Yzerfontein het werklik ’n goue strand. Daar waar die ou deel van die dorp knus buk voor die ligblou see - en die nuwe groot huise verder teen die kus af die fynbos opslurp.

(Meestal met oorsese of Gautengse eienaars.)

Dis hier waar Egoli se “Weskusmeisie” vandaan kom. G’n wonder Marguerite Wheatley het daardie egte Weskus-aksent en iets in haar stem wat na see klink nie. Heilsaam, ja, maar sy voel baie sterk oor die nuwe vlaag huiseienaars wat soms, “as die bakkiebouers hier aankom”, sonder omhaal duine laat platstoot en inheemse bosse uitkap vir groot geplaveide opritte en drieverdieping- kolosse.

“’n Maatskappy-grootbaas het daardie groot huis bo teen die heuwel gebou. Maar ek dink nie hy was die afgelope vyf jaar al langer as ’n week op Yzerfontein nie. Party mense het darem baie geld, hè?

“Dit was baie anders toe ons klein was. Ek onthou in die middae het ek en my twee maatjies kaalvoet van die skool af gekom en die hele middag in die see geswem en op die sand rondgehardloop. En dit was dan net ons drie op die strand. Nou en toe is twee verskillende plekke.”

Dis ’n koue see hierdie, voel ek met my voete in die water.

“Dit is so, die see is ysig. Maar die maklikste manier is om dadelik, met jou hele lyf, in die water te duik. Dan vries jy só vinnig dat jy niks voel nie!” verduidelik Marguerite.

Laerskool was vir haar op Darling - gewoonlik so tien minute se ry van Yzerfontein af.

“Maar my ma het ons nog soggens met die bakkie skool toe gevat en dan het ons so sta-a-a-dig agter die trekkers aan gekruie ... Dit kon ons tot 40 minute neem om by die skool te kom.” Sy het daarna Yzerfontein se koue water verruil vir hoërskool aan Paarl Gimnasium, maar naweke en vakansies het sy so gou moontlik na haar speelveld teruggekom. Die baai ...

Sy staan kaalvoet op die strand tussen SARIE se foto-span. Die dag is oop en soel en warm, sweterig. Sy bly koel en geduldig. Marguerite speel die rol van Doreen, die enetjie wat in November verlede jaar in die nuus was nadat sy en Des, ’n mede-karakter in Egoli, mekaar fisiek aangevat het in ’n “katgeveg” en dit sommige kerkmense ontstel het. Gelukkig het die storie vinnig getaan ...

Ons gesels in ’n restaurant op die strand: “Haai, ek het nog hier gewerk!” Die kelnerin-ding het Marguerite gedoen.

“Ek was my hele lewe tot dusver altyd iewers ’n waitress,” sê sy. Sy bestel ’n groen koeldrank. Sy’s nog jonk. Lief vir die lewe en baie lief vir harde musiek. In ’n mate is

sy steeds die kaalvoetmeisie op die strand, die een wat met ’n fantasiesambreel en ’n lang wit rok oor die water uitkyk. Sy is erg opgewonde oor die res van haar eie verhaal. Want

Doreen in Egoli, so lyk dit, is vir haar nog net die begin ... Sy pas reeds gemaklik in haar eie vel, dankie.

Vertel bietjie van jou familie?

My ma is oorspronklik Duits, sy kom van Namibië af. Daar is lekker baie Duitse bloed in my. Kan jy nie die neus sien nie? Kyk. (Sy draai haar kop skuins, wys na die bobbel op haar neus.) My ma het die eerste ysterwarewinkel op die dorp gehad, wat sy so ’n jaar gelede verkoop het. My pa is ’n bouer; hy en my ma het alles saam-saam gedoen. Dan’t ek ’n broer wat ’n bietjie ouer as ek is. Ons is groot vriende.

Goeie kindertyd?

Ek het ’n wonderlike kinderlewe gehad. En ja, ek was ook maar lekker rebels. My ouers wou hê ek moes hotelbestuur gaan studeer. Toe gaan doen ek drama by CityVarsity in Kaapstad. As ’n mens jonger is, doen jy niks soos jou ouers dit graag wil hê nie.

