Daai boskasie. Einstein, Simson sou Marc Lottering s’n sweerlik beny het. En het al drie se krag nie dalk in hul hare gelê nie? Simson was die wêreld se sterkste, Einstein die slimste en Marc ... vir lojale ondersteuners die snaaksste.

As regstudent by die Universiteit van Kaapstad was sy hare kort, betaamlik. Toe beland hy op die verhoog, die kreatiewe sappe begin vloei – en kyk hoe lyk pastoor Lottering se seun nou!

Sy oë flits oor die see waarop die koffieplek in Seepunt uitkyk. Dan boor hy ingedagte met sy wysvingers weerskante van sy kop, asof hy só, op ’n magiese manier, diep dinge daar onttrek. Woel aan ’n krulletjie. Sy stem is sag, sy lag hartlik en uit sy maag. Moenie vra hy moet grappies rondom ’n braaivleisvuur maak nie. Jý gaan teleurgesteld wees – hý gaan stres. Meraai lê kaal in die pad, néé. Maar die komiese, absurde in ’n situasie, dié praat onmiddellik met hom en hy bons dit na jou toe terug. “Gister kyk ek wie op my Facebookblad word Corona genoem. Kan jy jou indink dis jou naam en jy moet by internasionale paspoortbeheer aanmeld ...”

Op skool was hy soos ’n vis op droë grond, “bietjie van ’n alleenou”. Daar was wel onderwysers wat iets in die laaitie van Retreat op die Kaapse Vlakte raakgesien het. Soos Pamela Steyn, hoof van die dramavereniging. Sy het hom nes ’n superster behandel. ’n Tricky tyd gewees, maar in sy laat hoërskooljare het hy sy eie tribe gevind. “Randeiers soos ek” wat buite die boks dink en met wie hy steeds vandag vriende is. Stadigaan het die besef posgevat: Hy wou mense goed laat voel.

“As ek sien jy stry met ’n vriend, gaan ek uit my pad om die situasie met ’n snaakse storie te ontlont. Die lewe is nou eenmaal net te kort. Ek probeer sover moontlik die funny kant van als raaksien. “Jy maak vroeg al die keuse hoe jy die lewe gaan benader, sonder dat jy dit besef. Ek praat onlangs met iemand daaroor, dis baie winderig waar sy bly. Ek sal sê kyk hoe lekker is dit by jou huis. En sy antwoord: ‘Geniet dit maar vandag, want môre ...’ Sy google om te kyk wat die wind die res van die week gaan doen! En só mis jy uit op vandag.”

Op sy arm, te groot om te mis, is getatoeëer: Aunty Merle. Sy alter ego van Belgravia Road in Athlone was aanvanklik een van vyf karakters, “want ons wil mos almal lekker lag vir 80 minute”. Stadig maar seker het Merle egter die kollig vir haarself opgeëis en die middelpunt van twee suksesvolle musiekblyspele geword: Aunty Merle: The Musical, wat vir vier Fleur du Cap-toekennings benoem is; Aunty Merle: It’s a Girl het begin vanjaar ’n heuglike, vier maande lange speelvak in die Kaap voltooi. Vertonings later vanjaar in Kaapstad en Johannesburg is weens die coronapandemie gekanselleer.

Dié auntie, bieg hy, het ’n goeie klap van sy oorlede ma, Iris, weg. Nogal in touch met haar eie, innerlike drama-queen gewees. Nietemin het dit haar langer as sy pa, Sandy, ook oorlede, geneem om te aanvaar haar jongste se flirtasie met die verhoog is meer as ’n fase. Hy’t dit eers stilgehou, maar pryk toe later op plakkate vir die en daai vertoning.

Iris het moeilik haar droom vir hom, dat hy ’n prokureur word, laat gaan. “Sy wóú my in daai swart toga sien.” Toe hy eenkeer ’n gas was op People of the South, het aanbieder Dali Tambo ook ’n onderhoud met Marc se ouers gedoen. Hy was by ’n vertoning van Marc, vertel Tambo toe. “Die definisie van die evangelie is goeie nuus en terwyl jy preek laat dit mense goed voel,” sê hy vir Sandy. “Marc doen dieselfde ding, dis net ’n ander soort blye boodskap.”

“Dit het by my vasgesteek. Ek dink dit het my pa ook met ander oë na my beroep laat kyk. Miskien is ek net ’n ander soort pastoor.”

En ja, sy ma het Merle ontmoet. “Sy het gereken dis ’n baie foolish karakter!”

Jou pa was ’n Pinksterkerk-pastoor. Was jy die stout een?

