Ek hoop

om onthou te word as iemand wat mense se lag-lewens verryk het. My ou groot UmFaan, Fanus Rautenbach, het 'n mooi sê-ding: Die lewe is 'n lag lank.

om my kinders oorsee te neem, veral wanneer die Bokke in Nieu-Seeland en Australië toer.

bittergraag vir 'n Ferrari - dan kyk die meisies verby my bles! En ek wil graag op die stoep van my Umhlanga-huisie sit en net ontspan, sonder om verbygangers dop te hou en te dink hoe ek hulle kan prank.

ek gaan nie geslaan word in die gekskeer-fliek wat tans op my agenda is nie!

dat korrupsie, misdadigers, kapers en ander chroniese kranklikhede wat ons land se ordentlike voortbestaan bedreig, aan hul keelgatte gegryp sal word voor ons ons naam krater maak in 2010.

dat die term "oupa" my sal ontwyk vir minstens die volgende vyf jaar – hoewel ek mal is oor kinders. Ek hoop my twee oudste dogters lees hier.

om eendag weer te trou, maar dis 'n netelige saak. Wanneer gaan 'n girl vir jóú, en wanneer gaan sy vir die sg. glamour – wat 'n illusie is, want al wat glamorous is, is die fênsie hotel waarin ek vir die duur van die maak van die rolprent bly.

 

Ek hoop om eendag weer te trou, maar dis 'n netelige saak. - Leon Schuster

 

Ek is bang

vir hysbakke en die idee dat ek eendag in een kan vassit. Ek klim trappe vir 'n vale, maar dis nogal 'n probleem as jy soms op die boonste vloer van 'n groot hotel bly.

Die Bybel sê vrees is ongegrond as jy glo. Ek glo, maar ek bly mens. Ek koester my gesin, my Ouboet-hulle, my "jong" moeder, en soms vrees ek dat hulle iets sal oorkom. Gelukkig het ek 'n plek om daardie vrese te bêre en vrede te ervaar.

Ek is nie bang my idees vir flieks gaan opdroog nie. Elke opskrif teen 'n lamppaal is 'n rolprent, elke Carte Blanche-uitsending 'n briljante bron vir idees, elke Julius M-uitspraak 'n Three Stooges in One-movie.

Wat ek nou weet

  • Gee eerder as om te ontvang - van jouself, jou mensliewendheid. Deel jou vreugdes, verbloem jou leed. Min wil daarvan weet, maar almal wil saam met jou lag. Dit help nie om te kla nie - dis net die armes wat luister!
  • Om die lewenspad sonder God te bewandel is 'n onberekende risiko.

William Goldman het gesê: "Nobody knows anything." Ek stem. Ek weet eintlik niks van rolprente nie, ek leer bietjie vir bietjie met elkeen. Dis 'n deksels moeilike vorm van vermaak wat jou terugklap aarde toe as jy ontspan en dink dis maklik.

Die basics laat mense lag. Komedies is nie doktorsverhandelinge wat 'n gehoor beloer en met wroeging ontleed nie. Hoe eenvoudiger die storielyn, hoe beter. Ek probeer so na aan die been van Suid-Afrikaners se daaglikse bestaan beweeg as moontlik: hul passies, hul frustrasies. (Die kritici sal wil byvoeg: en hul purgasies!)

My ouers se beste raad: Jy kom nêrens nie sonder klippe kap, harde bene kou en oë op die pad met die Hand van die Groot stuurman op die rat.

Ek raak meestal bedruk wanneer ek nie kan vorder met my skryfwerk nie. Dan gooi ek my tee oor my keyboard uit sodat ek 'n paar dae kan wegbly van my rekenaar terwyl dit herstel word!

Oor my swakste eienskap is daar baie te sê. Kortliks: soos Paulus se stryd tussen die begeerte om die regte ding te doen en uiteindelik die verkeerde te kies, so sukkel ek ook maar.

Ek weet regtig nie van my beste eienskap nie. 'n Bejaarde swart dame wat my baie goed geken het, het haar eendag (dalk) effens verspreek toe sy sê: "Ou Leon, jy't 'n gat van goud." Ek hoop sy't "hart" bedoel. Indien nie, moes ek seker meer boud gewys het in my rolprente.

"Ek is 'n werkslaaf"

Soveel tyd is aan my beroep afgestaan dat die kosbare oomblikke van piekniek saam met my dogters, visvang saam met my seun, 'n rooi roos elke dag vir my ekse en vakansies sonder my skootrekenaar my spoedig verbygegaan het. Veels te gou.

 

Die grootste uitdaging wat ek moes oorkom, was om nie te tob oor foute nie, dit te delete en net op die toekoms te fokus. Mislukkings lê gestrooi op almal se lewenspad – nie noodwendig in jou werk nie, maar persoonlik, veral verhoudings wat skeefgeloop het. Dis moeilik om dit uit te vee. Al wat ek daaruit kon leer, is om nie die foute te herhaal nie.

Ek is 'n werkslaaf. Soveel tyd is aan my beroep afgestaan dat die kosbare oomblikke van piekniek saam met my dogters, visvang saam met my seun, 'n rooi roos elke dag vir my ekse en vakansies sonder my skootrekenaar my spoedig verbygegaan het. Veels te gou.

Ek mis dit om weer kind te wees. Die ongekompliseerdheid van kindwees is een van die dinge waarna ek die sterkste hunker.

Ek sal nooit kan aftree nie, solank mense my wil sien "optree" en met die genade wil ek aanhou doen wat ek doen. Weet nie hoe die bejaardes in die ouetehuis gaan voel as ek (DV) met groot kitaargeraas 'n Bokke-song vir 2030 probeer komponeer nie . . .