"Tannie, ons was baie bang en het liedjies vir Liewe Jesus gesing sodat Hy ons kan kom help," het Laetitia van Zyl (8) met 'n rooigehuilde gesiggie voor die Laerskool H.F. Verwoerd in Parys vertel.

"Van my maatjies was baie banger as ek. Hulle het meer gehuil. Ons het harder as die slegte mense probeer sing, maar ons was baie bang," sê Laetitia.

Aan haar sy was haar ontstelde ma, Tersia. "Kyk hoe lyk my kind! Hoe moet ek haar môre met 'n geruste hart terugbring skool toe?"

Karla Schutte het ook haar seuntjie, JP, kom haal.

"My kind is baie getraumatiseerd. Sy sussie is onlangs aangeval en hy het dit nog nie eens verwerk nie. Dit wat vandag by die skool gebeur het, is verregaande."

Nog 'n ouer van die skool, Wilma Pieterse, vertel die moles het gebeur net na ouers hul kinders afgelaai het.

"Stakers het die kinders by die hek verdring om in te kom. Ons ouers het 'n buffer probeer vorm om ons kinders te beskerm. Toe word ons rondgestamp. Die skool het blykbaar al gister gehoor daar gaan vandag probleme wees. Die hoërskool het goeie voorsorg getref. Hoekom het die laerskool dit nie ook gedoen nie? Dis buitendien vir my skokkend dat stakers kinders by 'n laerskool kom traumatiseer," het sy tussen 'n groep ander ontstelde ma's gesê.

Die meeste ouers wat teenwoordig was, was ma's en hulle het dadelik hul mans gebel. Binne minute was die strate rondom die skool vol geparkeer.

Van die pa's was hewig ontsteld en daar was na bewering een wat die vuiste ingelê het.

Die graad een tot drie kinders is in die saal ingeneem waar een van die onderwyseresse vir hulle stories vertel het en hulle liedjies laat sing het.

Ouers het in die voorportaal en by die saal se deur saamgedrom om hul kinders te kom haal.

Toe ek 'n onderwyseres uitvra of ons kinders veilig in die skool is, het sy gesê die situasie is 100% veilig. Maar ek kon sien baie kinders is ontsteld.

"Julle ouers veroorsaak net paniek en julle gee ons meer moeilikheid as die stakers," het sy vir my gesê.

Ek en 'n hele paar ouers het daarop aangedring om hul kinders huis toe te neem. Ek het werklik gevoel die situasie is onveilig vir my peetkind, Given Lekoana (10).

Die stakers het in die skool se binneplein ge toi-toi en vakbondliedere gesing. 'n Groep pa's het digby hulle gestaan en hulle met arendsoë dopgehou. Die meeste groot, fris plaasboere.

Gewapende polisiemanne het ook die stakers dopgehou.

Die skoolhoof, mnr. Chris de Swart, het my verseker die situasie is onder beheer. Hy het erken "dinge het bietjie handuit geruk toe ouers en stakers mekaar rondgestamp het. Die ouers is hier omdat hulle hul kinders wil beskerm en hulle sal nie die terrein verlaat voor die stakers nie weg is nie," het hy gesê.

Hy het my verseker daar was vanoggend mense by die hekke om toesig te hou.

"Die situasie sal vandag gemonitor word om seker te maak die kinders kan môre veilig skool toe kom," het hy gesê.

Kolonel M. Rapitsi, stasiebevelvoerder van die Suid-Afrikaanse Polisiediens op Parys het die rondstampery veroordeel.

"Dit is nie reg om binne-in 'n skool te betoog nie. Dis nie reg teenoor die kinders nie. Ons was dadelik hier om die situasie te monitor om seker te maak die kinders, ouers en stakers is veilig."

Een van die stakers, wat sê sy is 'n skoolhoof, sê sy sien niks daarmee verkeerd om by 'n laerskool te kom betoog nie.

Op 'n vraag of sy nie dink dis onregverdig teenoor die kinders nie, het sy geantwoord: "Ons is hier om die toekoms vir die kinders voor te berei. Hulle moet leer mens moet baklei om dinge reg te kry."

Sy meen die kinders wat getraumatiseerd is, is net "bederf en nie behoorlik deur hul ouers op die toekoms voorberei nie."

Sy wou nie haar naam noem of toelaat dat 'n foto van haar geneem word nie, want sy is bang sy word "geviktimiseer".

'n Ma wat die gesprek aangehoor het, het opgemerk dat haar kind net so "geviktimiseerd voel".