Ons het met musiek grootgeword. Jy glo almal sing en bespeel een of ander instrument, só ’n natuurlike ding was dit. Dit maak dat jy nie bang is om voor baie mense op te tree nie, want jy sing Sondae in die kerk. So, jy het die gevoel wat vandag nog daar is [vryf oor sy maag], die maagsenuwees wat fladder, maar jy doen iets wat jy love. Ek en Tony, my ouer broer, was goedgemanierd en het by die reëls gehou. Maar ek was ook die een met gaatjies in my ore – ’n groot moenie vir mans in die tagtigs – en het saam met mense uitgehang wat nie in die Pinksterkerk was nie. In ons kerk was meisies nie veronderstel om langbroeke en grimering te dra nie. My vriende hét en by my huis gekuier. Op daardie manier het ek die reëls gebreek, ja. Kyk, as jy die pastoor se kind is, geld ’n ander stel reëls in elk geval vir jou.

Jou pa het jou op sy sterfbed gevra of hy ’n goeie pa was en jy kon opreg antwoord, ja!

Hy het breinkanker gehad en daar was dus tyd vir daai gesprek. Ek beskou myself as bevoorreg dat dit moontlik was. Dieselfde met my ma, wat ’n paar maande ná hom aan ’n hartkwaal oorlede is. So pynlik soos dit was, was daar tyd om afskeid te neem. Net saam te wees, nie noodwendig te praat nie. My ma het gedink sy gaan eerste en was baie dramaties daaroor: “My heart is failing me!” En toe is dit my pa. Ná sy dood het sy eendag vir my gesê: “Kan ek maar gaan? Julle het my nie meer nodig nie, ek wil nie meer sonder hom hier wees nie.” Op skool het jy effens apart gevoel.

Watter rol het jou gay-wees gespeel?

Ek het nie toe die woord daarvoor gehad nie, sekerlik het ek nie daaraan gedink as iets permanent nie, net ’n fase. Maar ja, ek was aangetrokke tot mans. Jy loop verby iemand en hy sê, hei, moffie! Jou hart stop, uitgevang. Kan mense dit sien aan die manier hoe jy loop, praat? Dis ’n baie seer plek om in te wees. Vandag? Dit gaan oor wie die woord gebruik, wat die bedoeling daaragter is. Dit kan jou terugneem na daardie seer plek toe. Of ’n celebration wees, afhangende van die mense om jou. Ek praat juis daaroor in ’n video-clip vir die #CalledAMoffie-veldtog, wat die bekendstelling van die fliek Moffie voorafgegaan het.

En die reaksie op die video?

Skole kontak my: Hulle wil die gay-kwessie by die horings pak en kan ek daaroor kom praat? En ek sê ek kan nie. Nee, ek’s ’n comedian! Is jy gek! Ek’t nie die skills nie. Maar my vriende sê herhaal net wat jy op die video sê. Jy weet, ek kan dit dalk deel van my gewone motiveringspraatjie maak. Ek praat gewoonlik by skole oor die druk om aan ’n sekere groep te behoort. “Moenie in twee geskeur voel omdat jy dink jy bewaarheid nie jou ma se droom vir jou nie. Dis oukei om ’n ander pad te kies.”

Is dit makliker vir die jonger geslag om uit die kas te klim, daar is tog ’n groter openheid?

Dis baie persoonlik en gaan van die mense afhang wat jou omring. As jy nie op ’n progressiewe plek is nie, maak dit nie saak wat jy op Netflix sien nie. Jy is saam met dié groep en nou kom jy uit met ’n pienk feather boa. Dit gesê, ons Suid-Afrikaners is bietjie voor die res van die wêreld. Ons gaan deur so baie dinge. Watwou corona, ons het die polonie-krisis oorleef ... Merle se seun is gay en sedert die eerste musical was daar beslis vooruitgang by gehore. Ons moes ons elke aand staal vir die toneel waar hy sy ma vertel hy’s gay. Mense in die gehoor sou gil “moffie”, “double adapter”! Nou is daar ’n skobbejak in die storie wat homofobies is en die gehoor haat hom. Want dis iemand anders se kind wat hy so uithaal. Dit in ’n kwessie van ’n jaar en ’n half. Dís Suid-Afrika.

Herman Lensing, SARIE se kosredakteur en ’n fan, vra: Hoe kry jy dit reg om so maklik in Merle se hoë hakke te dans?

Jy doen dit goed, of glad nie. En daar is nie ’n oomblik se wrokkigheid terwyl jy dit doen nie. Maar terug in my kleedkamer is my respek vir vroue só groot. Jy kan nie wag om daarvan ontslae te raak nie, van die hoë hakke én opgestopte bra. Dis ongemaklik! En ek dink, wow, daar is soveel druk op vroue. Nou ja, ek dink mense het op ’n plek van self-eienaarskap, self-identiteit gekom. Jy kan jou eie interpretasie van vrouwees hê, minus die skoene en opgestopte bra. Maar sjoe, om heeltyd onberispelik te moet lyk.

