Kleintyd was sy mal oor konsert hou. Opdress. Stories vertel. Vandag is ’n fliekstel vir aktrise Lea Vivier steeds soos ’n groot sandput waar sy kan gaan speel. Dis die lewendigste, lekkerste plek, vol kameraderie . . . dit laat elke liewe sel van haar lyf vibreer, sê Lea, vanoggend die ene bonsende varsgewaste krulle en bloesende wange.

Ons gesels op haar enigste af dag dié week – sy is midde-in verfi lming aan Netwerk24 se blitssepie Duiwelspoort, waarin sy een van die hoofrolle vertolk.

So ’n blitssepie het unieke uitdagings, vertel sy. Jy is gedruk vir tyd. En die tonele is kórt. Sy het soveel moontlik voor opnames begin bou aan haar karakter, sodat sy van die begin af in haar lyf kon inklim.

Alex Aucamp-Deetlefs is mededingend, ’n perfeksionis, hard op  haarself, met ’n morele kompas wat so reguit is as wat kan kom, totaal anders as “mal Lilani”, die rol waarin Lea tot onlangs nog in Fynskrif 3 te sien was.

Sy het vroeër vanjaar ’n ATKV Woordveertjie ontvang vir haar vertolking van dié off -beat karakter, nog ’n rede hoekom sy as een van die talentvolste akteurs van ’n jonger generasie beskou word, volgens die beoordelaars. Lea het al in 2017 op 25 die Silwerskerm-toekenning as beste aktrise gekry vir haar spel as die kelnerin in Wonderlus, haar eerste fliek, en was te sien in reekse soos Mense Mense, Binnelanders, Die Kasteel en Die Spreeus.

Sy protesteer as jy vra oor ’n gunstelingrol, want met elke karakter het sy soveel pret – maar as sy een móét uitsonder, is dit Lilani, sê sy. “Nina [Swart, regisseur] het my die vryheid gegee om te doen wat  ek wou met haar. Solank ek dit goed kon motiveer, kon ek dit in die subteks inwerk.

Op een stadium kyk Lilani op haar selfoon na ’n foto van een van die mans waarop sy ’n crush gehad het. Ek weet nie hoekom nie, maar toe gee ek daai foon so een groot lek . . .” Sy lag. “Oukei, dit was seker ’n bietjie ekstreem. Ek twyfel of hulle die toneel gebruik het!”

Sy kyk bitter min na haar eie werk.

“Doodernstig. Ek verkies om dit nie te doen nie. Het jy al ooit na jou eie stem op ’n voice note geluister?”

Ten spyte daarvan dat haar kinderjare op Melkbosstrand een groot konsert was, het Lea eers tale – Spaans en Engels – aan die Universiteit van Kaapstad gaan studeer. Tot sy op ’n dag besef het sy hoort nie daar nie.

“Ek het in die linguistiek-klas gesit en vir myself gesê: ‘Lea, dis alles baie  interessant, maar wat wil jy elke dag van jou lewe doen?’ En toe dink ek: Ek wil op die verhoog of op stel wees. Toe ek vir my ma en my sussie Trix [ook ’n aktrise] vertel ek gaan eerder drama swot, was hul reaksie: Oh my word, dankie tog. Uiteindelik. Zzzz . . .”

Selfs in die grendeltyd, toe sy in ’n stadium bang was sy kry nooit weer werk as aktrise nie en dat sy dalk permanent sou moes terugtrek na haar ouerhuis, het sy geweet: Om toneel te speel is wat sy wil doen.

Nou is sy weer op haar gelukkigste, elke dag op pad speelparkie toe.

FOTO Mia Liebenberg van Mia Photography SA

Jou karakter in Duiwelspoort klink na ’n lekker uitdaging?

Sy is – die meeste van haar bagasie lê in die verhouding tussen haar en haar ma. Sy is ’n suksesvolle prokureur, maar met ’n effense identiteitskrisis omdat haar ma so ’n sterk persoonlikheid het en haar eintlik haar lewe lank al oorheers. Haar stryd is om haarself los te maak van haar ma en ’n vrou uit eie reg te word. Omdat sy so hard grootgemaak is, is sy hard op ander en op haarself.

Ma-en-dogter-verhoudings is dikwels kompleks. Sal kykers daarby aanklank vind?

