Toe die Covid-19-inperking einde Maart afgekondig is, moes amper-bruide soos Christia hul troureëlings heroorweeg. “Ek en my verloofde, Thomas Webb, het dadelik besef ons gaan die trou-makietie ’n jaar moet uitstel, maar ons wou steeds graag vanjaar ons beloftes maak en in die huwelik tree,” vertel Christia vir SARIE.com. 

“Ons het besluit om ’n klein troue in 2020 te hou, maar moes dit drie keer uitstel. Ek het opgegee, maar Thomas het alles die moeite werd gemaak.” Hy het agter die skerms gewerk om haar te verras met ’n troue wat hulle met hul naaste familie en vriende kon vier. 

“Ek het een aand ’n uitnodiging na my eie troue ontvang ... ‘You are cordially invited to the wedding of Thomas Webb and Christia Visser.’ Agter die uitnodiging was daar ook ’n itinerary. Ek is die volgende dag bespreek vir skoonheidsbehandelings by ’n vriendin. Die dag daarna het my vriendin my grimering gedoen, ek het my Lena Lisa-trourok aangetrek, en self na die kerk gery waar Thomas gewag het.” 

Christia Visser Troue
FOTO Lulia Photography
Christia Visser Troue
FOTO Lulia Photography
Christia Visser Troue
FOTO Lulia Photography

Die troue was ’n spanpoging waar almal self ingespring het om die dag mooi te maak. “My suster het blomme op die plaas gepluk en gerangskik en ook die foto’s geneem. My ma het 50 kerse gekry, my pa het my in die Church of Christ-kerk in Bellville ingeloop, en die man van my drome het vir my gestaan en wag in sy Tux Tailor-troupak. Dit kon nie meer intiem of spesiaal gewees het nie, dit was perfek!” 

Christia Visser Troue
FOTO Lulia Photography
Christia Visser Troue
FOTO Lulia Photography
Christia Visser Troue
FOTO Lulia Photography

Lena Lisa, wat Christia se oorspronklike trourok ontwerp het, het ook vinnig ’n plan gemaak vir die kleiner troue. “Toe sy hoor ek moet my groot bruilof uitstel, het sy daarop aangedring om ’n nuwe rok te ontwerp wat sal pas by die intieme troue. Ek is so dankbaar vir haar, nou kry ek die beste van twee wêrelde.” 

Die korter trourok is tydloos maar speels, net reg vir die kleiner seremonie. “Dis eenvoudig, elegant en net kort genoeg om my booties te kan afshow. Dit het my laat dink aan Dirty Dancing.” 

Christia Visser Troue
FOTO Lulia Photography
Christia Visser Troue
FOTO Lulia Photography
Christia Visser Troue
FOTO Lulia Photography

Volgende jaar gaan sy en Thomas ’n groot makietie hou saam met al hul geliefdes. “Ons sal eers daarna wittebrood hou. Dit gaan beslis ’n eiland-wittebrood wees, iewers waar ons saam in die son kan lê en net mekaar en die natuur kan geniet.” 

Hou SARIE se platforms in 2021 dop vir eksklusiewe foto’s van Christia en Thomas se troue.  

VERSKAFFERS: 

TROUROK: Lena Lisa Designer

TROUPAK: The Tux Tailor 

FOTOGRAAF: Lulia Photography (Lucile van Deventer) 

GRIMERING: CocoTella Makeup 

DAS: Weef 

NAELS: TGIF Nails and Beauty