Dit was so amper of een van SA se grootste, veelbekroonde akteurs het winkelpoppe aangetrek ... Gelukkig het Marius Weyers op die verhoog beland.

deur Ronel Nel
foto Nick Aldridge

Die bobbejane is al weer hier!” Daar is ’n geskarrel en ’n gewoel op die agtergrond soos vensters en deure haastig toegeklap word. Marius moet vir ’n oomblik ons gesprek onderbreek. “Ek verstaan dit nie. Daar is mense aan die suidkus wat die bobbejane wil skiet, maar dis dan die diere se terrein hierdie. En hulle is nie aggressief nie, dis omdat mense hulle voer dat hulle so hans raak. Net nou die dag stap daar so’n groot mannetjie ewe kontant voor my verby, oor die stoep by die voordeur in, vat vir hom ’n tros piesangs en ’n paar avokadopere. “Ek het hom goed onder sy blaker geskop, en toe laat val hy die piesangs. Maar ons is die avo’s kwyt ...” Hy gee ’n laggie. Marius en Yvette Weyers woon reeds amper tien jaar permanent op Rooi-Els aan die Valsbaaikus in die Kaap, met ’n uitsig op die see. En “wil op geen ander plek ter aardewoon nie”.   

“Yvette is deel van ’n aksiegroep om die bobbejaan-skietery stop te sit. Die mense kort net ’n bietjie opvoeding oor die broers se maniere,” vertel hy. “Dis tog vreemd: Almal kom hiernatoe vir die stilte en vir die natuur, maar dan, sodra hulle intrek, begin hulle teerpaaie bou om die stof van hul karre af te hou, slagysters stel om die diere te vang wat hul katte jaag, en sulke stedelike dinge ... “Dis soos om suburbia hiernatoe te bring. Waarom? Bly dan eerder dáár.” Dié bobbejanery begin terwyl ek met Marius praat oor die groot sprong van sy rol as kaptein Wollie in die kykNET/M-Net TV-reeks Amalia ná dié van Malvolio in Uys Krige se briljante vertaling van die Shakespeare-komedie Twaalfde Nag. Die stuk is by vanjaar se KKNK op Oudtshoorn bekroon nadat dit in Maart by die Oude Libertas Amfi teater op Stellenbosch geopen, en klaargemaak het by die Baxterteater in die Kaap.

“Dit was ’n yslike sprong. Ek was vir vyf maande Wollie, en dié karakter het deel van my geword. Sy houdinkie, sy manier van praat... Dit was half moeilik om dit af te leer. Ná so ’n week het dit begin regkom, ’n paar stukkies van Malvolio het begin deurskyn.” Marius Weyers is ongetwyfeld een van ons land se grootste akteurs. Benewens sy 40 jaar op ons teaterverhoë en TV-skerms het hy rolle in internasionale rolprente soos Gandhi en Red Dust vertolk. Sy oes aan SA films is ook groot, die mees onthoubare sekerlik Katinka Heyns se 1996-treffer, Paljas. “Dis altyd wonderlik om saam met Katinka te werk. Sy sleur eenvoudig haar hele span mee – akteurs sowel as crew. Haar erns en opregtheid is oortuigend. Dit laat elkeen op stel sy heel beste uithaal, moeiteloos. Sy werk so met sorg. Raak almal wat met haar werk. Almal het net soveel meer ingesit as wat jy op ander stelle sien. “Haar benadering is besonders. Mens voel geraak en geïnspireer. En natuurlik kan ek nie uitgepraat raak oor Chris (Barnard, die teksskrywer van Amalia) se woorde nie. Dis onmoontlik om jou eie in te gooi, want sy taal het ’n rykheid en ritme wat die karakter bepaal.” Gavin van den Berg het een maal gesê Marius se kenmerkendste eienskap is dat hy heeltemal snaaks én heeltemal erns tig is. En dit kom duidelik uit in ons gesprek: Daar is ’n voortdurende, flinke wisselwerking tussen die absurde en die normale, tussen laf en loflik. En die woord “wonderlik” kom gereeld voor. “Wat Twaalfde Nag betref, dis jammer dat dit nie noorde toe gaan nie. Dieselfde het met Oom Wanja gebeur. Dit lyk my die ouens in Johannesburg en Pretoria wil net klugte en Cats op die planke sit. Nie dat daar iets mee skort nie, maar die werklike ernstige, groot teater, die Tsjechof-stukke, byvoorbeeld, word oorgesien. En dit grief my. “Mannie Mannim het ’n goeie ding by die Baxter-teater begin, met Afrikaanse stukke. En dit speel vol! Die Staats- en Markteater wag vir produksies om na hulle toe te kom, hulle gaan soek nie meer self nie. “En o, terloops, wat ’n beautiful venue is die Oude Libertas Amfi teater nie! Vir twee uur voor die vertoning sit ‘n mens onder die bome, hoor die voëls, sien die berge en die lug en die wingerde. Lieflik.”

