Onweerswolke, stof, ’n sneeustorm, digte mis – dit is maar van die 220 verskillende visuele effekte wat digitaal, met die kamera en selfs windmasjiene geskep is in Die verhaal van Racheltjie de Beer. Dít het aan dié rolprent ’n toekenning vir visuele effekte besorg by verlede jaar se kykNET Silwerskermfees.

Visuele effekte is duur, gee Matthys toe. “Gelukkig het ons digitale náproduksiespan, Mushroom Media, en Cinegestix, wat spesialiseer in visuele effekte, dié fliek as ’n projek van passie benader en slegs ’n fraksie gevra van wat dit moes kos. Ons kon dit dus binne die begroting voltooi,” sê Matthys.

Hy meen wêreldwyd sit onafhanklike filmmakers met universele probleme.

“Ons moet woeker en planne beraam om films te maak. Eers soek ons geld, dan kom die grootste uitdagings, om die fliek te verkoop en te versprei – veral om ’n internasionale mark te vind, want daar is kompetisie van oral in die wêreld.”

Hy meen ook akteurs skiet dikwels, selfs in Hollywood, in moeilike omstandighede.

“Dink aan die wildernis en koue in The Revenant. Of enige van Werner Herzog se dokumentêre films, soos Cave of Forgotten Dreams, Grizzly Man, Encounters at the End of the World. Dit is wel moeiliker om met kleiner begrotings oor die weg te kom in fisiek uitdagende omstandighede.”

Matthys reken Afrikaanssprekendes is lojaal, maar dit is ’n beperkte mark.

“Opgee is nie ’n opsie nie. Ek weet wat ek wil bereik en my portefeulje bewys wat ek kan doen. Jy moet bereid wees om opofferings te maak. Dit is ’n voorreg om die gehoor se gesigte te sien wanneer jou werk hulle diep raak. Die vreugde van kos lê netsoveel in die kook daarvan as in die eet.”

En om die pot aan die kook te hou doen hy die regie van TV-advertensies.