Wat dink jy het verkeerd geloop met die gereg wat jy in die finale uitdaging van gisteraand se episode gemaak het?
Dit was net nie my dag nie. Dit was swaar om weg te wees van my man en gesin af en dit het aan my begin karring. Ek was nie heeltemal gefokus nie en die tyd het my ingehaal. Wanneer die tyd min raak, raak jy paniekerig. Die deelnemer wat MasterChef gaan wen, is die een wat die minste foute gaan maak. En ek het foute gemaak. Ek was hartseer toe ek uitgestem is. Ek wou langer bly, want ek wou meer leer.

Jy het nou jou eie restaurant?
Alles werk uit soos dit moet. Die dag nadat ek uitgestem is, het ’n vriend my gebel en vertel daar is ’n bakkery in Pretoria te koop. Ek het dit gekoop en binne twee weke vir die plek ’n nuwe rok aangetrek. Ek het die deure op 5 Maart oopgemaak. Die plek se naam is Bella Sophia Culinary Café in Riviera, Pretoria. Ons verskaf ontbyt en middagete. Alles wat ons voorsit, maak ons self: ons bak ons eie brood, bedien vrugtesap wat vars uitgedruk is, en stop selfs ons eie varkworsies. Ons het ook heerlike nageregte op ons spyskaart.
 
Was jy nog altyd lief daarvoor om kos te maak?
Ek is die jongste van sewe susters en ons almal is lief vir kosmaak. My ma was ’n fantastiese kok. Sy was nogal streng in die kombuis. Dit was haar domein en sy het haarself daar uitgeleef. Sy was in die depressiejare gebore en het honger grootgeword. Toe sy as volwassene kos gemaak het, het sy dit met soveel flair gedoen. Sy kon die ongelooflikste dis van die eenvoudigste bestanddele maak. Wanneer my ma klaar gekook het, het ons ’n beurt in die kombuis gekry. Dan het ons koek gebak of fudge gemaak.

Wat het jy die meeste geniet om te maak?
Ek was nog altyd mal oor enige soetgebak. Vandag is dit ook my sterk punt. Toe ek die eerste keer ’n chocolate eclair reggekry het, is dit al wat ek vir ons gesin gemaak het. Dit was in standerd ses (graad agt). Ek het kookkuns op skool gehad en die resep oor en oor by die huis geoefen.
 
Jy het drie keer ’n oudisie vir MasterChef SA afgelê. Eers in Johannesburg, toe Kaapstad. Jy het uiteindelik die oudisie in Durban geslaag.
Toe die wedstryd aangekondig is, het my man gesê ek moet inskryf. Ek het crème brûlée met rooibostee gemaak – ’n Franse nagereg met ’n SA stempel. Met my oudisie in Johannesburg was my crème brûlée baie goed. Die onderhoud wat met ons gevoer is, het in groepe plaasgevind en ek is geneig om ander mense te laat praat. Ek was ’n muurblommetjie. Toe slaag ek nie die oudisie nie. Ons was met vakansie in die Kaap toe die oudisie daar plaasgevind het. My man het gesê ek moet weer probeer. My crème brûlée was toe ’n totale flop, so ’n ou loperige vla’tjie. Maar ek wou graag deelneem. Ek het toe weer crème brûlée gemaak, dit op droë ys gesit en Durban toe gevlieg. Ek het die oudisie daar geslaag.
 
Dit moes seker erg gewees het om so vroeg in die reeks uitgestem te word?
Ek glo steeds ek is ’n goeie kok met wye koskennis en goeie vaardighede. Maar meer as dit glo ek dinge gebeur soos dit moet. Dit was wonderlik om aan MasterChef deel te neem, maar ek het die wedstryd op die regte tyd verlaat, want toe kry ek die geleentheid om my eie restaurant oop te maak.