Nadat sy weg is uit 7de Laan, het sy twee maande lank geen selfvertroue gehad nie. Toe staan Elma Postma een oggend op en dink: “Ek’s oukei. Ek mág ophou dink ek is net Dezi. Ek is nie. Ek mág glo ek is ’n aktrise!”

Dit was moeilik om die stil, ambisieuse Dezi Terreblanche ná sewe jaar te groet, maar Elma het geweet sy moet. Nie net omdat sy te gemaklik geraak het in die rol nie, maar ook omdat sy gevoel het sy het haarself verloor. “Ek het vergeet wie Elma is. Ek weet nie meer waarvan ék hou nie, want ek het lank nie kans gehad om selfondersoek te doen nie. Ek wou myself in die bedryf én in my eie lewe as Elma hervestig.”

Dis nie maklik nie. Jy word soos kykers se familie as jy sewe jaar lank, vyf aande van die week in hul sitkamers gekuier het. Elma is al ’n paar maande ’n aanbieder op kykNET se oggendprogram, Ontbytsake, en steeds storm mense op klein dorpies op haar af en roep: “Dezi!” Dan sê die regisseur hulle kan haar handtekening kry as hulle haar regte naam ken!

“Ek was verskriklik bang toe ek 7de Laan gelos het. Ek was nie seker of ek gaan oorleef nie. Mense het al in verskeie oudisies vir my gesê: ‘Jammer, jou gesig is Dezi. Jy kan nie die rol kry nie. Jy is té bekend.’" Om 7de Laan te los was die eerste waagstuk. Nou lê die moeilikste stap voor - om haarself te herskep en Dezi te begrawe.

Elma straal deesdae van fiksheid en gesondheid danksy ’n persoonlike giminstrukteur. En by ons fotosessie gaan sy deur ’n uiterlike transformasie. Onder die bekwame hande van Terence Terenzo, eienaar van Terenzo-haarsalonne, kry haar kort, blonde hare ’n nuwe styl, meer speels en modern. Sy slaan behoorlik die asem weg. Maar dan gaan hy ’n stap verder, en kleur haar hare in ’n rykwarm bruin, en knip haar kuif effe korter. Sy lyk stunning!

Haar oë lyk groener; haar gesig minder bekend. ’n Soel en eksotiese skoonheid. “Ek is mal oor Elma met die donker hare,” sê Terence. “Dit werk goed met haar velkleur en beklemtoon haar groen oë. Dis bevrydend om ’n groot verandering aan jou voorkoms te maak. Ek het van die begin geweet die bruin gaan goed werk.”

’n Paar weke later vertel Elma verbaas oor die foon dat mense haar nie op straat herken met die donker hare nie. Haar vriende en familie was aanvanklik uit die veld geslaan, maar het vinnig gewoond geraak daaraan. Die nuwe voorkoms help dat mense met ander oë na haar kyk. “Dis lekker as hulle my as Elma sien. Ek voel nuut, anders, gesofistikeerd. Asof ek wil sê: Wêreld, hier is ek!”

Maar vir Elma gebeur die eintlike verandering innerlik en sy glo jy moet die onsekerheid wat daarmee gepaard gaan, aanvaar. “Ek is bang vir wat voorlê, maar dit dwing my ook om kreatief te wees. Ek moet nou buite die boks dink oor onder meer werkskepping.”

 

Daag jouself uit deur nuwe idees

Stadig maar seker begin sy weer haar voete vind. “Ek het uitgefreak toe ek my eerste veldaanbieding moes doen. Ek het gedink ek is nie nou Dezi nie. Ek het aan my teks vasgeklou en wou dit woord vir woord lees totdat die regisseur gesê het: ‘Maak dit jou eie. Sê wat Elma sou gesê het.’ Ek begin weer selfvertroue kry om as Elma te praat. Ek vind weer my innerlike stem.”

