Mary-anne Barlow is vandag skoon uit haar ritme uit.

’n Af dag tuis is amper ’n skok vir haar gestel, sê sy. Die afgelope klompie maande, ses dae van die week, gooi sy haar hart en siel in haar rol as die feeks Felicity Price in Legacy, M-Net se telenovelle – ’n eerste vir kanaal 101.

Maar van die begin af, toe sy dié gesogte rol aangebied is, het Mary-anne besef: Nou is sy getroud met Legacy. Selfs haar hart se punt, Nathan, haar “ou George Clooney” wie se hondeportret lewensgroot teen die sitkamermuur agter haar pryk, speel vir eers tweede viool.

Saans voel dit soms asof sy net genoeg energie het om te bad en in die bed te klim met haar teks vir die volgende dag, maar tog verlustig sy haar in élke oomblik op stel, sê sy. “Dit is intens, jy werk op verskillende locations, almal is onder druk, ook met die uitdaging van Covid-19-beperkings. Maar almal is ewe passievol, elke afdeling sit alles in. Dis ’n seëning om deel daarvan te wees.”

Wat dit ’n nóg groter geskenk maak – “met ’n dubbele strik bo-op” – is dat die vervaardigers, Tshedza Pictures, haar vir die rol genader het. Mary-anne het juis vroeër vanjaar ’n SAFTA as beste byspeler gekry vir haar spel as Gail Mathabatha in The River, Tshedza se Emmy-benoemde telenovelle op Mzansi Magic op DStv-kanaal 161.

FOTO Marijke Willems

Kykers sal nie gou Gail se skouspelagtige afsterwe – op haar troudag – vergeet nie. Sy het twee trourokke vir dié dag gedra, een daarvan ’n Xhosarok, albei spesiaal vir haar gemaak. “Die episode het al die regte elemente  gehad: my bruidegom [vertolk deur Hlomla Dandala], sy jaloerse eksvrou, die skote wat klap, die bloed op my spierwit rok toe ek leweloos daar lê . . . In ware telenovelle-styl, effe over the top. Ons het soveel pret gehad,” vertel sy.

Daar’s nooit ’n vervelige oomblik as jy ’n aktrise is nie, dit weet Mary-anne al sedert sy in 1997 direk ná dramaskool in die rol van die superfeeks Coreen Edwards by die sepie Egoli ingestap het. Dit bly een van die rolle waarvoor sy steeds herken word – al is Coreen in 2003 vir altyd na ’n inrigting vir sielsiekes. Sy word ook nog as Angela in Leon Schuster se Mama Jack en dr. Beth in Isidingo herken – al was dit jare terug.

Soos baie ander vryskut-aktrises het Mary-anne deur die jare soms “baie geloof ” nodig gehad – veral die jaar toe sy net elf dae gewerk het – “my belastingkonsultant het bly dubbelcheck!”

Maar daar het altyd weer iets lekkers oor haar pad gekom. Sy het wel op ’n stadium ’n aanloklike werksaanbod in die sakewêreld ernstig oorweeg, maar toe slaan sy ’n groot rol in die Britse TV-reeks Wild at Heart (2007 tot 2011) los, en daar was nie eens ’n kwessie vir watter een sy ja sou sê nie.

Vir drie jaar ná mekaar het sy vir maande saam met ’n groepie Britse akteurs “die hele Afrika-ervaring” op ’n wildreservaat beleef – vir ’n diereliefhebber soos Mary-anne pure hemel, “die een oomblik ná die ander wat jy jouself net wil knyp”. Sy onthou nou nog die gevoel van die jagluiperd se pels teen haar been toe hy vlugtig teen haar skuur terwyl hy langs haar stap, die kameelperd wat soggens douvoordag sy kop in die grimeer-woonwa gedruk het. 

“Aaa-mazing. Wat kan ek sê? Ek is mal oor my werk.”

Haar pa se etos, wat sy vroeg in haar lewe haar eie gemaak het, kom sterk deur in die gesprek: Sy is dankbaar vir elke seëning in die lewe. Met haar innemende glimlag en rustige stemtoon, wonder jy vir ’n oomblik of iemand wat so opreg nice is, dit in haar het om die skurk te wees wat deur almal verag word.

Tot sy in Felicity se okerkleurige Christian Louboutins inklim . . .

FOTO Marijke Willems

Daar is soveel fanfare oor Legacy, soveel verwagtinge, en jy speel ’n sleutelrol. Is jy voorbereid op die reaksie, siende dat jy die “feeks” is?

