Kyk jy so na alles wat Mathys Roets aanpak, móét jy tot die gevolgtrekking kom dat niks hom onderkry nie. Ná die motorfietsongeluk in April 2009 waarin hy verlam is, het hy nog nie vir ’n oomblik teruggedeins nie: Hy het eenvoudig voortgegaan om op te tree en voluit te leef. En 2011 gaan geen uitsondering wees nie. Ten tyde van ons onderhoud is Mathys besig met sy laaste voorbereidings vir ’n ski-vakansie van tien dae in Oostenryk. Op 31 Desember het hy op die vliegtuig geklim saam met sy seuns, Liam (11) en Yuan (7), sy ouers, Meisie en Boet, sy broer Pierre en ’n paar vriende. Kort daarna beplan hy om weer Europa toe te vlieg, dié keer Duitsland toe vir stamselterapie. En dan moet hy begin werk aan ’n nuwe CD. Hy het 2010 ook met ’n bang afgesluit met ’n spesiale rolstoel waarin hy nou kan staan! “Ek het ’n behoefte gehad om mense weer in die oë te kyk,“ vertel Mathys. "Om te kan staan as ek braai, of in ’n kroeg saam met my pêlle te kan staan met ’n bier in die hand. En dan natuurlik om weer te kan staan en sing . . . Nou kan ek dit doen.” Mathys het al twee keer oor Kersfees en Nuwejaar saam met sy seuns in Oostenryk gaan ski. Die laaste keer was die Desember voor sy ongeluk. Sy gewese vrou, Karen, was toe ook saam, al was sy en Mathys reeds uitmekaar. Hy vertel hy was daarna emosioneel toe hy na foto’s van daardie ski-vakansie gekyk het. Hy het nie gedink dis ’n ervaring wat hy gou weer saam met sy seuns sou beleef nie. Maar skaars twee jaar later is hulle op pad na nóg ’n onvergeetlike vakansie. Mathys gaan op ’n spesiale enkelski vasgemaak word. “Snaaks genoeg het ek die vorige keer in Oostenryk ’n ou dopgehou wat so geski het en gedink dis nogal indrukwekkend. Min het ek geweet volgende keer is dit my beurt.” Daar is nie te veel uitdagings op hierdie vakansie nie, sê hy, veral omdat daar lodges is wat toegerus is vir mense in rolstoele. Mathys bly positief ten spyte van uitdagings
“Die moeilikste deel is die vlieg self, want as ek sit, sit ek. Dit kan nogal ongemaklik raak.” Hy het vir die eerste vyf dae van hul vakansie ski-lesse gekry. Voor die vakansie het hy gesê: “Dit gaan fisiek uitdagend weesomdat ek my bolyf moet gebruik omte draai en alles te doen. Maar ander mense kry dit reg! Ek het op

 
Ek het ’n behoefte gehad om mense weer in die oë te kyk." - Mathys

 

 die internet gaan kyk hoe dit gedoen word.Dis ongelooflik om te sien hoe vinnig hulle is. My grootste doelwit gaan wees om my pêlle en broer gas te gee en hulle verby te steek. Ons sal sien of ek in eenstuk terugkom!”

Om in Oostenryk te wees is vir Mathys en die seuns ’n spesiale ervaring. “Dis ’n besondere omgewing, veral met die sneeu. Waar dit sneeu, is dit stil. Om een of ander rede demp sneeu klank. Wanneer ek as kind in die oggende ná ’n groot sneeustorm op Reitz in die Vrystaat wakker geword het, was dit altyd doodstil. Dis dieselfde as jy op die ski-hellings staan. Al wat jy hoor, is die klank van die sneeu wat kraak en kreun onder jou voete. En die uitsig daarvandaan is so mooi.”

Stamselterapie in Duitsland

Mathys is nie bang vir nuwe uitdagings nie, maar hy ís angstig oor die stamselterapie.

“Ek gaan my hoop onwillekeurig daarop plaas, maar om te hoop maak my ook bang, want ek weet nie of dit gaan werk nie.”

Hy het nog altyd geweet hy wil die terapie ondergaan, dit was net ’n kwessie van wáár. Hy het besluit op die XCellsentrum in Duitsland – een van die min plekke waar dit gedoen kan word.

Hy moet vyf dae in Duitsland deurbring vir die prosedure. Op dag een word beenmurg uit sy heupbeen getrek, waaruit die stamselle gekry word. Dit duur sowat ’n halfuur. Dan word die stamselle voorberei en drie dae later word dit in sy rugmurgvloeistof ingespuit. Daarna moet hy ’n dag of twee in Duitsland aanbly vir waarneming.

Die kans dat die stamseloorplanting ’n verskil gaan maak, is skraal. ’n Totaal van 56,8% van pasiënte wat terugvoer oor die terapie gegee het, het geen verbetering getoon nie. Net 37,7% het gesê hul blaasfunksie het verbeter en 35,7% se dermfunksie het verbeter, volgens XCell se webtuiste. “Daar ís mense met suksesverhale,” sê Mathys.

