EK HOOP

dat ons die engele in ons midde sal kan raaksien as Madiba en Desmond Tutu nie meer daar is nie. Daar is soveel van hulle wat elke dag ’n verskil maak. Ons ken net nie hul name nie.

Nkosi sikilel’ iAfrika - dat God sal aanhou om Afrika te seën, asseblief!

om solank as moontlik werk te kan verskaf aan die ongelooflik bekwame mense - sommige is al 20 jaar by my. Een is reeds 30 jaar hier, en hoewel sy al afgetree is, kom sy nog daagliks werk toe. Sy wil nie “oud“ word by die huis nie.

dat elke kind - en die miljoene kinders in Afrika - saans met ’n vol magie in ’n warm bed deur hul mamma aan die slaap gesing word. Iets wat miljoene kinders nie beskore is nie. Ons kan begin werk aan dié ideaal in ons eie land.

dat my kinders en kleinkinders met deernis sal leef teenoor hul medemens en omgewing. En dat hulle sal lees, liefhê en gesond bly.

EK IS BANG

dat te veel Afrikaners op die oomblik emigreer. Gedurende apartheid het ons ons eie landsburgers opvoeding en menseregte ontneem en baie van hulle uit baie beroepe gehou en hulle is stelselmatig afgetakel. Ons skuld dié land baie, maar ons waai omdat dit ons nie pas nie. Waar is ons gewete, waar is ons menseliefde, waar is ons geloof?

vir groot golwe in die oseaan. Ek dwing myself gedurig om die vlak water aan te durf. Almal wat my al in die see by Nature’s Valley sien body surf het, sal weet dat ek tog asseblief net nie die seewater in my dreadlocks wil hê nie, want dan word dit nooit droog nie. Ek en die kleinkinders hardloop gewoonlik weg as die groot golwe kom en val in die skuimwater neer as die gevaar verby is. Dit moet ook nie koue water wees nie. Ek verkies die warmer water in Mosambiek of die Seychelle.

vir ’n telefoonoproep in die middel van die nag. Dis nooit goeie nuus nie, en nadat ons sewe lewenslustige kinders grootgemaak het, is ek half verlig dat hulle nou verby die stadium is waar hulle glo dat hulle vir altyd gaan lewe.

WAT EK NOU WEET

’n Goeie lewensmaat kan jou vlerke gee en liefde kan vir ewig hou. Ek en my man, Charles Bothner, is nou agtien jaar getroud. My ouers het onlangs hul sestigste huweliksherdenking gevier en hulle is nog ongelooflik lief vir mekaar. Maar ’n mens moet ook niks as vanselfsprekend aanvaar nie. Behalwe die onvoorwaardelike liefde van ’n ouer en ’n kind.

Jy moet nooit terugkyk nie. In dié stadium van my loopbaan word ek gereeld gevra wat my hoogtepunt was, en ek sê altyd die beste en grootste een lê nog voor. Dit het ek van my ma, (die kunstenaar) Hannatjie van der Wat, geërf. Sy staan elke dag op om ’n nuwe skildery te verf, besig om haar kreatiwiteit te toets, om lagies af te skil om die groot geheim te onthul.

Suid-Afrikaners is baie nice mense. Ons is openhartig, gasvry, meelewend, vrygewig en veerkragtig. 

My beste eienskap is my deursettingsvermoë en my swakste eienskap is my skerp tong. Ek bloos skoon as ek daaraan dink.

Die lekkerste van ma-wees is die onverwagte vreugde van oumawees, want kinders kom met groot verantwoordelikheid, baie verrassings en ompaaie. Niks kan jou daarop voorberei nie. Veral nie as jy self nog amper kind is nie.

Suid-Afrikaanse vroue is mooi en oor die algemeen is hulle gesteld op hul gesondheid en voorkoms. Smaak is heeltemal subjektief. Waarvan ek hou, is nie almal se smaak nie. Ek oordeel nie.

Kreatiwiteit is nie iets wat ek ontleed nie. Dis hoe ek leef en hoe ek doen.

Ek weet die ystervark is die mooiste dier op aarde.