al een wat klaar die trourok en ring uitgesoek het. Ek dink sulke mense voel ’n bond tussen ons terwyl ek sing. Maar soms raak dit scary.
Lienkie Bosman, ’n bewonderaar van Bellville, wil meer weet van die heupswaai . . .
Ek is glad nie ’n danser nie. Toe ek “Meisie meisie” begin sing, het ek my lyf gegooi. Dit het natuurlik gekom, ek beweeg net op die ritme.
Jy het ’n huis in Johannesburg, ’n vakansiehuis op Langebaan, ’n wildplaas in die Limpopo-provinsie en verskeie ander eiendomme. Hoekom so baie?
Deur in eiendom te belê, beskerm ek net dít wat ek het. Dis altyd ’n goeie belegging.
Whitey Basson, besturende direkteur van Shoprite-Checkers, is een van jou vriende. Jy het al gesê hy’s jou rolmodel. Hy sê weer aan SARIE jy is “ ’n baie agtermekaar mens met ’n goeie sakebrein”. Wat is die grootste sakeles wat hy jou geleer het?
’n Toe bek is ’n heel bek! Maar dis nie altyd maklik om nie te reageer wanneer iemand onwaarhede oor my kwytraak nie.
Jy neem aan verskeie adrenaliensporte deel, soos skubaduik en valskermspring?
Ek het ook al saam met haaie geduik, sonder ’n hok! Wanneer ander uitdagings kom, soos toe ek een nag aangerand is, kan ek koelkop bly. Dis ironies dat gevaarlike sportsoorte juis toe my lewe gered het.
Ernst Hugo,’n goeie vriend, vra of jy en jou meisie, Dunay Nortjé, daarvan sal hou om ’n romantiese naweek in Kraalbaai, Langebaan, op sy seiljag deur te bring.
Ek wens ek kán net ’n naweek saam met my meisie deurbring! Ek werk elke naweek. Die Kraalbaai-ding sal ’n lekker bonus wees.
Jou pa sê jy wil graag ’n gesin van jou eie hê?
Ja, ek wil soveel moontlik kinders hê. Ek sal dit so geniet om my dogter op haar eerste dag skool toe te neem of saam met my seun vis te vang. Tans is dit net onmoontlik, ek’s so min tuis. Ek wil my kinders baie aandag gee, nie my baba twee maande lank net los nie.
So jy’s nie sku vir trou nie?
Nee, glad nie. Ek en Dunay wil trou, maar kan nie nou nie. Dit sou selfsugtig wees. My loopbaan is op sy kruin en ek benut dit nou.
Wat maak Dunay spesiaal?
Sy stel in my as méns belang. Sy is eerlik, vriendelik en ongelooflik beeldskoon. Ons reis ook gemaklik saam oorsee. In ons meer as vier jaar bymekaar het ons nog nie vasgesit nie.
Trevor, jou broer (’n sjef), vra watter driegangmaal (wat jy self kan berei) jy vir Dunay sal wil maak?
Butternut-sop, volstruisfilet en malvapoeding. Saam met ’n goeie rooiwyn, soos ’n Mulderbosch Faithful Hound of iets van Kanonkop.
Hoe het roem jou lewe verander?
Dit het my nie as mens verander nie, maar wel my omstandighede. Ek is ook waaksaam teenoor ander wat dalk hidden agendas het.
Jou leuse?
Geniet die lewe voluit sonder om iemand anders seer te maak.

TYDLYN

6 jaar oud
Sing liedjies soos “Green green grass of home” vir kuiergaste.

15 jaar
Koop my eerste kitaar. Terwyl ek liedjies skryf, begelei ek myself.

18 jaar
Met langer hare, al singende in ’n klub in Pretoria.

22 jaar
In die Weermag in Potchefstroom, voor ek oorgeplaas is na Voortrekkerhoogte in Pretoria se “Army Band”- vermaaklikheidsgroep.

1995
My eerste Engelse album, For your precious love, word uitgereik.

2002
“Meisie meisie” verwerf dubbel-platinumstatus.

2002-2008
Ál my albums verwerf dubbelplatinumstatus. Sê net ja kry driedubbele platinumstatus. “Meisie meisie” wen ’n Geraas-toekenning vir gunsteling-liedjie van die jaar. Staan op! wen ’n Geraas-toekenning vir beste pop-album van die jaar. Vat my, maak my joune wen ’n Vonk-toekenning vir album van die jaar en “Alleen” vir beste musiekvideo. Ek ontvang ’n Huisgenoot Tempo-toekenning vir beste verkoper van 2006. My album Lekker lekker word vir 4 SAMA’s (South African Music Awards) benoem.

2008
Ek wen 2 Tempo-toekennings: gewildste manlike kunstenaar en gewildste sokkie/dansalbum vir Voorwaarts mars. En tree op by oudpresident Nelson Mandela se verjaardagviering, die 46664-konsert (ook ’n vigsbewusmakingsveldtog). Ek ontmoet sterre soos Sir Richard Branson, Leona Lewis (sangeres), Sir Elton John en Oprah Winfrey. Ek wen 3 Vonktoekennings: beste manlike kunstenaar, album van die jaar vir Voorwaarts mars en die Ambassadeurstoekenning vir my musikale bydrae in die buiteland.

2009
Ek beplan ’n grootste treffers-album en ’n nuwe DVD, en my nuwe Engelse CD verskyn in Mei. Ook ‘n paar groot vertonings vir die jaar.