Hoewel Melinda Bam, huidige Mej. SA, toegee dat sy té maer was toe sy gekroon is (sy het nét voor die kroning 3 kg verloor, weens stres), sê sy nou selfversekerd: “My ‘verpakking’ vir volgende maand se Mej. Heelal-wedstryd in Las Vegas is net reg. Ek is nie net ’n ‘klerehanger’ nie, maar vroulik en ek is fiks. Ek voel goed oor my lyf. ”

Melinda is 1,71 m lank en weeg 51 kg. Sy het nog nooit ’n gewigsprobleem gehad nie. “Oefening is deel van my lewe, van skooldae af. Ek doen dit nie om maer te bly nie, maar omdat ek glo in goeie gesondheid. My hele vriendekring leef so.”

Melinda glo jou gedrag word bepaal deur hoe jy oor jou lyf voel. “Is jy lief vir jouself? Ek is, want ek glo my selfbeeld hang van myself af, niemand het die mag om dít te bepaal nie.”

Sy dink té veel klem word geplaas op die uiterlike. “Onthou, as jy geestelik omgekrap is, gaan jou lyf ook ly.”

Melinda is nie bang om vet te word nie, eerder dat verkeerde leefstylbesluite in haar jeug haar dalk op haar oudag mag kelder. “Dis hoekom ek probeer gesond leef. My ouma, Maria van Heerden, is onlangs op 72 oorlede ná sewe jaar se kankerlyding. Dít het my laat besef ?’n mens moet nie sommer jou lyf as vanselfsprekend aanvaar nie ...”

* In die November 2012-uitgawe van SARIE deel oud-Mej.SA, Claudia Henkel, háár stryd met haar gewig. Moet dit nie misloop nie!