Waarmee is jy tans besig?
Benewens Twaalfde Nag wag daar vir my die tweede reeks van Amalia, wat van Oktober oor vier maande geskiet sal word. Die mense by kykNET was so beïndruk met die eerste reeks dat hulle dadelik ’n tweede aangevra het. Dis goeie nuus vir die bedryf, baie goeie nuus. Daar wag ook vir my ’n BBC-televisierolprent. Die werkstitel is Wild at heart en dit speel af in Suid-Afrika – in KwaZulu-Natal en Johan nes burg. Ek speel die rol van ’n wildplaas-eienaar. Genadiglik is die rol nie weer ’n tipiese ou Boere-bashing-ding nie; dis ’n karakter met fasette.

Som jou lewe in vyf sinne op ...
Hoor jy die stilte? (Nog ’n laggie.) Gelukkig, gelukkig, gelukkig, gelukkig, gelukkig. Gelukkig met Yvette wat my lewe deel. Gelukkig in my werk. Aftree het nog nooit naby my kop gekom nie, ek werk nie om by daai ouderdom te kom nie. (Hy het vanjaar 60 geword.) Gelukkig op die plek waar ek bly. Gelukkig met die kanse wat my kant toe gekom het. Gelukkig met myself en waar ek nou in my lewe staan.

Hoe ervaar jy die bedryf deesdae?
Dis anders – en dit is jammer. Veral wat teater betref. Dis jammer dat die jong spelers nie meer sulke geleenthede het soos ons gehad het nie. Daardie kontinuïteit, wat goeie opleiding bring, wat ses stukke per jaar jou verskaf. Hoeveel baat sou hulle daarby kon vind! Dis ook jammer dat mense nou, ná veertig jaar, steeds vra: Wat is verkeerd met ons Afrikaanse rolprentbedryf? Dis ’n ou frustrasie. Daar was Paljas in ’96 – en daarna niks. Ek hoop waaragtig die mense wat Yesterday en U-Carmen eKhayelitsha gemaak het, hou dit vol! ’n Mens kan maar net hoop die jong akteurs vind samehang in wat hulle doen. kykNET gee mens darem moed. Dit skep  geleenthede vir ons almal, en dis duidelik dat kwaliteit kán werk.

Voel jou 60ste verjaardag soos ’n mylpaal? Is jy gemakliker in jou vel?

Ag, ek wens ek hoef nie daaraan te dink nie. Vanmôre toe ek wakker word, voel ek dit toe aan my lyf. Al daai gerondspringery op die verhoog ... Al wat help, is om fiks te bly. Ek en Yvette oefen elke dag vir ’n uur, ons bly 50 in ons kop. Hierdie jaar is een van ’n hele paar mylpale: 60 jaar oud; 40, 41 jaar in die teater; 30 jaar getroud met Yvette. Maar om terug te kom na 60: Ek kon nog nooit die idee van oudword snap nie. In jou kop verander dit mos glad nie. Sommige mense wat 60 is, lyk wel 80, maar dis omdat hulle opgegee het. Die aanvaarding van ouer word en die bewus te belewenis van jou eie lewe is twee noodsaaklike dog verskillende dinge.

