"Ek moes net uitkom. Ek het te lank gewag."

Maye Musk se lyftaal verander. Haar ysblou oë wat heeltyd klein raak soos dit verkreukel in haar glimlag, kyk weg. Meer as 40 jaar ná sy uit ’n afbrekende huwelik ontsnap het, wys die pyn steeds.

Maar al het dit by tye bitter swaar met haar gegaan, het Maye haar nie laat onderkry nie. Sy het áltyd ’n plan gemaak. Dit is dan ook waarom die titel van haar memoires, A Woman Makes a Plan*, geïnspireer is deur die Afrikaanse uitdrukking “’n boer maak ’n plan”. Vandag is Maye, ’n opgeleide dieetkundige, ook ’n internasionale model wat al op ’n menigte voorblaaie gepryk het, op advertensieborde in Times Square te sien was, en selfs in ’n Beyoncé-musiekvideo verskyn het. En ja, sy is natuurlik ook die ma van die Suid-Afrikaans gebore visionêr Elon Musk.

Ek sit vasgenael voor my rekenaar en wag in my virtuele Zoom-geselskamer. Ek kan my geluk byna nie glo nie. Ek gaan binnekort met dié SpaceXruimtevaart- entrepreneur en miljardêr se ma praat. Maar dit is nie wat my opgewonde maak nie.

Maye Musk se boek is onlangs in Suid-Afrika bekend gestel – die storie van haar lewe voor sy in haar laat sestigs bekend geword het as Elon se ma of as die silwerkop-supermodel-sensasie. En haar storie is allesbehalwe gewoon.

Dit is duidelik dat sy ’n sterk vrou is wat baie struikelblokke moes oorkom: Benewens ingewikkelde verhoudings, was sy lank ’n enkelma van drie wat moes “oorbegin” in agt verskillende stede in drie verskillende lande. Sy het guts. Maar sy is ook ’n dieetkundige, soos ek, en ’n lewende voorbeeld van hoe ’n gesonde leefstyl tot jou voordeel kan wees. In die voedingswêreld waar daar so baie geraas en dieetfoefies is, was sy altyd ’n voorstander van wetenskapsgebaseerde dieetriglyne in die byna 40 jaar wat sy gepraktiseer het. Sy is ’n rolmodel vir baie in die bedryf, en ek is dáárom opgewonde om met haar te gesels.

Skielik sien ek ’n liggie op my rekenaar flikker. En daar is Maye. Ek het verwag om haar in haar tuisomgewing te “ontmoet”, maar ek sien haar teen die agtergrond van ’n hemelruim vol sterre, die aarde op die agtergrond. Dalk is sy op Mars, wonder ek, die planeet waarop Elon ’n stad met 1 miljoen mense wil bou teen 2050. Sy lag. “Daar is ’n SpaceXlansering die week, so toe dink ek dis ’n prettige agtergrond!” [SpaceX is die maatskappy wat die vuurpyl ontwikkel het wat, in samewerking met NASA, onlangs twee Amerikaanse ruimtevaarders vir die eerste keer in nege jaar na die Internasionale Ruimtestasie gestuur het.]

Maye is egter nie net die ma van Elon, wat ook die Tesla-grootbaas is, nie. Sy trek geen kind voor nie en is ewe trots op haar ander seun, Kimbal, en haar dogter, Tosca – en met reg so.

Wees bekoorlik
Maye sê in haar boek ons moet almal bekoorlik probeer wees. Maar hoe kry ons dit reg as ons soms so vervelig en vaal voel?

“Eerstens moet jy ’n glimlag hê. En jy moet ook geïnteresseerd wees in ander mense, en jy moet ’n belangstelling hê wat jy met mense kan deel.” Van op ’n hopie sit en jouself jammer kry, gaan niks goeds kom nie, maan sy. “En niemand hou daarvan om rondom ’n klakous te wees nie.”

Kimbal, wat in sy jonger dae saam met Elon gewerk het, is deesdae ’n restaurateur en stigter van Big Green, ’n organisasie sonder winsbejag wat al honderde “leertuine” by Amerikaanse skole aangelê het. Die tuine voorsien kos en klasse word daar aangebied om kinders sekere lewensvaardighede te leer. En Tosca is die stigter van Passionflix, ’n produksiemaatskappy wat liefdesromans in flieks omskep. “Die vroue in haar films is altyd sterk. Die regisseurs is ook almal vroue, en mans en vroue kry gelyke betaling,” vertel Maye trots.

Maar hoe het sy dit reggekry om vrou-alleen drie kinders groot te maak, en dan boonop almal sulke suksesvolle leiers? “Wel, ek was ’n leier in my veld, en ek het baie hard gewerk,” vertel sy. “Ek het hulle geleer om onafhanklik te wees. Hulle moes hul eie huiswerk doen, ek het dit nooit nagegaan nie, en hulle moes skoonmaak wat hulle ook al vuilmaak.”