 
“Daar ís mense met suksesverhale.”
 
“Niemand loop ewe skielik nie – en ek sal nie weer kan loop nie – maar daar kan ’n groot verbetering in my sensasie en beperkte beweeglikheid plaasvind. Aan die ander kant is daar mense wat geen verbetering toon nie. Dáárvoor is ek bang. Dis buite my beheer,maar ek kan een van die gelukkiges wees. As ek net ’n klein bietjie sensasie kan terugkry, sal dit help. Om net te kan voel my alie is seer gesit en ek moet nou skuif. Of om te voel wanneer my bene koud kry of my blaas vol is. Ek dink ek gaan die eerste oggend ná die terapie wakker word en dink ek voel iets, ek voel anders. Dit sal nie menslik wees as ek nie al die eerste oggend kyk of ek my groottoon kan beweeg nie.” Net die prosedure kos sowat R70 000. Dié geld kom uit die Met Mathys Trust wat ná sy ongeluk gestig is en waarmee hy ook ander verlamdes help en kunstenaars wat mediese hulp nodig het. “Ek is geseënd om die geld beskikbaar te hê. Ek hoop daar is verbetering sodat ek kan terugkom en vir Suid-Afrikaners dankie kan sê dat hulle dit moontlik gemaak het – met hul gebede en emosionele asook finansiële ondersteuning.” Nog avonture wag die jaar op Mathys
Dit gaan ’n vol jaar wees vir Mathys. Hy sal graag ook nog ’n vierdag-4x4- roete vanaf Lüderitz tot Walvisbaai in Namibië wil aanpak omdat van die wêreld se hoogste sandduine daar is. Sonder hulp. Onafhanklik. Soos hy nog alles ná sy ongeluk probeer doen het. “Ek wil nie gebabysit word nie.Ek moet net ’n paar aanpassings maak. Ek sal nie op die grond kan slaap nie, want dis moeilik om van daar in my stoel te kom. Ek sal op ’n hoërige bed moet slaap en ook ’n stoel moet kry wat effens breër wiele het om in die sand te ry. As jy vrede met jou beperkings maak en fokus op dít wat moontlik is, kan jy baie uitrig.” Mathys vertel hy het nog nooit ’n bewustelike besluit geneem om positief te bly ná sy ongeluk nie. Hy’t al voor sy ongeluk met die ingesteldheid geleef dat die lewe ’n avontuur is en met entoesiasme aangepak moet word. Dit is wat hy steeds doen. “Ek fight nie elke dag ’n oorlog in my kop om positief te bly nie. Ek doen maar net die dinge wat ek graag wil doen. Ek is te nuuskierig om by die huis te bly en nie deel te wees van dinge nie. Ek hou van ’n uitdaging – nog altyd – dit het niks met die rolstoel te doen nie. Ek moet die uitdaging nou net effens aanpas.” Deur onrealistiese drome en verwagtinge te hê, beperk jy jouself, meen Mathys. “Omdat ek positief is oor dinge wat realisties is, is dit vir my verbasend maklik om te cope. Ek droom drome binne perke.” Sedert die ongeluk was dit nog nooit vir hom nodig om avontuur in te boet nie. “Daar is klein goedjies wat verander het. Vanoggend het ek saam met my pêlle gesit en koffie drink terwyl hulle ’n staptoer vir die naweek beplan het. Dít kan ek nie doen nie, maar toe ek nog kón, hét ek staptoere gedoen. Nou voel ek nie ek het uitgemis nie. Ek kan op daardie herinneringe voortleef.” Rolstoel-ouens kuier sommer tjop-tjop saam
Mathys het baie vriende gemaak wat ook in rolstoele is. Hulle daag mekaar uit om nuwe dinge aan te pak. “Jy kom gou agter wat is moontlik en wat nie met sulke ouens. As ek sien iemand doen iets wat ek nog nie gedoen het nie, wil ek dit ook probeer. Ons kry mekaar nie jammer nie.” Hierdie vriende het hy sommer so in die verbygaan ontmoet. “Rolstoel-ouens is soos kinders. Vreemde kinders kyk mekaar mos aan, maar ’n rukkie later speel hulle saam. Wanneer ek in ’n winkelsentrum rondry en daar is ’n ou in ’n rolstoel, ry ek verby en kyk watter wiele sy stoel het, watter soort stoel hy het, hoe vinnig hy kan beweeg.Dan sê ek dis mooi wiele of ’n lekker stoel en ons ruil stories uit. So begin dit. Ons manne is mos lief vir ons speelgoed. “Ek het een ou buite ’n hysbak ontmoet, die ander een in ’n koffiewinkel en nog een op ’n lughawe terwyl ons vir ’n vlug gewag het. Sommer tjop-tjop kuier julle saam.” In die toekoms wil Mathys graag ’n TV-program saam met sy jare lange Mathys Roets vriendin Alexa Strachan doen soortgelyk aan hul kykNET-reeks Kamp dit uit. “Ons wil mites oor plekke in Suid-Afrika ondersoek. Dit sal ’n pret-projek wees. Ons sal maar kyk.”