Dit het alles begin met ’n losskrum in die Springbokke se halfgebied. Bloemfontein, 25 Augustus 1962. Die laaste SA toets teen die Britse Leeus op hul toer deur suidelike en Oos-Afrika.

Awie Labuschagne van die SAUK het destyds die prentjie oor die radio ingekleur: “Mannetjies Roux is op die middellyn, hy swenk buitentoe en klop vir Cowan, dan sny hy weer binneveld toe by Budge Rogers verby. Dis nog net Willcox voor hom. Roux maak reguit, hy mik kantlyn toe en skiet weer veld in soos ’n blits by Willcox verby.Mannetjies Roux . . . M-a-n-n-e-t-j-i-e-s R-o-u-x! Hy is op die kwartlyn. Hy trap vas en duik soos ’n spuitvliegtuig oor die doellyn! Dis ’n drie. Dis mooi. Dis voetbal!”

Sommige sê Mannetjies Roux het daardie dag 25 tree deur die lug getrek voordat hy die glorie van die gras agter die doellyn geproe het. Ander sê dit was nader aan tien. Die rubriekskrywer Blou Willem van die dagblad Beeld sê hy het as laaitie geglo Mannetjies kan bo-oor ’n Harvard-vliegtuig duik!

Nou staan einste Mannetjies hier op ’n warm Karoo-aand, 48 jaar later, en hoender braai in sy sandale en kortbroek. Die eens parmantige buksie in die Groen-en-goud wat reuse soos die All Black Colin Meads in sy spore kon stuit.

Die gespierde kuite is nog daar, die ondeunde droë laggie. Die tong wat hy vasknyp tussen die lippe wanneer hy konsentreer.

Steeds “The Man” soos sy Charlotte hom noem. Die gesig agter Laurika Rauch se trefferliedjie “Stuur groete aan Mannetjies Roux”. Dié liedjie wat nou ’n musiekblyspel word, met SARIE as media-tydskrifvennoot.

Laurika het hom juis genooi om op 19 Mei die opening van die musiekblyspel in die Atterbury-teater in Pretoria by te woon.En inMaart het sy rustyd die liedjie by die groot rugbystryd tussen die Blou Bulle en die Stormers op Loftus Versfeld gesing.Mannetjies was ook by dié wedstryd en het bewoë langs haar gestaan. Mense in die skare het skaamteloos trane weggevee.

Op 18 Junie gaan Laurika weer halftyd in die wedstryd tussen die Cheetahs en die Stormers in Bloemfontein sing en dié keer gaan Mannetjies 7 m van die linkerkantste regoppaal staan – daar waar hy in 1962 sy beroemde drie gedruk het.

Die drie van 1962
 Mannetjies en Charlotte Roux

’n Ware legende in sy leeftyd, wat tussen 1960 en 1970 as een van die beste rugbyspelers ter wêreld beskou is. Hy was een van Dok Craven se gunstelinge, dié “klein koggtgat van die Kaggoo”, soos Dok hom in sy brystem beskryf het.

Maar hier op Victoria-Wes op sy dorpshuis se veranda staan ’n mensch met nederigheid. “Ek is eintlik net ’n skaapboer wat eens op ’n tyd voetbal gespeel het,” lag hy droog.

Sy vier kleindogters sing graag Laurika se liedjie vir hom, maar hulle het nie eintlik ’n idee hóé beroemd hul oupa regtig was (en is) nie. Vir hulle is hy net Oubie van die plaas.

Noblesfontein. ’n Erfpagplaas van 9 000 ha. Grond waarop die Rouxs al van 1820 af boer. As Mannetjies se seun, Pieter, dit eendag erf, sal hy die sewende geslag wees. Aarde wat deur die eeue ongenadige Karoo-droogtes beleef het. Geboortegrond wat byna nie bankrotskap oorleef het nie.

Laurika se liedjie het vir Mannetjies meer betekenis as net die verwysing na sy beroemde drie.Toe Charlotte op ’n dag vir hom die CD speel, het hy vooroor gebuig en rukkend begin huil: My oom het gesukkel op die plaas / want die son was te warm en die reën te skaars / en die man van die bank het net sy kop geskud / want my oom, ja my oom was te diep in die skuld.

Mannetjies wás al onderdeur. Dit was 12 jaar gelede, maar hy het die hele drama met die mislukte waterbotteleringsaanleg van sy seun, Pieter, agter hom gesit. Vriende soos die oud-Springbok Jannie Engelbrecht het destyds ingespring en hul maat gehelp.