Planne en toekomsvisies?
Ek sal graag weer Europa toe wil gaan, Rome en Parys trek my weer. Ons was jare laas daar, 30 jaar laas in Rome en 20 jaar  gelede in Parys. Ek wil graag weer die ou paadjies gaan bewandel.   

Wat sou jy doen as jy nie ’n akteur geword het nie?
Ek ys om te dink! In die army kom praat hulle mos met jou oor “wat jy gaan doen” ná die weermag. So beland ek toe by iemand wat my ’n werk by Edgars aanbied as window dresser! As dit nie vir Eghardt van der Hoven was nie, het ek seker van dag vensters versier. (Hy lag verlig.) Ek kon dit destyds nie bekostig om universiteit toe te gaan nie. Ek sou dalk regte studeer het. Of ’n skrywer wou word. Ek het wél iets ’n paar jaar gelede begin neerskryf, sketse uit my lewe. Ek het vir Tafelberg-Uitgewers ’n klompie gewys, en hulle het gesê ek moet dit  klaarmaak en stuur. Dis lekker om op dié manier jou verlede te herontdek. Ek dink ek sal dit tóg klaar maak.

Wat is jou lewensfilosofie?

Geloof is vir my baie persoonlik. Ek glo soos ’n kind, praat met God soos ’n kind. Vir my is God orals, in ’n blaar, in als. In skoonheid, in die natuur, in mense. Ek het ’n naïewe geloof. En myns insiens kan ons nie besluit een geloof is die regte een bo ’n ander nie. Ek het ’n sterk gevoel dat elkeen sy eie idee moet kan kies. Sulke georganiseerde keuses maak God – en ander mense – net kleiner. My lewensfilosofie sou wees: Om soveel moontlik ruimte te skep om te leef en te doen soos ek wil, maar met verantwoordelikheid. Sodat almal dieselfde vryheid gegun word.

Wat is vir jou die lekkerste –verhoogwerk of film/TV-werk?
Die lekkerste is dat daar so min roetine is. Dis heerlik om af te wissel. Daar is ’n sterk dissipline aan teater – elke aand dieselfde ding, die gehoor is by en die wisselwerking is lewendig. En om dan weer van trant te ver ander, soos met Amalia – nuwe plekke en ander wêrelde. Die roetine is ook anders. En jy doen jou scene net ’n paar keer en dis klaar. Met Amalia moes ek naweke my woorde vooruit leer. Chris se teks is so spesifiek, ’n mens moet hou aan sy woord, die spraakritme. Ek het so vieruur soggens op gestaan, vir ’n uur en ’n half woorde geleer, reggemaak, gaan repeteer en dan geskiet. Saterdae vier uur, Sondae drie uur ingesit met Amalia. Stamp dit dan lekker vas. Maar jou spens raak nader hand bietjie leeg ... Dit het my kop nogal moeg gemaak. Toe ek by Shakespeare opdaag, het ek gedink: “Bring vir Chris terug!” Maar Uys Krige se teks is gevat, ryk, speels, lig – en wonderlik relevant.

Wat was dié lekkerste rol vir jou?
Alec Guinness het gesê hy wil nie een uitsonder nie, dis soos om ’n kind voor te trek. Maar daar is tog ’n paar besonderes. Ampie, want dit was my eerste deurbraak. Siener (Jakes) – dit het ander rigtings oopgemaak. Eers het ek net romantic leads gedoen, wat pynlik was! Iago in Othello. Beckett ... In Kafka se A report to an academy was dit ’n ervaring om ’n sjimpansee te moet speel! Stem, klank ... dié rol het my die verste nóg gestoot. Die gehore se reaksie was baie positief. Ek het elke keer net gedink: “Wow, I survived an other performance.” In ‘n stadium het ek min teater gedoen, dit het weer eintlik begin op tel met Wanja en Malvolio. Dis wonderlik om weer gereeld te speel, ek wil elke jaar nou weer een doen. (Skimp-skimp.)

Wat inspireer jou?