Het jy ná skool gaan reis soos almal deesdae doen?

Ja, ek was ’n kelnerin in Oostenryk - ek praat gelukkig Duits. En daarna het ek vir ’n tydjie in Amerika au pair-werk gedoen. Ná my studies was ek weer eens ’n kelnerin - in Londen. Maar SA is regtig, egtig vir my die lekkerste plek. Veral hier, op Yzerfontein. Al

het dit nou al so verander. En was drama ’n goeie keuse? Ja! Ek is mal oor act. Toneelspeel is my lewe. Ek is van skool af mal oor dans - ek het ook ballet gedoen. En kuns was my ander sterk vak. Ek hou van op en af spring, en beweeg, en dóén! Ek doen ook kick boxing, dis lekker sterk, en lewendig. Ek het ook begin met ’n aërobiese instrukteurskursus, en sal dit graag wil klaarmaak. Maar die ou soort - step, en so. Dis besig om te verdwyn. Ek hou nog van hoe Jane Fonda en daardie klomp dit gedoen het.

Hoe het jy op TV beland?

Ek het maar soos almal vir oudisies gegaan. Ek het verskeie sepies probeer. En die eerste keer het ek nie ’n rol gekry nie. Het maar weer en weer probeer. Daar is toe nie verniet ’n gesegde soos aanhouer wen nie.

Wat het Egoli jou geleer?

Dit het my al baie geleer. Veral hoe om professioneel op te tree in enige situasie, al is dit party keer hóé moeilik. Ook om getrou aan jouself te wees, dat dit immers steeds slegs ’n werkomgewing is, dat die blink nie regtig is nie.

Ek het ook geleer om my woorde agterstevoor om te ken - sodat jy nie hoef te dink aan wat jy moet sê nie en eerder vry kan wees om dinge op stel te probeer wat onmoontlik sou wees as jy nie jou woorde intiem geken het nie.

Toekomsplanne?

Baie! Ek geniet myself nog gate uit by Egoli en weet ek het nog baie om te leer, maar terselfdertyd wil ek ook nog baie aanpak. Ek wil verder studeer. Met akteurswerk sal ek ook graag in die Engelse mark wil inbeweeg. En ek wil weer oorsee gaan.

Pla aanhangers jou baie?

Ek is gelukkig dat ek nie regtig soos my karakter in Egoli lyk nie. Sy is meer, hoe sal ’n mens nou sê, afferig. Blou. Hou van bons-musiek en soaan. Sy trek heeltemal anders aan as ek, byvoorbeeld. Maar ek hou van haar! So, ek word nogal min herken. Soms in die Kaap, wel. En as dit gebeur, is dit nogal moeilik. Veral as jy in ’n restaurant sit en die mense het al bietjie gekuier, jy weet.

Dit het al een keer met my gebeur dat ’n man my nader sleep, letterlik, aan my arm, en op sy skoot sitmaak. Maar aan die ander kant het die rol en die sogenaamde bekendheid al soveel deure vir my oopgemaak. Die heel lekkerste daarvan is dat jy mense ontmoet wat jy dalk nooit andersins sou teëkom nie.

Jou musieksmaak is dus nie bons-musiek nie?

Ek is mal oor kragtige musiek. Veral rock, en uiteenlopende goed - van Fokofpolisiekar tot Niemand. Joe, die leier van Niemand, skryf die mooiste, diepste songs. Ek kan nie verstaan dat hulle nie meer bekend is nie ...

En dan hou ek van die sterk vrouerockers, soos Janis Joplin, Patti Smith ... Courtney Love. En Duitse en Skandinawiese rock en metal, soos Him - hulle sing love metal, en Guano Apes en Rammstein.

 Wat is jou ander passies?

Diere. Alle diere. Katte, honde, akkedisse, vlinders. Die oseaan. Die platteland. En boeke, boeke, boeke. Wanneer ek ’n goeie fliek gesien het, is ek heel high vir ’n paar dae. Om

nie eens van musiek te praat nie. En oefening, soos ek gesê het.