“Ek het weer ’n troppie skaap bymekaar en verhuur ’n groot stuk van die grond. Dis nog die plek waar my hart is,” vertel die man wat die plaas soms bokant sy “voetbal-loopbaan” gekies het. Hy het die keurders ’n paar keer laat weet hy is nie beskikbaar vir die Springbokke nie. “’n Man moet
by sy skaap wees.”Hy erken ruiterlik hy was “seker beter sportman as boer, maar ek is baie lief vir die plaas”.

Op Noblesfontein sal altyd ’n stuk van sy en Charlotte se lewe tussen die karoobossies wees. “Ons kinders het daar grootgeword. Mannetjie het daar geveg teen die droogte,” vertel die statige vrou langs die eetkamertafel. Sy noem haar man “Mannetjie” soos sy familie hom ken, maar dit is eintlik sy wat destyds besluit het die bynaam wat een van sy kinderoppassers klein Francois as kleuter gegee het, kort ’n “s” agteraan.

“Dit was nie maklike jare nie, met hom wat soms tot vyf maande oorsee getoer het. Dan moes ek en die kinders elke keer oppak, want ons kon nie alleen op die plaas bly nie. Ons het gewoonlik by my ma in Pretoria gaan kuier. ’n Mens het verlang na Mannetjie en die plaas. Maar ek het hom sy voetbal gegun. Met die 1968-toer na Frankryk het my ma vir my betaal om op ’n ondersteunerstoer saam te gaan. Ek en Ellen Engelbrecht, Jannie se gewese vrou, was toe al maats en is steeds. Ons kon die manne darem tydens die wedstryde sien.”

Voor Charlotte lê die albums uitgepak waarin sy 49 jaar gelede haar troue met die Springbok-ster beplan het. Daar is selfs nog stukkies van die strooimeisies se lap in.

Knipsels van twee SARIE-artikels uit 1962 berig oor “die troue van die jaar in die Karoo” en hoe Charlotte se ma, tant Frikkie Jooste, destydse koshuismoeder van Asterhof op Tuks, die onthaal haarfyn beplan het. Skemeraand het 600 gaste om vuurkonkas aan braaivleis gesmul op Doornkuil, ’n familieplaas van die Joostes naby Britstown.

Dit was ses weke ná Mannetjies se drie. “Die pers het op die dorp saamgetrek. Almal wou sien hoe Mannetjies Roux trou,” vertel Charlotte. “Hulle het my gesmeek om my rok voor die troue te sien, maar ek het dit weggesteek tot die groot dag. Dit was ’n pragskepping deur Pieter Borman en dit hang nog in my kas.”

Sy was maar “ ’n skaam 23-jarige” en het nie soveel mense in die strate voor die kerk verwag nie. Broer Attie en sus Annatjie moes haar behoorlik die kerk instoot toe sy huilend van skok verstar het. “Ek het nie toe besef ek gaan in die kollig wees nie. Ek was maar net Charlotte. Ek het eers op honeymoon besef mense herken hom.”

Sy lag oor hoe hartseer die meisies was toe die aantreklike Mannetjies met haar getrou het. “Ek ontmoet nog gereeld vroue wat my vertel hoe jaloers hulle destyds op my was.”

Hulle het onlangs by ’n winkel op Jeffreysbaai gestop en toe die eienares besef Charlotte kom van Victoria-Wes af, het sy dadelik gevra of sy Mannetjies ken. “Ek het toe maar gesê, ja, ek ken hom. Sy het vertel sy het hom as jong man geken ‘nog voor Charlotte’. Sy het gevra of ek vir hom ’n brief sal gee. Ek het stilletjies gelag en die brief geneem. In die kar het ek dit vir Mannetjie gegee: Dè, hier is vir jou ’n love letter.”

Mannetjies lag verleë oor die aandag en erken darem hy het sy oog op Charlotte van Britstown gehad vandat hulle 15 jaar oud was. “Ek het haar foto by haar sus Annatjie gesien toe my broer nog daar vlerk gesleep het.”Hy gaan haal die foto en wys dit trots.

“Ja, kan jy glo, hy skryf toe vir my ’n brief: ‘Jy weet nie wie ek is nie, maar ek weet wie jy is. Ek weet jy hou baie van sport. Ek hou ook baie van sport, hoewel ek nie goed daarin is nie . . .’ Verbeel jou nogal!” Charlotte was in die Hoër Meisieskool Oranje in Bloemfontein en hy in die Hoër Jongenskool Paarl, maar hulle het mekaar tydens die Junie-vakansies by rugbywedstryde in die Karoo gesien.

