Hy het oudergewoonte opgery op die verhoog en letterlik die gehoor verstom toe hy "opgestaan" het met behulp van sy nuwe rolstoel. Aanvanklik het die gehoor na hul asems gesnak en toe spontaan begin handeklap. Mathys self was baie ontspanne en het vertel dat dit hoog tyd is vir hom om weer mense vanuit dié hoogte in die oë te kyk. Pianis Mathys Maree vertel dis fantasties dat hulle mede-musikant nou weer langer as hulle almal op die verhoog is.

Alexa Strachan was ook in die gehoor. sy het gehelp het om 'n fonds te stig waardeur Mathys sy nuwe rolstoel kon kry. Baie van die hospitaal-personeel wat hom ná sy ongeluk versorg het, het ook die vertoning by gewoon.

Meisie Roets, Mathys se ma, het na die tyd vertel dat sy tydens die konsert nogal gespanne was. Elke nuwe stap in Mathys se lewe is vir haar senutergend, maar haar seun benader alles met soveel spontaniteit en positiwiteit.
"Die ou Mathys is terug, daar is net iets aan hom wanneer hy staan. Hy't 'n ander tipe selfvertroue as dié waarmee hy gesit en sing het", sê sy.

Mathys self vertel dat hy eintlik baie makliker gesing het gisteraand en ook dat hy glad nie moeg gevoel het na die 45 minute se staan nie. Hy is na afloop van die konsert met staande applous terug geroep om nog te kom sing.

Hy tree vanaand weer in die Centurion Teater op en kaartjies is beskikbaar by 012 664 7859.