As ons soggens wakker word en ons sien die see. En jy sien die fisante skrop, en daar kom die muishondjie ... en die bobbejane. Hoe ouer ek word, hoe meer waardeer ek die lewe. Dinge raak kosbaarder. Ons het geen kinders nie – hulle sou nooit kon byhou nie! Ons het baie gereis, en dis ook inspirerend. Yvette is ’n beeldhouer en sy het dit gedoen waar ons ook al was. In Londen en Los Angeles was sy lid van ’n groepateljee. Sy werk tans aan ’n uitstalling vir die Dorpstraat-galery in September op Stellenbosch.

Hoe lyk ’n dag in die lewe van Marius en Yvette?
Nooit dieselfde nie. Ons gaan stap gewoonlik eerste met die honde langs die see. Oefen dan vir ’n uur. In die winter is dit nog donker as mens oefen, rrr. As ek moet repeteer, ry ek vroeg Kaap toe, en kom eers teen die aand terug. Dan is dit weer honde-en-see, saam kosmaak en TV kyk. Of Yvette werk en ek werk aan ’n teks. Leer weer woorde van 4 vm. af ... As ek speel, slaap ek laat, tot agtuur. Dan maar weer dieselfde. Ek hou daarvan om odd jobbies in en om die huis te doen. Dit breek daardie intense konsentrasie. Anna-Mart het nou juis by die KKNK gesê hoe belangrik dit is om uit “daai tonnel” te kom. Ek het op Oudtshoorn die euforie van in Pick ’n Pay rondloop ontdek! Ek en Yvette leer ook Spaans, dit het in Amerika begin waar daar soveel Spaanssprekendes is. Ons het Pedro Almodovar se Hable con ella (“Talk to her”) seker al tien keer gesien! Ons lees ook gedigte van Pablo Neruda vir mekaar – in Spaans.

Waar hou jy vakansie of span jy uit?

Enige plek in die veld. Ek het op ’n plaas grootgeword. Ek is gebore in Johannesburg, maar in standerd een het ons na Witkoppen getrek, waar Fourways en Montecasino vandag is. En ons het nog met osse geploeg!

Watter soort musiek luister jy?

Baie soorte, maar wêreldmusiek veral. Cesaria Evora het dit begin, ons het haar ontdek toe ons in Los Angeles was. En Richard Wamba. Ook klassieke musiek.

Watter gesegde irriteer jou die meeste?
Cool. Dis nou iets wat ek nie oor my lippe kan kry nie. En bro of bra. Gits, man.

Wat is jou slegste gewoonte?

Ongeduld. Dis ’n groot swakheid, veral in verkeer. Vir wat wag julle so lank as die lig na groen oorslaan? Julle mors my lewe! Nóg vyf sekondes daarmee heen. (Hy lag vir homself.) En taxi’s – ai-jai-jai. Hulle dryf my teen die mure uit. ’n Woeste gespartel was dit elke oggend wanneer ek van Northcliff na Sonneblom toe moes ry. En dan het ek elke keer omtrent op my knieë gegaan om dankie te sê: “Ek het nog een rit gemaak ...” Die bobbejane is nou op die dak, en hulle terg die honde. “Hulle leer vinnig. Die een het nou al so ge-evolueer dat hy die deure kan oopmaak, selfs dié met ronde knoppe! Daar is ’n ander ou grote wat gereeld gaap, asof hy sê: ‘Hei, jy, mens! Kyk hoe groot is my slagtande.’ “Ons skiet hulle sommer met ’n kettie, dit werk die beste,” sê Marius. Steeds met ’n stukkie ondeundheid in sy stem.

GUNSTELINGE

Kos: Dit was altyd perlemoen. Enige vars seekos, alikreukel, kreef ...
Drank: Goeie rooi wyn.
Musiek: Wêreld.
Woord: Wonderlik!
Boek: Disgrace (JM Coetzee). En al Dan Brown se boeke, veral The Da Vinci Code.
Akteurs: Robert Duval, Gene Hackman. En Meryl Streep, sy is so veelsydig.
Kleur: Die see.