Die akteur Marius Weyers en sy vrou, beeldhouer Evette Weyers, was in Februarie vanjaar 39 jaar getroud. Hy vertel hoe hy en Evette hul huwelik laat werk.

"Ons is soms verras dat ons al só lank bymekaar is en dat ons liefde deur die jare net nog verdiep het," vertel Marius aan SARIE.com. Hy meen die basis van hul verhouding is liefde en respek. "En ons het van die begin af liefde gehad. Jy kan nie van die begin af weet of jy dit altyd sal hê nie." Kyk watter ander bekendes se huwelike ook hou Marius het aan die begin van hul verhouding nie gedink hulle sal vyf jaar hou nie. "Toe ek dit vir haar vertel, het sy gesê sy het nie gedink ons sal twee jaar haal nie," lag hy. Hy meen as daar liefde en respek in ’n verhouding is en julle geniet dit om bymekaar te wees, hoef jy nie so hard daaraan te werk nie.

Ek is dankbaar dat die liefde daar is en dat ons dit elke dag kan geniet

Evette gesels oor haar en Marius se verhouding

marius_en_yvette Evette en Marius

Marius se 8 wenke vir ’n gelukkige huwelik

1. Dit gaan oor gee en neem

Ons het van die begin af als saam gedoen - muurbal, aërobiese danse, gim ... ons het van die begin af saam gelééf. Maar mens kort ook ruimte. Daarvoor moet jy soms ’n paar toegewings maak.

2. ’n Bindende faktor

Ek dink die feit dat ons van die begin af alles saam gedoen het, was ’n bindende faktor. Nou haat ons dit om van mekaar weg te wees. As ons kan, gaan ons altyd saam met mekaar wanneer ons vir werk moet reis. Dis lekker dat dit steeds só is.

3. Word saam ouer

Ons verstaan dat die ander een ook ouer word en daardie verstaan maak ons verhouding lekker. Evette is vir my steeds so pragtig soos 40 jaar gelede, al het sy - én ek - ouer geword.

Deesdae doen ons nie noodwendig meer die goed wat ons vroeër saam gedoen het nie, maar ons ry steeds saam fiets, gaan duik en stap saam met die honde.

4. Praat dit uit

Die belangrikste is om daaroor te praat as iets krap. Dit los dit eenvoudig op. Anders is daar al die klein goed waaroor mens nie praat nie en uiteindelik dryf dít julle uitmekaar. Evette is meer geduldig as ek. Sy bly kalm terwyl ek my uitbarsting het en dan praat ons daaroor en gaan aan.

5. Lag saam

Dankie tog ons deel ’n sin vir humor! Dis wonderlik om saam te kan lag en boonop vir dieselfde goed te lag.

6. Verras mekaar

As ek iets mooi sien, kry ek dit vir Evette - en nie net vir Valentynsdag nie. Ek hou daarvan om haar te verras met dinge, meestal blomme. Of ons sal sommer gaan uiteet, fliek of in die veld gaan stap.

7. Maak jul verhouding kosbaar

Besluit hoe belangrik iemand vir jou is en hoe belangrik jul verhouding is en vat dit dan dag-vir-dag. Doen moeite om jul verhouding kosbaar te máák. As daar wedersydse liefde en respek is en as julle die genot van saam-wees voel, kom dít vanself.

8. Ondersteun mekaar

Ons is mal oor mekaar sy werk - Evette oor teater en ek oor beeldhouwerk. Ek het self beeldhouwerk gedoen voordat ons ontmoet het en dis hoe ons mekaar leer ken het. Nou help en ondersteun ons mekaar in ons beroepe.

Ek help haar vandag om haar uitstalling* [by die AbsaKKNK] op te stel en vanmiddag help sy my weer as ek deur my teks moet werk. Ons sal mekaar nooit afbreek nie, net opbou en positief wees.

*Evette het ’n kunsuitstalling by vanjaar se AbsaKKNK en Marius is te sien in twee toneelstukke, Wie's bang vir Virginia Woolf en Vir ewig en altyd.

Drie jaar getroud: dít het Bobby van Jaarsveld geleer