Die sangers Kurt Darren en Laurika Rauch tree op 14 en 15 Julie saam op by die Volksbladfees in Kurt & Laurika Skoupêl in die Kovsie-studentekerk. Lulu van der Walt, regisseur van dié show, sê daar wag vele verrassings vir die gehoor. Marguerite van Wyk het met Kurt Darren gesels.

Hoekom het jy besluit om saam met Laurika op te tree?
Ná die Kaapse skouspel het Laurika na my gekom en gesê sy het baie respek vir my gekry en baie van ''Kaptein'' gehou. Sy het baie diep dinge gesê en ook dat ek al my talente gebruik. Sy het toe een van my CD's gaan koop en as sy op haar treadmill by die huis geoefen het, het sy na my CD's geluister. Toe besluit sy dat sy 'n show saam met my wil doen. Sy wou liedjies soos ''Kaptein'' sing en dat ek van haar liedjies sing.

Watter liedjies gaan julle saam sing?
So baie. ''Huisie by die see'' van Laurika word ingemeng met ''Hemel op Tafelberg''. 'n Versie van haar koor word ingemeng met 'n versie van my koor. Dit pas soos 'n handskoen. Ons sing ook duette van ''Nostalgie'' en ''Lisa se klavier'', en ek sing van my treffers soos ''Kaptein''.

Hoe voel dit om saam met Laurika op te tree?
Kleedrepetisies is ongelooflik en soveel pret. Sy is 'n absolute perfeksionis. Ná elke repetisie skryf sy 'n lang lys van dinge neer, selfs bewegings, wat ons moet regmaak. Sy ontleed als.

Hoe lyk die stel?
Die verhoog is in twee gedeel. In die middel is niemandsland. Links is die Laurika-deel. Daar is 'n kroonkandelaar, vleuelklavier en dis 'n "donker ruimte". Mý kant is modern. Vol lasers, keyboards en elektriese kitare. Sy open deur te sê "jou kant is bietjie helder" en ek sê "en jóú kant is bietjie donker".

Wat het jy by haar geleer?
Baie meer as wat sy by my kan leer. Gelukkig is ons albei baie stiptelik. Ek het groot respek vir dié soort shows gekry. Dit verg ongelooflike harde repetisies en presisie. En ek het besef hoe belangrik dit is om op te warm voor jy optree.

Watter liedjie van haar is jou gunsteling?
In 1978 het ek haar die eerste keer hoor sing toe my ma my na 'n vertoning van haar geneem het. ''Kinders van die wind'' het 'n gróót invloed op my sangloopbaan gehad en dis hoekom ek ingestem het tot dié show. Ons sing 'n vermenging daarvan en van Leonard Cohen se ''Halleluja''.

Doen julle danspassies saam?
Ja, en dis lekker om saam met haar te werk. Sy ontleed selfs dít. Sy is net só professioneel. 

Hoe gereeld het julle repeteer?
Ons het al vyf repetisies van vyf uur elk agter die rug en gaan nou 'n maand lank rus. Repetisies voel soms te lank, maar Laurika kan net aangaan en aangaan. Ek raak soms moeg ná so drie en 'n half uur. Ons moes onsself albei verby ons grense druk. Maar ek is bly ek het. Dit gee 'n ander dimensie aan my musiek. En sy geniet my musiek ook.

Kan ons 'n CD met duette van julle verwag?
Ek is tans te besig. My Engelse CD, Smiling Back at Me, word Vrydag 12 Junie uitgereik. Maar só 'n CD in die toekoms is nie onmoontlik nie.