Ontbytsake is vir haar ’n goeie oorgang van 7de Laan na wat vir haar in die toekoms wag. Sy sien die land, leer mense ken. Maar om ’n aktrise te wees bly haar passie. Sy glo sy sal weet wanneer dit tyd is om weer aan te beweeg. Die nuus dat sy Hollywood toe sou gaan, is deur die media uit verband geruk, voel sy. Dit was ’n opsie, nie ’n definitiewe plan nie. En dis steeds nie ’n definitiewe plan nie. “Eintlik moes ek nie eens Hollywood genoem het nie. Om soontoe te wil gaan is my persoonlike reistog en ek wil dit stadig, tree vir tree doen sonder dat mense elke beweging dophou. Om jouself te herskep is nie noodwendig om drastiese veranderinge te maak nie. Jy moet kort-kort objektief na jou lewe kyk. Wat wil jy sê, wat wil jy doen? Jy moet jouself deur nuwe idees uitdaag, en nuut na jouself en na die wêreld kyk.”

Sy was voorbereid daarop dat sy nie dadelik ’n klomp nuwe rolle gaan kry nie.  “Ek moet geduldig wees en wag dat die persepsie van my as Dezi verander. Ek het nie ’n lysie gemaak wat sê ek móét volgende jaar in ’n fliek en in ’n TV-reeks speel nie. Ek gaan kyk wat oor my pad kom, hoewel dit dalk nie wys gaan wees om dadelik rolle te aanvaar waar ek my klere moet uittrek nie!

Dis darem té anders as Dezi. “Ek het begin om motiveringspraatjies te gee. Só delf ek ook in mý kop om te kyk watter veranderinge gebeur. Die bangheid verander nou in opgewondenheid.”

Sy was sowat twee jaar in ’n verhouding met die akteur Anrich Herbst, maar is al langer as ’n jaar enkellopend. “Dis die regte ding in dié stadium van my lewe. Ek kon nie op iemand se skouer huil en sê ek het nie werk nie of dit was ’n aaklige oudisie nie. Ek het nou nodig om introspeksie te doen en op myself te fokus.”

Van Elma se oud-kollegas verstaan haar dilemma. Nina Swart, wat bekend was as die avontuurlustige “Wille Wilmien” in 7de Laan, het drie jaar gelede ook besluit om dié gewilde sepie te verlaat, maar sukkel vandag nog om die Wilmien-handelsmerk af te skud. “Ek wonder of herskepping ooit in my hande is. Al sou ek ná 7de Laan in Tomb Raider gaan speel het, sou mense dink: ‘Wilmien, jy’t lekker geskop in Tomb Raider!’”

Nina sê jy moet jouself tyd gee vóórdat jy uiteenlopende rolle begin speel. “Jy word ’n handelsmerk as jy in ’n sepie speel. As jy skielik te veel verander, gaan jy mense vervreem.” Sy begin nou eers “anderste” rolle as die Wilmienagtige rolle speel, soos Antjie Krog in die toneelstuk ’n Ander tongval. Haar raad is om geduldig te wees, dalk ’n markverskuiwing te maak (sy speel nou veral Engelse rolle) en te besef die pendulum gaan terugswaai - jou identiteit sal weer in jóú hande wees.

Elke akteur loop die risiko om in dié bedryf gestereotipeer te word, sê Frans Kalp, hoofskrywer van Egoli op M-Net. “Dit kan gebeur dat ’n akteur perfek in ’n spesifieke rol pas oor sy fisieke en emosionele samestelling en dan die gevaar loop om dieselfde soort karakter oor en oor te speel. Dis die akteur se verantwoordelikheid om uit daardie stereotipe te breek deur die regte professionele keuses te maak.”

 

Om jouself te herskep is nie noodwendig om drastiese veranderinge te maak nie

 
 

Die bedryf lyk deesdae anders as toe vandag se gesoute akteurs hul loopbane begin het, sê prof. Nico Luwes, hoof van die dramadepartement aan die Universiteit van die Vrystaat. ’n Akteur kon sy naam vestig vóórdat hy ’n rol op TV gekry het omdat teaterrolle volop was. “Vandag is sepies die jong akteurs se geleentheid. In sepies speel akteurs ’n ‘tipe rol’ en nie volronde karakters wat ’n verskeidenheid van emosies kan ondersoek nie. Hierdie sepie-karakters word makliker gestereotipeer,” sê Nico.

