Twee legendes het hul stemme gegee vir dié koninklike: Eerste was die nuus-ikoon Riaan Cruywagen en toe was dit die skrywer Leon van Nierop.

Leon onthou nog die dae van Blommeland al te goed. “Ek onthou dat ons in ateljee P2 in Auckland Park op Dinsdagaande opgeneem het, en dat dit vir my, destyds nog as ‘n jong omroeper-regisseur en skrywer ‘n onvergelyklike voorreg was om om dieselfde tafel te sit as die skepper van Liewe Heksie, Verna Vels, an ander aktrises soos Monica Breed, Douwlina Grobler en Anne-Marie Muller, almal ikone van my. Ons het hope pret gehad en het dikwels net so baie gelag vir die manewales van die karakters as vir mekaar terwyl ons die rare stemmetjies gemaak het.”

Hy het die rol van Koning Rosekrans oorgeneem ná Riaan Durban toe verplaas is. Leon was egter reeds betrokke by die produksie en het verskeie karakters lewe gegee, selfs een van die nare gifappeltjies.  “Om dit daarna op televisie te sien en jou stem te hoor as Koning Rosekrans was onwerklik. ‘n Kinderdroom wat werklikheid geword het.”

Koning Rosekrans saam met Liewe Heksie. SKERMGREEP Liewe Heksie / YouTube

En watter eienskappe kan vandag se leiers by Blommeland se koning leer? Regverdigheid, reken Leon. 

“Die vermoë om nugter te dink, asook waardigheid en ’n rustige, gesaghebbendheid, as stiptelilkheid! En dan die talent om vreesloos die korrekte besluit te neem.”

Vanjaar het Suid-Afrika se grootste fliekvlooi opnuut besef hoe hy die magiese ruimte van die fliekteater mis.

“Ek het om fliek toe te gaan en voorskoue van elke liewe fliek wat uitgereik is as vanselfsprekend aanvaar, want ek het dit 44 jaar lank professioneel gedoen, laat staan nog die dekades voor dit as kind. Om saam met en tussen ander mense te fliek en deel te neem aan ‘n fliek, asook om mense se reaksies dop te hou en ‘n samehorigheidsgevoel te kry, sal van nou af ‘n voorreg wees.”

Hy reken fliekteaters se deure behoort eintlik al in Vlak-2 oopgemaak te word. 

“Die tyd is nou ryp om teaters, veral in vlak 2, weer vir die publiek oop te stel, veral as ’n mens kyk na ander byeenkomste wat oopgemaak is, natuurlik net as streng veiligheids- en gesondheidsmaatreëls gehandhaaf word.”

Hy smag daarna ... na die ontsnapping wat die silwermskerm bied. “Ek smag na die ruimte van ‘n groot teater, die oordonderende klank en die reuse-beelde.”

En wat is sy top-3-films in die genre van animasie? UP, The Lion King (die oorspronklike) en Ratatouille.