Mannetjies het Charlotte eers die hof begin maak nadat hy sy vlieëniersopleiding in Harvards in die lugmag voltooi het en hy agter sy held Dok Danie Craven aan Maties toe is om landbou te gaan studeer. Charlotte was toe al ’n tweedejaarstudent in liggaamlike opvoeding en ’n kranige eerstespan-hokkiespeler vir Maties.

Hulle is nie direk ná die troue plaas toe nie.Mannetjies het eers vir twee jaar as vlieginstrukteur by die lugmag aangebly.

Die twee is nou albei 72 en geniet die lewe nog voluit. Naas Charlotte se antiekwinkels, die Victoria Trading Post en die Mannetjies Roux Museum en Ant Tiek, en The Man-gastehuis speel hulle rolbal en gholf. Hulle is deel van ’n bedrywige sosiale lewe op Victoria-Wes en is steeds vriende met oud-Springbok-pare soos Syd en Anne Nomis, Jannie Engelbrecht, Ellen, en Piet en Carol Visagie.

“Ons geheim vir ’n gelukkige huwelik en die oorwinning van al ons sakke sout is ’n gesamentlike groot liefde vir sport, respek en vriendskap. Ons kan van hier tot in die Wildtuin onophoudelik gesels,” sê Charlotte.

“Sy het my my sport gegun en teruggestaan daarvoor. As Charlotte jaloers moes gewees het, sou ons net ’n jaar getroud gewees het. Die meisies het ons ouens maar ge-idolise,” vertel Mannetjies.

“Ons is nie betaal vir oorsese toere nie. Van die ouens moes onbetaalde verlof neem en party moes hul werk los. Ek moes mense kry om te kom help op die plaas. Dit het ons geld gekos om voetbal te speel. Jy het net genoeg gekry om twee biere ’n dag te koop. Daar was ook nie die luukse van vliegtuigritte om te gaan speel of te oefen nie. Ek het dikwels trein gery toe ek nog vir Griekwas gespeel het. En dan mag ek boonop net vir ’n tweedeklaskaartjie geëis het!”

Mannetjies het in 27 toetse gespeel en die Springboktrui 56 keer aangetrek. Meestal as vleuel of senter.Griekwas het in 1970 onder sy aanvoering die Curriebeker gewen. In sy hart, vertel hy, bly hy altyd ’n Griekwa, hoewel hy vir Noord-Transvaal en die WP ook uitgedraf het.

Mannetjies en sy Charlotte op hul troudag 49 jaar gelede

Hy het sy “voetbal”, soos hy dit steeds noem, begin afskaal toe hul oudste, Pieter (nou 48), en Francette (nou 45) begin skoolgaan het.

“Pieter was aan die skraal kant, maar ek glo hy sou ook eendag Springbokrugby kon speel. Ek was trots toe hy sy Springbok-kleure in atletiek gekry het. Francette het op haar eie gebied goed presteer en was in 1994 waarnemende ambassadeur in Bulgarye.”

Hul vyf kleinkinders is vir hom en Charlotte soos juwele in ’n kroon. Francette is trots op haar pa omdat hy vir hulle ’n gewone pa gebly het ondanks sy status as legende. Sy beskryf hom as iemand wat “steeds so nederig soos ’n karoobossie is”.

Pieter erken dat hy en sy pa nie altyd langs dieselfde vuur gesit het nie, maar dat hy “ ’n rugby-genie is en my grootste held”.

Mannetjies self is nie behep met sy legende-status nie. “Ek het bekendheid maar so in my stride gevat. Mense was nooit lelik met my nie,maar die koerante het my bygekom.”

As gevolg van sy vasberade spel en humeurigheid op die veld is hy dikwels as rugbyboef uitgekryt. Hy het nie nonsens gevat as hy op die veld is nie, en tydens die befaamde betogertoer na Engeland in 1969 het hy ’n betoger wat dit te na aan hom gewaag het summier onder die jis geskop.

Maar hy is terselfdertyd ook geprys vir sy geweldige spoed en die talle drieë wat hy deur sy spel vir sy span geskep het. Hy het self net ses drieë in die Springboktrui gedruk. Maar daardie een van 1962 sal altyd onthou word.

“Nou eendag vra ’n joernalis my of ek toe ek so deur die lug getrek het, sou kon dink daar sal eendag ’n musiekblyspel na my genoem word?”

Hy lag sy vonkel-in-die-oog-laggie. Die Karooboer wat ’n Harvard kon land. Die kort man wat op sy dag ’n rugbybal met een hand van die veld af kon opraap. Die meester van kwiksilwer-kronkellopies.

Die legende . . .