Henry Mylne, ’n regisseur van 7de Laan, sê sommige akteurs word nie as hul karakters gestereotipeer nie, juis omdat hulle oor jare hul stempel as akteur afgedruk het vóórdat hulle in ’n sepie gespeel het. “Brümilda van Rensburg was Brümilda van Rensburg vóór Egoli en sy sal ná Egoli steeds Brümilda van Rensburg wees.”

Hy dink jong akteurs moet net vir ’n sekere tyd in ’n sepie wees. “Dis belangrik vir groei dat ’n jong speler lank genoeg bly om sy of haar spelvermoë te vestig, maar dan aanbeweeg om ander ondervinding op te doen om ’n naam as akteur te bou en nie net ’n sepiester te bly nie.

“As jy in ’n sepie óórblootgestel is, werk aan jou ander talente soos skryf- en teaterwerk, sang, regie of klasgee, tot Bart weer Neil Sandilands, Poena weer Robbie Wessels of Dezi weer Elma geword het. Maar dan moet jy met al jou talente woeker en die maatemmer vermy.”

Anel Alexander, wat vir ’n jaar en ’n half Liesel in 7de Laan was, het van die begin geweet sy gaan nie te lank daar bly nie. “Ek wou ondervinding opdoen en aanbeweeg.” Sy sê akteurs moet slim keuses maak. Sy was kort genoeg in 7de Laan om te voorkom dat sy as haar karakter gestereotipeer word. “Hoe langer jy daar bly, hoe moeiliker gaan dit raak om daardie beeld af te skud.”

Sy probeer uiteenlopende rolle speel, ook om vir die publiek te wys sy kan dit doen. So het sy onder meer gespeel in die TV-reekse Zero Tolerance en Hillside, wat ’n groot Engelse mark het, en doen ook radio- en aanbiederwerk.  Dalk moet ons akteurs kers opsteek by internasionale sterre soos Charlize Theron wat gereeld haar voorkoms en haarstyl verander. Van donker na lig; lank na kort. “Ek dink akteurs in Suid-Afrika moet eerder ’n ‘meer neutrale’ voorkoms hê,” meen Anel. “Jy moenie te veel uitstaan nie. Maar jy moet, as die rol dit vereis, kan verander in ’n glamour queen of ’n mishandelde vrou of ’n vaal meisie.”

Intussen begin Elma die lewe weer as Elma ervaar. Sy lag makliker, sy soek avontuur. “Soos Dezi het ek nie die waagmoed gehad om helder kleure aan te trek nie. Dis te verstane, ek het elke dag vir Dezi laat leef. Sy gaan áltyd deel van my wees. Dis goed, want sy het my gebring waar ek nou is. Ek sien haar as een van my lae, en elke rol wat ek nou gaan speel, vorm ’n nuwe laag vir my as aktrise.

“Daar’s iets in my wat sê ek moet mense verras, soos in die verhoogrolle wat ek al gedoen het waarin ek meer waaghalsig was en donker karakters gespeel het. Akteurs lewer kommentaar oor wat in die wêreld aangaan. Ek gaan dit aanhou doen en mense uitdaag om my as verskillende karakters te sien.”

Vrydag 9 vm. tot 12.30 nm. tot . . . 3 nm.!

Saam met SARIE en haarstilis Terence het Elma besluit ’n nuwe haarstyl is ’n nodige stap na ’n nuwe sy. Maar sou sy blond bly, of ’n brunet word? Ons het gewik en geweeg, en toe besluit om op die dag van die fotosessie die finale besluit te neem. Eers sou haar hare blond bly en in ’n moderne pret-styl geknip word. Teen 12.30 was daar min oor van die stil Dezi wat ons leer ken het. Met haar korter, parmantige blonde hare was Elma ’n treffer. Perfek vir SARIE se voorblad. Maar sy was reg vir meer. Teen 3 nm. het ’n asemrowende mooi brunet met geelgroen oë voor Clinton Lubbe se kamera gestaan - reg om haar nuwe wêreld aan te durf. Van 7de Laan se Dezi, tot die sexy blondine en uiteindelik die opwindende donkerkop Elma in net ’n paar uur. ’n Voorblad soos min!