Elma Postma, Angelique Gerber, Nadia Beukes, Minki van der Westhuizen en Leah. Oor die jare het hierde vyf vroue oor die land heen gereis om kupido te speel vir verskeie Suid-Afrikaanse boere. Daar was liefde gevind in die Vrystaat, Limpopo, Noord-Kaap en selfs die Wes-Kaap.

Boer Tikkie, boer Hennie, boer Johan, boer Fanie, boer Gerrie en boer Adriaan is net van die manne wat danksy die realiteitsreeks Boer soek ’n vrou liefde gevind het

Nou gaan ’n nuwe aanbieder die leisels by sangeres Leah oorneem: Marciel Hopkins. 

SARIE lesers sal haar ken, want die afgelope paar jaar het dié internasionale model en motiveringspreker gereeld vir SARIE.com blogs geskryf. 

In Desember-2019 het sy spesiaal weer vir ons iets neergepen.

“Ons kan baie hard op onsself wees, veral as vroue. Die wêreld kommunikeer aan ons sekere verwagtinge om ’n beroep, ma-wees, vrou-wees en net sélf-wees te balanseer asof dit ’n vereiste is. Ek het nog nie eens kinders nie en voel dikwels oorweldig deur die verantwoordelikhede op my skinkbord en my loopbaandrome wat my opgewonde en terselfdertyd bang maak,” skryf sy.

Marciel Hopkins is die nuwe aanbieder van Boer soek ’n vrou. FOTO Instagram / Marciel Hopkins

Marciel het toe gebieg dat 2019 nie ’n maklike jaar was nie.

“Hierdie jaar was nie altyd vir my maklik nie. Ek het op 26 vir die eerste keer wérklik ’n punt bereik waar ek van myself en my liggaam hou. Ná die wipplank wat my gewig gery het voor en ná die Mej. Suid-Afrika-wedstryd in 2016, was ek uiteindelik op ’n plek waar my liggaam haar neutrale happy place gevind het. En met die happy place is ek ook nou letterlik te lig vir die mode-industrie!”

Maar nou, in 2020, is sy sielsgelukkig en reg vir die nuwe Boer soek ’n vrou-avontuur. 

Lees haar volledige inskrywing hier

Minki se raad vir toekomstige aanbieders

In 2018 het Minki die volgende wenke vir toekomstige aanbieders gegee.

- Wees 100% jouself.

- Moenie enige ander aanbieder se styl probeer naboots nie. Plaas jou eie stempel op die reeks.

- Jou eie uniekheid en karakter is genoeg.

- Vertrou die span wat saam met jou aan die reeks werk en ondersteun hulle.

- Elke boer en vrou is uniek. Probeer om elkeen op hul gemak stel.

- Laat hulle toe om te praat én te luister.