Noem die naam Tim Jordaan (vertolk deur die veteraan akteur Marius Weyers), en 'n paar vroue begin snork van woede. Want dis mos die vermetele Tim wat sy dienende  Linda (vertolk deur Elsabé Daneel) met die uitgeslape Gita McGregor (Jo da Silva) verkul het. Marguerite van Wyk het met hom gesels - ook oor wat hý by die jong akteurs geleer het in 7 de Laan...

Jy kon sekerlik vir die jong klomp baie oor toneelspel leer, maar wat het jý by hulle geleer?
Hoe lekker dit was om jonk te wees, met alles wat nog voorlê, soet én suur. Ook hoe toegewyd hulle is en hoe goed hulle die multikamera werk hanteer.

Lekkerste oomblik op die stel?
Ek en Jo was baie benoud oor ons eerste soentoneel. Dít en die daaropvolgende tonele was toe eintlik baie lekker. En ons vind toe dat ons baie goed saamwerk en 'n magic kon vind tussen Gita en Tim. En ook die samespel met die ander akteurs was 'n lekker ontdekking en ondervinding.

Hoekom geniet jy dit om in dié sepie te speel?
Dis baie aangename mense om mee saam te werk. Die omstandighede is professioneel en die werk word met sorg benader.

Wat dink jy is 7 de Laan se invloed op die Suid-Afrikaanse samelewing?
Ek was verstom oor die reaksie van die publiek. Die mate van erns waarmee hulle die karakters bejeën. Die sepie het duidelik enorme vermaaklikheidswaarde, maar ook die vermoë om te ontstel, te leer en die mense te laat práát.

Wat is die grootste uitdaging om in die sepie te speel?
Die voerband van dialoog wat jy daagliks in jou kop moet inprop. Mens voel net: ''Dankie tog ek het deur daai vier of vyf tonele gekom, sonder skande.'' - Dan moet jy weer die volgende tekste optel.

Die wysste woorde wat jy by Danie Odendaal, die vervaardiger, gehoor het?
Toe hy vir my aan die begin gesê het: ''Jy het nie 'nbenul hoe nou die publiek met die stories en die karakters saamleef nie.'' En veral toe hy vir my sê: ''Jy kan 'n langnaweek hê, gaan huis toe.''