Jy was die jongste van die deelnemers. Dink jy jou ouderdom het teen of vir jou getel?

My ouderdom was beslis ’n voordeel. Ek dink omdat ek die jongste was, was my idees vars en nuut, en was  ek nie bang om bestanddele wat nie tradisioneel bymekaar pas saam te gebruik nie. Ek was bereid om kanse te waag en te eksperimenteer met nuwe idees. Ek het die voordeel van onbeperkte kreatiwiteit gehad wat kom saam met jonk wees.

Wat was die grootste uitdaging gedurende die kompetisie?

Ironies, my ouderdom. Omdat jy jonk is, dink mense jy is meer onervare as die ouer deelnemers. My vermoëns is beslis onderskat. Maar ek het geveg om bo uit te kom. Ek was deel van die top-vyf uit agtien deelnemers! En die een beoordelaar, Benny Masekwameng, het tydens my eliminasie gesê ek het van sy gunsteling-disse gemaak.

Wat het deur jou kop gegaan toe jy tydens die druktoets besef jou hoendervulsel is loperig? Hopeloosheid. Ek het besef die tyd is verby, my hoender het heeltemal verkeerd uitgekom en ek kan niks daaraan doen nie. Toe ek die ander deelnemers se disse gesien het, het my moed in my skoene gesak en ek het geweet vandag word ek uitgestem. Maar dis eers toe ek die woorde hoor, dat die teleurstelling oor my gespoel het. Ek was verpletter.

Hoe was dit om saam met die sjef Michel Roux junior te kook?

Sjoe, amazing! Dis ’n herinnering wat ek altyd sal koester. Hy is ongelooflik en ek het die wêreld se respek vir sy vaardighede.

Wat is die belangrikste les wat jy tydens die kompetisie geleer het?

Om jou kos te proe!