Ek dink so. Wat vir my hartseer is van Alex, is dat sy steeds smag na die liefde en aanvaarding van haar ma, al besef sy dat hulle twee nooit om dieselfde vuur sal sit nie. Die liefde en goedkeuring van ’n ouerfiguur is seker iets waarna jy altyd sal smag, of jy nou oor die weg kom met hulle of nie. Ek het al uit gesprekke agtergekom, selfs al besluit jy jy gaan jou onttrek, al is jy vervreem van hulle, bly daardie hunkering daar . . . dis ’n diep gewortelde deel van menswees.

Jy is self baie na aan jou ma, sy het ’n groot invloed gehad op wie jy is.

Ek is baie na aan my hele gesin en vir my beteken hulle die wêreld. Maar gesinsverhoudings is nooit maklik nie, jy moet daaraan werk. Al jou sensitiwiteite lê by jou gesinslede en hulle weet hoe om daai knoppies te druk. So dis nie maklike verhoudings nie, maar dis die  belangrikste verhoudings in die lewe. Ek het in vlak vyf van lockdown weer by my ouers op Melkbosstrand gaan woon. Ek weet nie wat ek sou gedoen het as hulle nie so ondersteunend was nie. Al was die inperkingstyd stresvol – ek het nog nooit so baie gemediteer en gebak nie – het ek besef ek het soveel meer as wat ander het, ek is bevoorreg.

FOTO Instagram / Lea Vivier

Jongmense vandag is onseker oor hul toekoms, in ’n wêreld waar hul drome en planne deur die virus omvergewerp is. Jou raad of insigte?

As vryskutakteurs lewe ons met konstante onsekerheid, en die pandemie het dit vererger. Ek dink onsekerheid raak oorweldigend as jy heeltyd dink aan wat vorentoe gaan gebeur. Al wat ons eintlik kan doen, is om dit dag vir dag te vat, want ons het geen idee wat die toekoms inhou nie. Om in die oomblik te leef maak dit meer hanteerbaar. Dit werk ook vir my om op die klein goedjies te fokus wat vir my plesier gee. Om weg te raak in ’n storieboek. Of tyd saam met my sussies, Trix en Meije, deur te bring. Moenie onderskat hoe belangrik die dinge is wat jou geanker laat voel en standvastigheid gee nie.

Europa is ’n gewilde bestemming vir ’n gap-jaar ná skool. Maar jy is Chili toe – hoekom dié land?

Ek is ’n groot boekwurm. In my hoërskooljare het ek die werk van die skrywers Gabriel García Márquez en Isabel Allende ontdek en was gaande daaroor, veral oor die magiese realisme. Ek het altyd geweet ek wil ’n Europese taal soos Frans of Spaans leer. Toe hoor ek van ’n organisasie wat uitruilprogramme aanbied, onder meer na die Universidad de Bolivariana in La Serena. En met dié dat Allende van Chili kom . . . alles het net in plek geval. Ek het model- en advertensiewerk op hoërskool gedoen en kon self vir my jaar betaal. Mense sê mos jy doen jou gap-jaar om jouself te vind, maar ek het dit gedoen om myself te “verloor”. Ek wou aspekte van myself ontdek waarvoor daar nie voorheen tyd, spasie of kans was nie. As dit kom by werk – en skool – is ek  ’n regte pliggie [sy was hoofmeisie], maar ek kan ook lekker laf en spontaan wees as ek wil. In Chili het niemand my geken nie, ek kon wees wie en wat ek wou, en alles beleef, sonder enige verwagtinge. Ek het al my vakke daar gedop, want alles was in Spaans! Ek en twee ander uitruilstudente het elke naweek op ’n bus geklim na ’n ander dorpie toe. Soms sou ons elfuur die aand gaan dans, regdeur tot sesuur die volgende oggend, en van daar klas toe gaan. Ek het tien kilogram aangesit, ons het interessante mense ontmoet, in ’n stadium het ek cheerleading gedoen en toe ballet, selfs sirkuswerk.

Is Afrikaans na aan jou hart?

Ek is baie lief vir Afrikaans. Solank daar nog kreatief in die taal gewerk word en die Afrikaanse kunste is sterk, voel ek  positief oor sy toekoms. Ek dink die formaat gaan baie verander, soos ons nou al sien. Maar dit bly die taal waarin ek droom, dis deel van my beendere, dis waarin ek myself die beste kan uitdruk.

