Sandra Prinsloo, Anna-Mart van der Merwe, Rolanda Marais, Jill Levenberg, Roeline Daneel, Cintaine Schutte, Minki van der Westhuizen, Leah. Al agt vroue sterre uit eie reg. Met nog iets in gemeen: Marí Conradie, die talentvolle grimeerkunstenaar en stileerder wat in natuurlike skoonheid glo.

Marí is al ’n dekade lank in die bedryf, met rolprente soos Dis koue kos, skatJohnny is nie dood nieDie SeemeeuKanarie’n Ander mens en Ellen: Die storie van Ellen Pakkies op haar CV. Sy het ook vir twee seisoene gesorg dat Minki van der Westhuizen eksieperfeksie lyk as aanbieder van die kykNET-realiteitsreeks Boer soek ’n Vrou. Die nuwe aanbieder, Leah, is ook nou in haar bekwame hande. Verder maak sy bruide mooi vir hul groot dag. Ja, die woord “lui” is nie in haar woordeskat nie.

Marí Conradie glo in natuurlike skoonheid. FOTO Instagram/ Mooiste Mooi

“Daar bestaan nie iets soos ’n afdag nie!” skerts Marí. Sy vertel vir SARIE.com sy het tydens die verfilming van Die Seemeeu haar linkerarm gebreek, maar die volgende dag was sy terug op stel. 

“Van die tonele kan ek nie meer onthou nie, want ek was op sterk pynpille. Ek moes nog met my gebreekte arm Rolanda se hare sny ook. Dis rof en nie altyd maklik nie, maar beslis die moeite werd.”

Met ’n gebreekte arm op die stel van ‘Die Seemeeu’. FOTO Instagram/ Mooiste Mooi

Die afgelope naweek by die kykNET Silwerskermfees in Kampsbaai is Jill (Levenberg) en Jarrid Geduld onderskeidelik aangewys as beste aktrise en beste akteur vir hul spel in Ellen. Die rolprent handel oor die ware verhaal van Ellen Pakkies, ’n ma van Lavender Hill op die Kaapse Vlakte wat in 2007 haar tikverslaafde seun, Abie, vermoor het. Die hartseer verhaal het opnuut fokus op maatskaplike kwessies soos dwelmmisbruik, bendes, armoede en vrouegeweld geplaas.

In die rolprent word al die fases van Abie se tikverslawing uitgebeeld. Dit was vir Marí belangrik om die grimering realisties, natuurlik en outentiek te laat lyk. “Ek het baie navorsing gedoen en ook met Ellen self gepraat. Ek wou by haar hoor hoe sekere goed uitgespeel het. Dit was ’n ervaring.”

Jarrid het 13 kg vir die rol verloor, maar Marí moes hom nóg maerder laat lyk. “En sy tande moes gebleik word, hy moes ‘sonbrand’ kry. Dit was ’n intensiewe proses, maar ’n ongelooflike ervaring. Met al my flieks wil ek die grimering so natuurlik moontlik laat lyk, ek wil die karakters soos regte mense laat lyk. Daar is nie perfekte mense nie. Daarom moet die grimering nie perfek wees nie, dit moet real wees.”

In aksie op die stel van "Ellen: Die storie van Ellen Pakkies". FOTO Instagram/ Mooiste Mooi

Vir Marí is dit belangrik om vertroue tussen haar en die akteurs te bewerkstellig. “Jy is die eerste persoon wat hulle sien voor hulle stel toe gaan, en jy moet hulle die veilige ruimte gee om net te wees. Ek gaan al my looks met die akteur deur en maak seker dat hulle okay is daarmee. Respek is belangrik.”

Om op stel as grimeerkunstenaar te werk verg stamina – as almal 04:30 reg moet wees, moet sy 03:30 reg wees. “Ek maak die kamer reg en sorg dat als skoon is, ek was elke dag my grimeerborsels en maak seker dat elke akteur hul eie borsel het. Dan wag ek ... en die hele dag is ek op standby indien iemand my nodig het.”

Saam met die akteurs van "Kanarie". FOTO Instagram/ Mooiste Mooi

Is dit dan anders as om aan ’n realiteitsreeks te werk? “Dis meer ontspanne ... jy werk met een mens. Ek het vir Minki voor die reeks gaan ontmoet om te hoor waarvan sy hou. Ek wou seker maak sy is op haar gemak voor die kameras. Mens moet nie die grimering eerste raaksien nie, maar die persoon. Só ook moet die uitrustings die persoon komplementeer.”

Met die nuwe seisoen het sy vir Leah in helderder kleure gestileer, sy wou Leah se unieke stempel op die reeks plaas.

Minki van der Westhuizen en Marí Conradie tydens 'Boer soek ’n vrou'. FOTO Instagram/ Mooiste Mooi
Leah is die nuwe aanbieder van 'Boer soek ’n vrou'. FOTO Instagram/ Mooiste Mooi

Vir Marí beteken skoonheid natuurlikheid. “Daar is ’n fyn lyn om te veel grimering te dra ... ek dink nie skoonheid beteken grimering nie. As jy goed voel, is jy mooi. Grimering moet juis jou natuurlike skoonheid en features beklemtoon.”

Watter raad kan sy vir vroue gee? “Vergeet die Instagram-filters ... aanvaar jouself en weet dis okay om 100% jouself te wees. Beklemtoon jou features. As jy mooi oë het, fokus daarop; dra die rooi lipstiffie al het jy dun lippe. Glo in jou eie natuurlike skoonheid!”

En as sy vir haar jonger self kon raad gee? “Alles sal okay wees, maak die foute ... en wees vergenoegd.”

Sy is gaande oor haar sproete en steek dit nie weg nie. FOTO Instagram/ Mooiste Mooi

Marí se slim wenke vir elke vrou:

* Ken jouself en jou lyf, maar waag en dra die uitrusting waarvan jy hou.

* Dra jou flaws met selfvertroue, daai sproete, daai skewe tande. Dis jou beauty asset!

Besoek gerus Marí se blog, Mooistemooi, vir nog slim en oulike wenke.