 Watter boeke?

Ek lees verskriklik, tans meestal biografieë. Dit leer ’n mens nogal baie. Ek sien dikwels dinge - veral in die lewe van mense soos Patti en Courtney - wat ooreenstem met goed wat ek nou ervaar, en hoe hul reaksies op situasies die verloop beïnvloed het. Dit laat ’n mens dink oor jou eie keuses. Ek het ook onlangs Jungle Child, deur Sabine Kuegler, gelees - oor ’n vrou wat in ’n baie natuurlike omgewing grootgeword en vreeslik gesukkel het om aan te pas in “die beskawing” toe sy moes teruggaan. Dit het my baie geraak.

 Droom jy goed oor en oor?

Ja! Ek droom verskriklike snaakse goed vandat ek Dean Koontz se boeke begin lees het. Maar ek het opgehou, want dit foeter my op! Ek droom byvoorbeeld altyd ek probeer wegkom van een of ander bose mag en ek ontwyk dit die heeltyd net-net - maar ek bly bang. Ek’s nog steeds bang vir die donkerte ...

Boeke is erg realisties, want jy vorm jou eie prentjie ... and that sticks! Baie meer as flieks, byvoorbeeld. Baie meer.

Hoekom, dink jy, speel ’n mens toneel?

Ek dink dis ’n vorm van self-uitdrukking. Die wêreld van toneelspel gaan gepaard met geskiedenis, kunsgenres, politiek, kerk, kleur, ras, liefde, haat. Dis alles. Maar ek het nie regtig ’n antwoord op die vraag nie.

En hoekom gryp dit kykers so aan?

Omdat dit vryheid van spraak is. Net soos vir joernaliste en skrywers. Dit pers sekere emosies uit kykers uit. Soms lag jy, soms huil jy, jy gil, jy sug ... Enige mens wil al daardie emosies voel.

Sou jy graag ’n eeu in die toekoms of ’n eeu terug wou leef?

’n Paar dekades terug. In die sestigs of sewentigs. Dit was die tyd van die Rolling Stones, The Who, Jimmy Hendrix, Janis Joplin, Uriah Heep, Grand Funk, Black Sabbath, Neil

Young ... Wat meer wil ’n mens hê?

Ek hoor jy hou so van rugby?

Wel, ek het nie juis ’n keuse nie, het ek? My broer, Doug, speel vir die Stormers. En my kêrel, Ernst Joubert, speel vir die Cats. Ernst is ook die broer van Alta Joubert, die rocker.

So, rugbyspelers en rock-liefhebbers sal gemaklik wees in die geselskap van die Jouberts en die Wheatleys ...

 Wat laat ’n verhouding werk?

Kommunikasie. In woorde én in aksie van albei kante af. Dis baie soos in ’n toneelstuk! Die belangrikste ding is: Luister! Ek doen dit nie altyd nie, maar weet dis belangrik. Respek, want as dit eers verlore is, kan jy maar vergeet. Lag! Dis gesond. Vind humor.

Beskryf jouself in vyf sinne.

70% pessimis; 30% optimis. 100% mental. Ek is redelik anarchisties, maar ek hou dit vir myself. Ek is liewer vir diere as vir mense. En ek het ’n ongelooflike verbeelding!

* * *

Sy het nooit haar groen koeldrank klaar gedrink nie. Sy slaap die aand by haar ouers en loop sommer huis toe. Steeds die kaalvoetkind van Yzerfontein se baai.

GUNSTELINGE

KOS: Snoek met vars witbrood en jam. Soesji

DRANK: “Ricky Louw” (Richelieu-brandewyn en Coke. )Of ’n goeie rooiwyn

AKTEUR/AKRISE: Benicio Del Toro, Juliette Lewis en Naomi Watts

FILM: Natural born killers

PLEK: Yzerfontein

MENS: My kêrel ! (O, ja ,ek moet seker ook sê my familie, anders voel hulle left out.)