Die manier hoe sanger Mathys Roets die drade van sy lewe opgetel het ná die motorfietsongeluk waarin hy verlam is, is vir almal ’n inspirasie. Om motiveringspreker te word was byna ’n natuurlike uitvloeisel.

Wie of wat het die saadjie geplant om motiveringspreker te word?

Niemand spesifiek nie. Maar ek het meer en meer agtergekom my storie het ’n invloed op mense. En as ek dit self kan vertel, het ek beheer oor die persepsie en afleidings wat gemaak word.

Wat was jou sterkste motivering ná jou ongeluk om die lewe se drade weer op te tel?

Ek wou net so vinnig moontlik weer myself wees. Elkeen van ons word baie wyer gedefinieer as net jou bene of fisieke toestand.

Motiveringsprekers verskyn soos paddastoele. Dink jy almal van hulle het iets om te sê?

Beslis. Sprekers wat my beïnvloed en motiveer, is dié wat regtig eerlik is.

Watter eienskappe dink jy moet ’n motiveringspreker hê om ander mense se lewe positief aan te raak?

Moenie met reëls en resepte kom nie. Vertel net die storie.

Dink jy die handskoen pas jou?

Gits, ek weet nog nie, ek begin nou eers. Maar ek het nie oplossings of resepte nie. Ek het net ’n storie. En dit bestaan grotendeels uit die mense om my en die invloed wat hulle op my gehad het. As my woorde opraak, kan ek musiek kies. En liedjies sing wat my storie kan beaam of net ’n lekker atmosfeer skep.

Het jy al jou vuurdoop gehad (jou eerste praatjie)?

Ek het verlede jaar rondom Loslitdag (2 September) landwyd ’n reeks praatjies gelewer. (Loslitdag is ter ondersteuning van gestremde mense se regte.) Dit het net so natuurlik gevoel om met musiek as grondslag my storie te vertel.

Enige ander planne vir die nuwe jaar?

Ek het pas my jongste CD, Rembrandt se meisie in die maan, vrygestel. Die meeste van my tyd word gebruik om nuwe liedjies bekend te stel – en net sing. Dan oefen ek ook hard. Ek wil einde vanjaar aan die New York-marathon deelneem.

Wie moet mense kontak wat jou as motiveringspreker wil bespreek?

Besoek my webblad, www.mathysroets.co.za. Of kontak Theresa by dupreezz@mweb.co.za.