Ons sal moet sien. Ek was vir ’n lang tyd relatief anoniem. Ons gaan vier dae van die week op TV wees. Met Egoli was ek oornag herkenbaar omdat jy aand ná aand in mense se sitkamer is – hulle hoor jou diepste geheime, deel jou lewe, kén jou. Altans, hulle dink so. Mense hou daarvan om die feeks te haat. Ek sal nooit die eerste keer vergeet toe ek as ’n karakter herken is nie. Ek was nog nie eens in “volle feeks”-mode nie, net ’n paar maande al Coreen. Ek en my ma was op ’n roltrap op pad boontoe, toe ’n vrou met die afkom na my toe oorleun, my in die oë kyk en fluister: “Bitch.” Ek was só in my skik! Ek het vir my ma gesê dit beteken ek het my werk goed gedoen, hulle glo in my. Mense het my karakter ernstig opgeneem, was lelik met my, veral as ek by ’n nare storielyn betrokke was. Uiteindelik is dit waarop jy hoop. As mense Felicity wil haat, dan moet hulle. Hopelik sal ek myself ook redeem, dat hulle ook haar ander kant sien. Jy moet mense saam met jou neem op jou karakter se reis.

So ’n feeks kan nie net sleg wees nie?

Absoluut. Geen mens is net goed of net sleg nie, dis nie geloofwaardig nie. Ek het haar menslike broosheid probeer inbring. Ek hoop kykers sal hulle kan vereenselwig met haar behoefte aan liefde en goedkeuring, veral van haar pa.  Felicity is nie uit die staanspoor sleg nie, maar sy versinnebeeld hoe vinnig dinge kan skeefloop. Net een klein besluit kan jou hele lewe verander, en lei tot nog ’n verkeerde besluit en nog een . . . totdat jou lewe dramaties uit beheer spiraal. Soos hulle sê: Oh, what a tangled web we weave.

In The River het jou karakter, Gail, ’n tweede kans op liefde gekry. Jy is self eers onlangs getroud?

Ons is verloof, toe nie getroud nie. Greig [Carstens] werk in die korporatiewe wêreld, wel, in dié stadium in ons kombuis. [Sy lag.] Ek het drama gestudeer, hy as geoktrooieerde rekenmeester. Ons paaie het onverwags gekruis, dit wys net jy weet nooit wat om die hoek wag nie. Ons generasie is bevoorreg, ons het soveel meer keuses as vorige generasies vroue. Ek sien dit ook met my susterskinders. Daar is verskillende uitgangspunte oor hoe jy deesdae jou ruimte kan vul. Jy kan jou eie storie skryf. Jy hoef nie te hou by wat die samelewing van jou verwag nie, daar is groot vryheid daarin.

Jy het al dikwels gesê jy wil graag kinders hê. Is jy spyt dit het nie gebeur nie?

Ek is teleurgesteld, ja, maar ek bly geseënd, ek het ’n spesiale verhouding met my stiefseun, Oliver – hy’s al in matriek vanjaar. Sy pa is [akteur] Darren Kelfkens, met wie ek baie jare lank ’n verhouding gehad het. Ek het gehoop ek kan eendag vyf kinders hê, ongelukkig het dit nie gebeur nie. Ek het alles probeer, maar aanvaar dis nie deel van my reis nie. As dit na my kant toe kom, ten spyte van my ouderdom, sal ek steeds ja sê.

Wat beteken jou veertigs vir jou?

Dis spesiaal omdat jy in sekere opsigte ’n tweede kans kry. Jy kan daardie dinge identifiseer wat jy in jou twintigs en dertigs gedink het jy gaan bereik – en dalk nie het nie. Dan besef jy dit is nie die einde van die wêreld nie, en jy kan jouself afvra: Wat kan ek wel vorentoe doen? Niemand van ons weet wat die toekoms inhou nie, nou nog minder as ooit. As ek iets uit die pandemie geleer het, is dit om teenwoordig en dankbaar te wees. My pa was nog altyd so. Ek kies om my lewe so te lei.

Hoekom wou jy aktrise word?

Ek kom uit ’n familie van performers, hoewel nie professioneel nie. My tannie was desperaat om aktrise te wees, maar destyds was jou opsies verpleegster, ontvangsdame of onderwyseres. Sy het toe dramaklasse gegee. In die destydse Rhodesië, waar ek gebore is, het sy ’n garage vol wonderlike kostuums gehad. Ek en my niggies en nefies het vir die grootmense konsert gehou – feetjies en monsters. In die Kersspel was ek jaar ná jaar Maria. Ek wou nie iets anders doen nie.

Hoe hou jy die paniek in toom as daar geen rolle is nie?