Kort voordat Maye haar eerste meestersgraad aangepak het (sy het twee), het sy haar dieetkundeinternskap by die Universitas-hospitaal in Bloemfontein gedoen. Daar het sy, op 32, in ’n eenslaapkamer-dokterswoonstel ingetrek. Haar kinders het in die kamer geslaap en sy in die leefkamer, wat ook die kombuis was. “Ek het nie tyd gehad om hulle te pamperlang nie, en ek kon dit beslis nie bekostig om hulle uit te vat vir ete of ’n fliek nie. Maar hulle het nooit gekla nie.”

Sy het in daardie stadium deur nóg ’n verhoudingstrauma gegaan, en was eintlik net dankbaar om uit Durban uit te kom, die stad waarheen sy gevlug het uit Pretoria, waar sy grootgeword het en waar haar ouers was, maar ook waar haar eksman, Errol, gebly het. Sy het in Durban nog ’n stel afgetrap met ’n man. “As jou verloofde jou verneuk, ’n ander vrou swanger kry en dan langs jou intrek, is dit nie lekker nie.” Sy kyk weer af en lag, probeer die situasie ligter maak. “Ek was baie hartseer.”

Klein Elon (5), Tosca (2) en Kimbal (4). FOTO Verskaf

Maar terug by die kinders. “Ek het van agt tot vyf gewerk en hulle moes na hulself omsien.”

Syself het baie onafhanklik grootgeword. “My ouers het lang ure gewerk, dus het ek hulle nooit deur die dag gesien nie, en ons [sy, haar tweelingsuster, haar ouer suster en broer en ’n jonger broer] was heeltemal tevrede.” Sy sê haar kinders skerts nou nog oor hoe sy hulle geïgnoreer het as hulle vra vir roomys. “Ek was nie kwaai nie, ek kon dit net nie bekostig nie. Dit was melk en graanpap met rosyne en jou piesang.” Sy wou eers haar boek Struggling and Surviving noem. “Ek het net probeer oorleef. Ek wou nie ryk wees nie.”

In haar boek vertel sy hoe sy rondgetrek het, soms agter akademiese geleenthede aan, soms agter kinders aan, en dikwels om uit ’n slegte situasie te kom. Sy het praktyke begin in Pretoria, Johannesburg, Durban, Bloemfontein, Toronto, San Francisco en New York, en bly nou in Los Angeles. Maar sy is eerlik daaroor dat dit moeilik was en dat sy dit nie sal aanbeveel as dit nie nodig is nie. Tog het Maye altyd haar stempel agtergelaat: In Suid-Afrika was sy die stigter en eerste verteenwoordiger van die Konsulterende Dieetkundiges van Suider-Afrika, in Kanada is sy verkies tot president van konsulterende dieetkundiges en in Amerika as die voorsitter van die voedingsentrepreneurs van die Amerikaanse vereniging van dieetkundiges. Sy het ook in byna elke stad waar sy beland het entrepreneurvergaderings, gemik op dieetkundiges, begin. “Ons moet ons kennis met mekaar deel.”

Sy het haar kanniedood-gene en lus vir die lewe by haar ouers geërf. “Hulle het deur die Kalahari-woestyn gery met ’n kompas en drie weke se voorraad water, brandstof en kos, en vyf kinders agter in die kar. Ons sou ry tot sonsondergang en dan afpak. En dan maak my ma die heerlikste kos. Die volgende oggend sou ons weer vroeg opstaan om reg te maak vir die dag se reis.” 

Bly gesond
In haar dertigs het Maye meer as 30 kg aangesit. “Dit was heerlik!” vertel sy. “Ek het alles binne sig geëet. Boerewors en pap (ek mis dit!), biltong, braaivleis, roomys, sjokolade . . . maar dit is hoe jy 30 kg aansit.” Op 41 moes sy ’n plan maak: Haar cholesterol was hoog, haar rug en knieë het begin seer raak, en sy het besef sy moet haar eie raad begin volg en beter eet, of medikasie gebruik.

“Om gesond te eet is hoe ek gesond bly. Elke dag beplan ek om nie gemorskos in die huis te hê nie – ek kan my maklik daaraan ooreet!”

Reg eet is veral nou  in die coronatyd belangrik. “Die mense wat die slegste daaraan toe is, is dié met die onderliggende probleme, en dit is dikwels voedingsverwant.”

Sy glimlag in verwondering. “Kan jy jou indink hoe dapper dit was? Hoeveel beplanning dit moes verg? En my ma het dit altyd met die grootste liefde gedoen.” Haar ouers het ook ’n enkelenjin-vliegtuig gehad waarmee hulle die wêreld verken het. “My ma was dan die navigator. Hulle het reg oor Afrika, Arabië, Asië, oor die see na Australië en terug gevlieg. Kan jy jou indink? In ’n enkelenjin-vliegtuig, sonder ’n radio . . .”

