Vinzzent en Priscilla drink iets by Max Pub. ''Ken jy vir Kurt Darren,'' vra hulle. Kort voor lank ontdek ek Vinzzent, van die dorpie Breda, in Nederland, is een van Kurt se grootste aanhangers.

Hy het trouens op Kurt se webtuiste gelees dat Kurt op die Snocomber celeb-ski-toer na St Johann gaan kom en gaan optree saam met Elvis Blue.

Net daar en dan besluit Vinzzent hy kanselleer al sy afsprake in Nederland en ry nege ure om vir Kurt te sien. Sy treffer 'Dromendans'' – geïnspireer deur Kurt se ''Bloubergstrand se son sak'' – is immers pas aangewys as 'n goue treffer in Nederland. "(Dit het meer as 10 000 verkoop!)" En sy CD "Droomwêreld", bevat 5 liedjies wat deur Kurt geïnspireer is. (www.vinzzent.nl)

''Ek kom uit 'n baie musikale gesin. Albei my ouers is musikaal. My pa, Willy, woon in Bali en my ma, Aafke, woon in Nederland. Ek sing in Nederlands en in Engels. ''

Hoekom is hy juis sy lief vir ''Bloubergstrand se son sak''? ''Dis besonder positief, maar eintlik hou ek van ál sy musiek. Ek het dit die eerste keer op YouTube gehoor. Ek gebruik nou baie van sy melodieë, maar ander lirieke, en mense ken ook nou sy musiek in Nederland. Ek en Priscille wou hom vanaand kom verras met my CD en hom ontmoet.''

Die oomblik toe Kurt begin sing het, was Vinzzent uit sy nate-uit. ''This is life, this is rock and roll. Dit was absoluut die moeite werd om hierheen te ry.''

En later die aand, toe ek by Kurt hoor wat hy dink van Vinzzent se gebaar, was Kurt nogal aangedaan: ''Wat 'n eer dat iemand soveel moeite doen om al die pad van Nederland te ry. Dis amazing.''