Wat is jou beste eienskap?
My vermoë om koel en kalm in stresvolle situasies te bly.

En die slegste een?
Ek verwag heeltemal te veel vanmyself en is nooit tevrede met wat ek bereik het nie.

Waarsonder kan jy nie lewe nie?
My man, Marc (Menelaou), en ons seuntjie, Alexandro (byna 2).

Wat maak jou hartseer?
Baie dinge. Maar ek haat dit veral as mense na aan my deur moeilike
tye gaan. Ek is die soort mens wat almal wil help.

Wat is die beste raad wat jy ooit gekry het?
Moet nooit 100% van jou vir enigiets gee nie. Hou altyd iets terug vir jouself. As jy te betrokke is by jou werk, familie, vriende, ens., vergeet jy omna jouself te kyk. Dis waar dinge verkeerd kan loop.

En jou beste raad vir ander?
Al klink dit na ’n cliché: Geniet elke minuut van jou lewe na die beste van jou vermoë. Die lewe is kort en kan in ’n oogwink verander.

Wat was die grootste oomblik in jou lewe?
Toe ek Alexandro die eerste keer in my arms gehou het – dit het gevoel of iemand my hart uit my lyf geneem en in my hande gesit het.

En die aakligste?
Ek is in 2007 deur vier gewapende mans in my huis aangehou en beroof. Dit was traumaties, maar ek het iets daaruit geleer en is baie meer waaksaam.

Wat maak jou gelukkig?
Om by my familie en vriende te wees en te lag tot dit seermaak!

Waar is jou gunsteling-plek om van alles weg te kom?
Ek is verslaaf aan reis en dol daaroor omnuwe plekke te ontdek. Ek en my man was onlangs in Patagonië in Argentinië. Ons het in Bariloche aan die voetheuwels van die Andes gaan ski en die sewe mere in die streek besoek. Daarna het ons met perde deur die sneeu in die Andes gery. Dit was ongelooflik, om die minste te sê!

Jou gunsteling-gesondheidsdrankie?
Water! Ek het altyd ’n bottel by my.

Beste skoonheidswenk?
Vir my is die skoonmaak en bevogtiging van my vel die belangrikste.

Waarvoor is jy bang?
Slange. En vir enigiets wat met my gesin kan gebeur.

Planne vir die toekoms?
So baie! Maar bo-aan die lysie is ’n toevoeging tot ons gesin. Ek en my skoonsus, Mandy Manas, wil ook ’n geskenkwinkel begin.

Wat weet mense nie van jou nie?
Ek is opgelei as spraak- en drama-onderwyseres.