As mens kyk na die foto’s wat saam met sy twiets op Twitter verskyn, is Kurt die toonbeeld van nuwe gesondheid. Hy lyk maerder, en mense kan nie uitgepraat oor hoe hy lyk nie.

"Ek wil nie plankdun lyk nie, maar dankie, ek wil gesond lyk. Gedurende die jare het ek gesukkel met rugprobleme. Ek is by 'n plek DBC wat my nou help met rugoefening. Hulle help veral met strekoefeninge sodat ek lekker aktief kan wees."

Hy stap ook baie, by die huis, op sy plaas. En op die lughawe en by die werk sal ek eerder trappe klim as om die hysbak te gebruik. Elke bietjie help om daardie kalorieë te verbrand.

En ja, hy kyk beslis wat hy eet.
Botter en brood is iets van die verlede. Hy drink báie water, geen koeldrank nie, miskien af en toe vars vrugtesap en mín alkohol. "Ek was nooit `n groot drinker nie. Maar Brutal Fruit en Bacardi Breezers waarvoor ek altyd so lief was, is nét suiker. Ek vermy dit nou. Nou drink ek af en toe wyn saam met vriende in die Kaap."
 
Hy en Dunay eet steeds lekker uit. "Ander ouens raak vet as hulle trou, ek verloor gewig. Dunay is trots op my dat ek dit op die gesonde manier doen. Sy moedig my aan om reg te eet. Gesond eet is vir haar ook belangrik. Ek was vandag by Select Musiek se Kersparty in Johannesburg. Maar vanaand gaan Dunay vir ons hoenderborsies en groente maak."
 
Gesondleef is 'n verandering in jou kop, reken Kurt. En hy voel "fantasties".
"Ek het al die goeie raad by die eienaar van Bains Game Lodge in Bloemfontein gekry. Hy was `n loods en het baie gesonde eetgewoontes. Hy het ook hierdie gesonde groentesop resep. As ek soms bietjie oortree het, dan begin ek Maandagoggend met `n koppie sop wat ek by hom kry. Moenie my vra wat daarin is nie."
 
Ski-toer
Kurt se lyf is gereed vir die celeb ski-toer van 21 tot 28 Januarie (saam met nou reeds 80 mense wat op Facebook en Twitter op die advertensies gereageer het, maar daar is nog báie plek) na St Johann in die Tirool in  Oostenryk. Dunay, die sanger Elvis Blue en voormalige rugbyspelers Naas Botha en Bobby Skinstad gaan saam en Snocomber borg die glansmense.
 
"Ek het nog nooit geski nie en ek en Dunay gaan ons eie ski-instrukteur hê. Ek is mal oor uitdagings en is verskriklik opgewonde," sê Kurt.
 
Kurt het ook sowat 'n maand gelede begin met helikopterlesse. "Dis moeilik, maar fantasties om alleen in die lug jou eie besluite te neem en stel ook uitdagings aan 'n mens se lyf."