Seline van der Wat, wat verlede jaar aan MasterChef SA deelgeneem het, is sedert Januarie elke Saterdag op die kassie as deel van die Ontbytsake-span op kykNET. En dié amateur-sjef het groot drome! SARIE.com gesels met Seline oor haar TV-loopbaan.

"Ek is mal daaroor! Ek was altyd agter die kameras en soms voor dit in kortfilms wat my kêrel, Jaco Pieterse, maak. Maar Ontbytsake is heeltemal anders en dis vir my só lekker," vertel Seline.

Oor Ontbytsake

Seline en haar suster Leandri was verlede jaar gaste op Ontbytsake kort nadat Ula Pakendorf die program verlaat het. "Hulle het my toe gevra om die volgende week terug te kom vir ’n oudisie om die program se nuwe sjef te word en toe kry ek die posisie!"

Seline het derde gekom in die vorige seisoen van MasterChef SA en haar suster Leandri tweede. Kamini Pather het uiteindelik met die louere weggestap.

Ontbytsake-sterre wys hul babas

"Ek ontmoet nou soveel awesome mense - nie net die bekende gaste wat elke week daar is nie, maar ook foodies en mense wat by liefdadigheid betrokke is. Ons het net soveel pret op die stel," sê sy.

Haar inspirasie

Haar inspirasie vir die geregte wat sy op Ontbytsake bedien, is kostydskrifte. "Ek koop elke uitgawe van SARIE KOS en ander kostydskrifte om te sien wat die verskillende trendsin kos is."

Maar dis nie al nie ...

Dis nie al waarmee Seline, oorspronklik ’n ingenieur, haar besig hou nie. Dié jong sjef skryf ook ’n kosrubriek saam met haar suster in Beeld, werk aan ’n kookboek, bestuur haar pop up-restaurant, Forager, én leer mense kook.

Seline en sussie Leandri praat oor hul MasterChef-sukses

Seline (links) en haar suster Leandri FOTO: Phyllis Green Seline (links) en haar suster Leandri
FOTO: Phyllis Green

Tussendeur al dié werk maak Seline boonop ook nog tyd om vir haar geliefdes te bak.

"Ek glo jy wys vir mense jy is lief vir hulle deur vir hulle te bak." Sy is juis besig om te bak terwyl sy oor die telefoon met SARIE.com gesels. Dié keer werk sy aan ’n sjokolade brownie-koek wat sy met vanielje-versiersuiker en vars aarbeie versier - ’n troukoek vir ’n ou koshuismaat uit haar studentedae op Tuks.

Sy droom nóg

Ontbytsake is nog net die begin van Seline se TV-drome. "Ek sal graag eendag my eie kosprogram wil aanbied, maar ek is nog besig om my planne te beraam, so ek kan nie te veel sê nie ... "

Hou SARIE.com dop vir nuus oor Seline se eie program.

Seline se top-drie resepte

  • Geroosterde hoender met suurlemoen en baie botter
  • Malvapoeding sonder enige roomys of vla (dis ’n familieresep)
  • My Tannie Lynette se vanielje-fudge - sy maak dit al vir my vandat ek kan lekkergoed eet!