"Ek wou 'n nuwe teatertaal tussen woorde en musiek skep. Dis nog nooit gedoen nie." Die saadjie vir die stuk is tien jaar gelede geplant toe sy 'n berig uit die dagblad The Star geskeur het.

"Daar lees ek van ‘n man wat in sy sopnat aandpak in Brighton in Engeland gevind is, sonder enige dokumente. Hy kon nie praat nie, maar hy was nie psigoties nie. Iemand het hom na 'n inrigting geneem en daar begin hy toe klavier speel vir die pasiënte. Musikoloë het gesien hy is 'n wonderlike pianis, 'n konsértpianis en toe plaas hulle ‘n berig in die koerant om te kyk of iemand hom kan herken..."

Speel
gaan nie oor dié man nie, maar dít was haar aanknopingspunt.

"My stuk speel aan die einde van die Eerste Wêreldoorlog in België af. 'n Tydperk wat eintlik interessanter is as die Tweede Wêreldoorlog. Die twee hoofkarakters is Hermione, 'n Belg, en Vittorio. Hulle vorm 'n ongewone band. Niks in die stuk is soos dit lyk nie.

"Ek probeer wys dat daar twee soorte mense op aarde is. Dié wat geheime tot alle koste bewaar en dié wat geheime wil oopbreek. Die vraag is: Het ons die reg op geheime of nie? En as ons mekaar se geheime ken, wat dán?"

Lizz meen Rocco se musiek is "epiese melodieë". "Dis asof ek in woorde praat, en hy antwoord in note. Ongelooflik. Vittorio is gemaklik met stilte, Hermione is eensaam en praat verskriklik baie."

Die kostuums is ontwerp deur die Suid-Afrikaanse ontwerper Christiaan Erasmus wat in Istanboel, Turkye, woon. Maar hy het ook ’n ateljee in Rosebank, Johannesburg.

"Liewe hemel man, die goed is mooi. Hy het `n groot liefde vir periode-goed, materiale en teksture. Rocco dra 'n smoking jacket. Ek dra 'n lang, vloeiende seegroen skepping. My karakter is soos 'n rare, eksotiese voël wat sommer haar beste jas sal verkoop vir cognac op die swartmark."

Lizz het báie navorsing daarvoor gedoen – op die internet, in biblioteke en selfs in museums in België. "Ek moes selfs kyk na haarstyle van daardie tyd. Baie vroue het al hul hare in die bob-styl gedra of `n korter styl met die vinger-wave. Dit was die begin van die emansipasie van die vrou, want baie moes toe in fabrieke gaan werk. Dis hoekom hulle kort ná die oorlog stemreg geëis het."

Lizz sê elke stuk wat jy aanpak, is moeilik. Die skryfwerk ook. "Jy voel van vooraf soos die nuwe kind in die skool, trouens, soos ‘n graad 1! Daar is altyd vrese, maar ek gaan nooit op die gebaande weë nie en toneelspel bly 'n avontuur. Jy moet op die ou einde die teks vertrou en ons jong regisseur, Neels Clasen, het baie insig.

*Speel maak sy debuut by die Absa KKNK (31 Maart tot 3 April)