Jy moet net glo. ’n Vriend het eenkeer vir my gesê ek moet leer om regie te doen of te edit, maar ek wóú aktrise wees. Toe sê hy dit gaan nie daaroor of jy wil toneelspeel nie, dis of toneelspel jou altyd sal wil hê. Niemand sê vir aktrises as jy veertig word, gaan jou werk met die helfte verminder nie. Dat jy jonk en pragtig moet wees om ’n storie te vertel. Wat ’n klomp snert. Dis soos die neiging om nie ouer vroue se liefdesverhale te vertel nie.

FOTO Marijke Willems

Hoekom sal ouer mense nie ook liefde, vreugde en passie ervaar nie?

Gelukkig is daar veral internasionaal al hoe meer vroue wat hul eie werk skep om hul stories te kan vertel, soos Reese Witherspoon. Dis hoekom ek so mal oor Brittanje is. Hulle kyk anders na hul ouer mense. Maggie Smith. Judi Dench. Hulle hetmeer waarde juis omdat hulle ouer is, hulle het gravitas. Dis hoe dit moet wees.

Jy is direk ná Egoli Londen toe. Wat was die aantrekkingskrag?

Dalk het dit te doen met my Engelse erfenis, ek het Skotse en Engelse voorvaders. Baie van my uitgebreide familie woon daar, ek kon my met die leefstyl vereenselwig. Dit was wonderlik, ook die vryheid om skielik net anoniem te wees. As dit nie was dat ek destyds nog by Darren betrokke was nie, sou ek dalk in Londen gebly het, maar ek wou deel van sy lewe hier wees. Ek beskou myself egter uit en uit as ’n Suid-Afrikaner. Dis my huis.

Kort ná jou terugkeer het jy ’n hoofrol in Mama Jack vertolk. Jy is nie die tipiese Schuster-meisie nie?

My agent het gereken ’n oudisie is ’n goeie manier om mense daaraan te herinner dat ek terug is. Ek was heeltemal verkeerd vir die rol, my hare, my ouderdom . . . Ons het geweet dis een wat ek nie gaan kry nie. En toe kry ek dit. Leon was totaal anders as wat ek my voorgestel het. Hy is ’n harde werker, ernstig oor sy craft en sy brand. Dis ’n genre wat vir hom werk. Baie Suid-Afrikaners identifiseer met sy tipe humor. Sukses het vele gedaantes en ek haal my hoed af vir hom dat hy dit self geskep het.

Jy het eers onlangs tot sosiale media toegetree. ’n Noodsaaklike euwel?

Inderdaad! Ek is nie ’n voorstander daarvan dat mense ’n perfekte lewe uitbeeld nie, maar is trots op my loopbaan en plaas graag werkverwante goed. Hoewel ek ’n redelik trae deelnemer is, sien ek wel die positiewe kant daarvan omdat dit mense van belangrike kwessies bewus kan maak.

FOTO Marijke Willems

Jy voel sterk oor diereregte.

En ál sterker. Ek het ’n vegetariër geword toe ek 15 was – ek het ’n morele beswaar teen die boerderypraktyke. Op die oomblik werk ek daaraan om ’n vegan te word, ek het al suiwel gelos. Dieremishandeling laat my bloed kook. Ons behoort ons te skaam oor hoe ons diere hanteer, die mens se selfsug is afstootlik. Honde is my sagte plek, ek is ’n beskermvrou van Dogtown SA. Ek het gehoop die pandemie sal mense weer laat omgee. Ons het die kans vir introspeksie, om nederig te word, om ander lewende wesens en ons planeet in ag te neem. Maar die sinis in my vrees dat ons sal terugkeer na “ek, ek, ek”. Wie gee om, solank ek net die kar kan ry wat ek wil, die klere koop wat ek wil dra? Ek bly tog hoopvol. Daar is soveel behoefte, dit maak nie saak hoe jy bydra nie, solank jy net bydra. Al aanvaar jy net verantwoordelikheid vir jou eie stukkie aarde.

Is daar nog ’n rol wat jy graag wil vertolk?

Baie. ’n Periodedrama met ongelooflike kostuums, korsette, boeseltjies. Of ’n fantasie soos Game of Thrones. Enige drama vol menslike emosie. Ek was twee jaar terug by die Grahamstadse kunstefees in een van die beste rolle van my lewe. The Revlon Girl is ’n hartverskeurende stuk oor die pyn en verlies van ’n kind, gebaseer op ’n ware gebeurtenis in die sestigerjare, toe ’n myndorpie in Wallis byna die helfte van sy kinders in ’n modderstorting verloor het. Dit was ’n kragtige stuk teater. Ons kon die gehoor se reaksie voel, mense wat snik, snak na hul asem of net saam met jou dáár is. Dit maak toneelspeel so bevredigend.