FOTO Instagram / Lea Vivier

Waarin lê die lekker van toneelspeel vir jou?

Reeds as kind was die samesyn heerlik, om saam met my broer en sussies kreatief te wees, of saam met leerlinge in my ma se dramaskool. Dis hoekom dit vir my so lekker is op stel, ek geniet groepwerk. Dis hierdie groot masjien en elkeen is ’n ratjie daarin. Ek hou ook van die uitdaging van ’n karakter en die omstandighede waaronder jy werk. Soos [die akteur Sanford] Meisner gesê het: “Acting is living truthfully under imaginary circumstances.” Ek moes eergister ’n klomp emosionele tonele skiet wanneer my kind ontvoer word. Dis ’n groot uitdaging. Die een oomblik is dit chaos op stel en skielik is hulle reg vir jou . . . three, two, one, action, en jy moet ’n oortuigende vertoning gee. Jy moet onder ontsettende druk, in ’n splitsekonde, dáár wees in die oomblik wat jy ween en glo dat jou kind van jou weggeneem word. Dis ’n anderster job. Maar dis hoekom ek dit doen.

TV-aanbieder Ellen DeGeneres het onlangs verskoning gevra nadat werknemers gekla het oor ’n toksiese werkomgewing en swak behandeling deur van haar senior mense. Wat maak mense op ’n stel gelukkig?

Internasionale crews sê dikwels Suid- Afrikaners is van die hardwerkendste en vriendelikste mense in die bedryf. Ons is gewoond daaraan om met min tyd en klein begrotings regtig goeie werk te lewer. Daar is bloot nie tyd of geld vir ego’s op stel nie. Almal werk onder moeilike omstandighede saam en het een doelwit: Om magic te maak. Jana Kruger, wat my ma speel in Duiwelspoort, het nou die dag, net voordat die kameras begin rol, vir my ’n stukkie advies oor ’n toneel gegee . . . iets het net in my gekliek en ek kon ’n heel ander interpretasie gee wat gewérk het.  Sy het dit op so ’n ondersteunende manier gedoen, ek het dit regtig waardeer. Ek speel ook teenoor tannie June van Merch en probeer in af tye met haar gesels en vra haar uit oor hoe sy dinge doen. Ek probeer altyd by ouer akteurs leer – om drama te studeer en dáár op die stel te wees is totaal uiteenlopende goed.

FOTO Instagram / Lea Vivier

Angstigheid het ’n groot kwessie onder Suid-Afrikaners geword. Jy het al openlik oor joune gepraat – wat help vir jou?

Ek sukkel van jongs af met angstigheid. My ma vertel ek sou vreeslik na my verjaardagpartytjies uitsien, maar as die maatjies opdaag, kon hulle my nie kry nie. Dan sou hulle my uiteindelik vind waarek in die boom wegkruip. Die oomblik was net te groot. Soms raak dinge te veel en wil ek net verdwyn. Ek was bevoorreg genoeg om hulp te ontvang, en die afgelope agt jaar het ek al met verskillende terapeute gesels en ek weet hoe om daarmee saam te leef. Verlede jaar het ek op ’n stadium paniekaanvalle gekry, maar ek het geleer hoe om dit te hanteer. Almal het kwessies waarmee hulle sukkel, maar as ons net meer ontvanklik is vir hulp, is daar soveel tools. Ekself glo nie daaraan om medikasie te gebruik nie; vir my werk veral asemhalingsoefeninge. Ek doen ook joga – al drie elemente daarvan, fisieke oefening, asemhalingstegnieke en meditasie. Daarsonder sou ek gesukkel het.

Jy het verlede jaar teruggetrek Kaap toe ná ’n paar jaar in Johannesburg. Hoekom?

Die Kaap is waar ek behoort, dis my huis, waar my tribe is, ek het vriendinne wat al van skooldae af saam met my kom; almal behalwe Trix, wat in Johannesburg verfilm aan Legacy [die M-Net-telenovelle]. Ek het langs die see grootgeword, ek kon nie gewoond raak om nie te kon draf langs die see nie. My droomdag is ’n lang tafel, gevul met die lekkerste kos, wyn en mense, gedek in die tuin van my droomhuis iewers in die Kaap.

* Duiwelspoort se 48 episodes van sowat 5 minute elk kan tans op Netwerk24 gesien word. Dit word later as agt episodes op Via uitgesaai.