Maye het altyd haar ma se raad onthou: “Familie eerste.” En haar pa s’n: “Vat kanse, maar deurdagte kanse.”

Groot hartseer het die familie getref toe haar pa en haar tweelingsuster se man in ’n vliegongeluk oorlede is. Sy was toe swanger met Tosca en nog in haar afbrekende huwelik. Kort daarna is sy deur Errol verbied om haar familie te sien omdat hy van mening was hulle moes meer uit haar oorlede pa se boedel kry, skryf sy in haar boek. Ná haar egskeiding was sy elf jaar lank in hofsake met haar eksman betrokke om voogskap van die kinders, totdat sy Kanada toe getrek het en hy haar nie meer kon dagvaar nie. Haar ma was aan haar sy met elke hofsaak.

Tosca, Elon, Maye en Kimbal kuier saam in 2019. FOTO Verskaf

Ons praat weer oor die afbrekende huwelik. Sy is versigtig om raad te gee aan vroue in soortgelyke omstandighede. Elke situasie is anders, sê sy. “Hy het gedreig om my familie seer te maak. Maar hy het nie. Dit was leë dreigemente.” Sy dink hardop: “Jy moet na die mans in jou familie en vriende gaan, en hulle moet met jou man praat. Nie die vroue nie . . . hulle kan dalk ook daaronder ly.” Maar jy móét daar uitkom, sê sy.

“Ek was heeltyd bang. Totdat ek Toronto toe getrek het.” Haar Kanadese burgerskap het dit vir haar en haar kinders moontlik gemaak. Hulle het in ’n woonstel ingetrek wat hulle drie weke geneem het om skoon te maak, en op die vloer geslaap. “Maar ek het nie meer vrees gevoel nie.” Sy moedig vroue aan om te doen wat hulle kan om uit so ’n situasie te ontsnap. “Jy moet besluit: Wil ek my hele lewe lank ly en swaarkry? Of gaan ek uitkom? Dis nie die moeite werd om in vrees te lewe nie.”

Sy wou eers die deel oor die swaarkry uit die boek haal, maar haar uitgewers en haar kinders het gesê sy moet dit inhou. “Hulle het daardeur geleef en wou hê mense moet weet alles was nie net wonderlik van die begin af nie.” Haar broers en tweelingsuster het self eers uitgevind waardeur sy gegaan het toe sy die boek geskryf het.

As sy terugkyk op haar lewe, waarop is sy die trotsste? Dalk haar sukses as dieetkundige? Dat sy oorleef het deur al haar verhoudingstraumas? Dat sy ’n gesogte model is op 72?

“My kinders. Ek is ongelooflik trots op hulle. Hulle is my grootste prestasie.”

Maye se lewe is beslis nie ’n sprokiesverhaal nie, maar dit lyk asof alles goed uitgewerk het. Is sy spyt oor iets? “Ek het te lank in slegte situasies gebly. Jy dink jy kan iemand verander of die situasie verander, en jy probeer, en jy kan nie . . . Jy sien die rooi vlaggies, maar jy doen niks daaraan nie. Mense jok vir jou, en jy weet dit, maar jy wil hulle nie konfronteer nie. En dan kry jy swaar.

“Kry minder swaar. Ek wens ek het minder swaargekry.”

*Liezel is ’n voormalige joernalis en tydskrifredakteur. Sy is nou ook ’n geregistreerde dieetkundige en ’n woordvoerder vir die Vereniging vir Dieetkundiges in Suid-Afrika (ADSA). Besoek liezelthedietitian.com of volg haar op Instagram by @LiezelTheDietitian vir ’n videoopname van die onderhoud. Hou SARIE.com dop vir Maye se videoboodskap in Afrikaans aan SARIE.

Kitsfeite
  • Maye was twee toe haar Kanadese ouers, pa Joshua Haldeman, ’n chiropraktisyn, en ma Wyn, ’n danser en dansafrigter, na Suid-Afrika verhuis het.
  • Sy het al drie haar kinders in ’n tydperk van drie jaar en drie weke gehad.
  • Maye het van jongs af modelwerk gedoen, selfs toe sy gewig aangesit het. Sy het dit egter beperk tot nie meer nie as vier dae per maand, omdat dit nie moes inmeng met haar brood-enbotter praktykwerk nie. Haar kliënte het selde geweet sy het hierdie tweede lewe.
  • Op 69 is Maye as een van die skoonheidsreeks CoverGirl se handelsmerkambassadeurs aangewys, die oudste nog! Van daar af het die vraag na haar as model die hoogte ingeskiet.

Maye Musk se boek 'A Woman Makes a Plan: Advice for a Lifetime of Adventure, Beauty and Success' (Jonathan Ball Publishers, R240) is nou beskikbaar.