Tarryn Lamb [wat help skryf het aan Aunty Merle: The Musical se liedjies] vra: Toe jy Aunty Merle geskep het, sou jy ooit kon dink sy gaan soveel hoop en vreugde bring, soveel lewens verryk?

Die manier hoe mense reageer, die kommentaar op sosiale media was lewensveranderend. Ek het besef sy het nie net op my lewe ’n impak gehad nie. Ons probeer ons stories eg en relevant hou. Fokus op wat nou in die wêreld, jou huis gebeur. Hartseer, egskeiding ... ek het met couples gepraat terwyl ek die script skryf. Ons probeer om mense te laat huil van die lag en gooi hulle dan met so ’n double whammy. Hulle huil nie meer van die lag nie, maar omdat hulle identifiseer met wat op die verhoog gebeur. En nee, ek het geen idee gehad nie, dit was ’n journey en nie vooraf so beplan nie. Komediante het dikwels ’n donker kant.

Hoe ervaar jy hierdie balans tussen lig en donker?

Dis ’n probleem as jy nie weer jou pad na die lig toe kan teruggrawe nie. By sommige komediante kom dit na vore as ’n bitter getier. Dis slim en skerp en slaan jou in die maag – en los jou net daar. Komedie hardloop nie van die donker issues weg nie, dit word daaruit gebore. Maar vir elke onderwerp wat jy aanraak, moet daar ’n payoff line wees, mense wil lag, van die normale lewe weggevoer word. Ek? Een van my vriende noem my die Jo-Ann Strauss van komedie. [Hy gee die koninklike wuif.] Alles is net so fabulous. Dit het deel van my brand geword en mense wat my goed ken, lag hard daaroor. Dis wie jy by die braai gaan ontmoet. Ek kan nie in die donker bly nie. Dis my aard om almal om die bak aartappelslaai gelukkig te wil maak.

Wanneer kan ons ’n Aunty Merle-movie verwag?

Bid ... my lippe is verder gesnoer.

Jy’t in 2004 teen ’n stilstaande motor vasgery terwyl jy getrek was. Daarna vir sielkundige berading gegaan en ’n eenmanvertoning, Crash, oor die gevare van drink en bestuur geskryf.

Waarvoor ek ’n toekenning ontvang het, ook net in Suid-Afrika. Eendag, terwyl ek by die sielkundige sit, stap die ouens wat die vullis bymekaar maak verby die oop venster. Een ou kyk, herken my: “My broe’, is jy bietjie ...” Met die wysvinger langs die kop wat wys: Van lotjie getik. Kyk, ek was net gelukkig niemand is in die ongeluk dood nie. Of in ’n rolstoel nie. Dis wat deur my kop gaan, elke keer wat ek met ’n drankie sit. As jy by die tweede een kom, glo jy mos jy kán maar bestuur. Ek het my les op die harde manier geleer. Ons lewe in ’n beter tyd, met die Uber-app, regtig. Amper die helfte van my gehoor uber deesdae.

Jou vertonings is in Engels, maar jy gebruik sulke tipiese Kaapse woorde, soos barakat, ’n kospersentjie ...

Sommige woorde kan ek nie weerstaan nie. Soos kanalla, asseblief. En sjoekran, dankie. Dis hoe ons mense praat, of jy ’n Christen, Hindoe of Moslem is. Jy wil dit nie vertaal nie, want dis special vir mense wat hier opgroei. Hulle raak emosioneel as ek dit gebruik. Mense panic as hulle my naam op ’n poster sien. “Ek verstaan nie Afrikaans nie.” Maar as jy love, joy, pyn verstaan, sal jy ons stories verstaan, al is daar Afrikaans in.

Hoe het jy die groot opsluit weens die coronavirus hanteer [vra ek later]?

Oukei. Dit was in elk geval nodig dat ek die handrem bietjie optrek. Ek het ’n kitaar net voor die lockdown gekoop en dit leer speel. Ek dink as ons bewustelik lewe, gaan ons anderkant uitkom en anders dink. Ons neem so baie dinge as vanselfsprekend, vriende, kos, water, ’n plek om te bly. Ek sal hierna anders dink. Anders lewe. Al die een gehoor van Marc wat die toeris wou help? Twee skollies het haar beloer en hy wou haar waarsku. Maar toe sy daai haredos sien, begin sy retireer. Hoe nader hy kom, hoe vinniger gee sy pad. “Daai vrou het my seergemaak. Ek’s ’n mooi seun met ’n vriendelike glimlag. Anwar [Mc Kay, sy man], wat die hele ding sien, het gehuil van die lag. ‘Los dit,’ sê hy. Maar nee, ek wil mos ’n goeie seun wees!”