In die reeks, Anzél in die Boland, wat op kykNET uitgesaai word, ontdek Anzél die versteekte stories van die Boland. Dit is immers in Stellenbosch waar sy van haar belangrikste lewenshoofstukke uitgeleef het – sy het hier grootgeword, studeer, getrou en woon ook nou hier. “Stellenbosch word beskou as die hartjie van die Boland, en het soveel aspekte wat vasgevang kan word: Ryk geskiedenis, pragtige berge, groot fokus op kos & wyn en natuurlike baie interresante en joviale mense!” verduidelik sy aan SARIE.com.

Sy en haar man, Stephanus, het saam aan die reeks gewerk – hy het as vervaardiger en regisseur gedien. “Dit was vir my ’n voorreg om by hom te kon leer en saam met hom aan hierdie projek te kon werk.”

Anzél was sedert kleintyd af geweldig hard op haarself en het gedurig haar kop met negatiewe gedagtes gevul. Maar met tyd en ondervinding het sy geleer om sag met haarself te wees. “Ek het onlangs besef dat ek vir myself moet lief wees. Sukses begin wanneer jy in jouself begin glo.” 

En danksy hierdie kopskuif kon sy uiteindelik die stories van haar geliefde Boland vertel. Vir Anzél was daar veral drie mense wat haar tydens die “Boland-reis” verras het: Danie du Toit, hoofsanger en liedjieskrywer van Spoegwolf, sjef Bertus Basson en die kunstenaar Portchie. “Jy kan vir ure na Danie luister en ’n mens voel daarna sommer geïnspireerd. En Bertus, wat as een van ons land se beste sjefs beskou word, het nie eers matriek nie, maar dit het hom nie gekeer om sy drome na te jaag en sukses te bereik nie. Die kunstenaar Portchie is ’n wonderlike man. Hy het ’n hart van goud en laat jou so welkom voel.”

View this post on Instagram

A post shared by Anze´l Stofberg Rabie (@anzel_indieboland) on

Met vanjaar se inperking het Anzél opnuut besef dat die gras nie altyd elders groener is nie. Sy hoop dat hul program mense sal aanmoedig om hul eie land te ontdek. En wat sal die donkerkop skoonheid aanbeveel?

* Die Kaapse wynlande

* Waenhuiskrans

* Drakensberge 

Op Anzél se plaaslike emmerskop-lys is Sodwana, aan die KwaZulu-Natalse kus. “Ek wil die Natal en sy kus so graag verken.” 

’n Bolandse kuier is nie volmaak as daar nie ’n kaasbord betrokke is nie – kaas en wyn is immers die perfekte pasmaats. En vir Anzél is dit van die lekkerste ‘disse’ om voor te berei. “Ek glo dat daar klomp verskillende dinge op die bord moet wees, omdat jy vir almal wil cater.”

Wat is haar geheime bestanddele vir daai perfekte kaasbord?

* Songedroogte tamaties

* Vars brood

* Biltong & droëwors

* Klomp verskillende soorte kase – brie, camembert- en roomkaas!

* Pesto

Die inperking en die verbod op alkohol het ’n groot knou vir die wynbedryf veroorsaak – iets wat vir Anzél ’n tragedie is.

“Dit is ongelooflik hartseer, daar is ’n hele klomp produsente wat reeds hul deure moes toemaak. Die grootse skade is egter op internasionale vlak aangerig, want daar was so baie werk oor die afgelope 10 jaar gedoen om die internasionale beeld van Suid Afrika se wynbedryf te verander,” verduidelik sy.  “Ander lande het ons wyn baie meer ernstig opgeneem en baie van daai harde werk is nou ongedaan gemaak, juis oor hierdie verbod op uitvoere. Invoerders het eenvoudig net begin om ons wyne van hulle lyste af te haal en dit gaan ’n hele klomp jaar vat om die vertroue terug te wen.”

Maar Anzél het steeds moed. “Die kwaliteit van Suid-Afrikaanse wyn is eenvoudig net te hoog om uit te sluit. Ek hoop regtig dit gaan in die langtermyn herstel, al gaan dit ’n tydjie neem.”

En wat is haar raad vir iemand wat Dionusus se ‘water’ wil begin drink?

“Ek stel voor jy begin met ’n ligte witwyn – ’n Sauvignon- of Chenic Blanc. Wanneer dit vir jou “lekker” is, sal jy kan oorbeweeg na Chardonnay toe, wat geken word aan ’n meer gehoute smake. Jou palet sal al hoe meer ontwikkel. Wanneer jy die witwyn onder die knie het, beweeg na jou rooiwyn toe. Jy kan met ’n ligte rooi begin soos ’n Cinsault, Grenache of Pinot Noir, maar ek het al agter gekom party mense spring sommer dadelik by die rooi versnitte in.” Belangrikste wenk? Bly aanhou leer.

- Anzel in die Boland word Dinsdae om 17:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.