Ek hoop...

ek kan mense se lewe verander. Eintlik is ek “emosioneel” nou eers 4 jaar oud; my oë het eers oopgegaan toe ek op 11 Februarie 2008 tot 5½ jaar tronkstraf gevonnis is weens diefstal. Ek is ná 3 jaar en 7 maande vrygelaat vir goeie gedrag. Vóór dit het ek maskers gedra. Nou wil ek net myself wees.

ek kan ander mense ook hoop gee. Ek weet hoe dit voel om op straat te slaap – ek het niks gehad om te verloor nie. Ek kan identifiseer met mense wat daardie stryd stry. Maar toe neem ek één tree in die regte rigting en ’n duisend goed verander. Wie sou kon dink ek sou oorsee reis? My hele lewe het verander.

om die beste pa moontlik vir my dogter, Tenna-Lee (9), te wees. Net nadat my oupa Kenneth aan sy hart oorlede is, het ek gedroom ek is op die verhoog in Madison Square Gardens in New York. Die kollig was op my en 150 000 mense het my naam uitgeroep. Ek was sielsgelukkig. Toe ek wakker word, was Tenna-Lee die eerste mens wat ek gesien het. Sy het my bewonderend aangekyk. Ek kón haar nie teleurstel nie. Ná sewe jaar as voortvlugtige was ek gereed om myself aan die polisie oor te gee. Ek móés. ’n Week later is ek gevonnis.

om volgende jaar my ma, Caroline Rhoda, se eerste huis vir haar op Douglas in die Noord-Kaap te bou. Sy was altyd daar vir my. Haar laaste jare moet gemaklik wees ...

ander mense leer ken ook God se hand van bevryding oor die dwelmmonster. Ons kan niks alleen doen nie. Dikwels verhard ons ons hart en is bang om die liefde van die Here te ervaar. Ons moet ons oopmaak vir Hom. Hy maak alles moontlik. om méér as ’n Suid-Afrikaanse musikant te wees. Ek wil ook internasionaal bekendheid verwerf. Dis vir my ’n voorreg dat Peter Goosen, die SA ambassadeur in Nederland, na my verwys as een van ons land se beste uitvoerprodukte. Vroeër vanjaar het ek op uitnodiging van ’n tronk-organisasie daar in Den Haag opgetree, en in Junie het ek in dieselfde stad voor koningin Beatrix opgetree by ’n tentoonstalling van SA kunsvorme. Sy het gesê sy is trots op my werk in Suid-Afrika en dat ek ’n voorbeeld is vir ander.

Larry Joe

Ek is bang...

ek verloor my stem, want dis die instrument tot my nuwe lewe. Ek sal heeltemal ontmagtig voel daarsonder.

dat ek nie genoeg tyd saam met my dogter deurbring nie. My program is baie besig. Tenna-Lee woon by haar ma op die Kaapse Vlakte, waar daar maar baie geweld is. Hopelik kan sy volgende jaar by my in Kaapstad kom woon.

om in ’n vreemde land, sonder die regte dokumente, op ’n lughawe gestrand te wees. Ek wil nie verlate en eensaam wees nie, want dít sal my te veel laat voel soos in my dae op die strate.

namens die jeugdiges wat met dwelms en bendes deurmekaar is... dat hulle slegs twee opsies het: die tronk of die dood. Ek sê altyd vir hulle in my motiveringspraatjies: Niemand skuld jou iets nie, maar jy skuld jouself alles. Kies reg!

Wat ek geleer het


Daar was ’n Groter Plan toe ek op 1 Desember 2008 tydens ’n MIV/vigs-konsert in die tronk in die Noord-Kaap opgetree en Aron Turest-Swartz, stigter van die musiekgroep Freshlyground, my gehoor sing het. Hy het my genader en aangebied om my met my eerste CD, Crazy Life, te help. Ons het dieselfde visie. Ek glo nié aan toeval nie.

In die grootste bendelede, verkragters, moordenaars en diewe skuil daar ’n baie onseker klein seuntjie wat homself wil bemagtig deur geweld. Ek praat dit nie goed nie, maar dít het die lewe in die tronk my geleer.

Almal se behoeftes is eintlik maar om iemand te hê wat vir hulle lief is, om vir hulself te kan sorg en om ’n ondersteuningsnetwerk te hê.

Deur musiek kommunikeer mense oor alle grense heen. Musiek is álles in my lewe.

Pa-wees het my geleer ek kan ’n leier wees. My definisie van romantiese liefde is om te gee, seer te kry en steeds bereid te wees om te gee.

As jy grootgeword het sonder ondersteunende ouers of motivering en dikwels niks gehad het om te eet nie, leer jy om dankbaar te wees vir alles en níks as vanselfsprekend te aanvaar nie.

Alles wat ek óm my wil verander, moet ek eers ín my verander.

As jy ander hoop wil gee, moet jy eers in jouself glo.

Ek dink nooit nie, ek voel net. Ek het al genoeg gedínk in my lewe.

Ek kyk nie terug in woede nie, ek kyk nie vorentoe in vrees nie. Ek kyk eerder rondom my, in bewustheid.


Larry was 'n gas op Janie du Plessis se TV-program, Wat mense sê.

Deel jóú storie met ons op sarie.com