Sy het oornag 'n miljoenêr geword. Haar naam is op die hele Suid-Afrika se lippe. Maar Tamaryn Green, die meisie van die Paarl wat pas as Mej. Suid-Afrika gekroon is, vat dit nie kop toe nie. Daarvoor is haar voete te plat op die aarde. 

Dis vroegoggend, 03:30 om presies te wees, in 'n yskoue Kaapstad. Kaapstad is steeds slaapstad ... en ek, Dean Paulse, wag in die SARIE-kantoor vir die persoon met wie ek my heel eerste onderhoud sal voer. Mej. Suid-Afrika. 

Ons het iets gemeen. Ons is albei kleindorpse kinders, ek van Worcester, sy van die Paarl, besef ek. 

Dan staan sy voor my. "Hey, Dean! I'm Tamaryn Green." Die handskud ferm, die glimlag oop en vriendelik. Kan dit wees? Sy is nog mooier as op al die foto's. Dan word sy na die grimeerkunstenaar en haarstilis begelei. Oor twee uur moet ons in die pad val en my vrae moet eers wag.

Tydens die finaal van Mej. Suid-Afrika. FOTO Instagram/ Tamaryn Green

Dis eers as die laaste krul in haar hare reg is, dat ons die pad na Velddrif kan aandurf saam met die res van die span. Die pad is koud en nat. Uiteindelik kan ek met haar praat.

Sy is 'n mediese student van die Universiteit van Kaapstad, nie die eerste in dié rigting wat die glanstitel wen nie. Voor haar was Rolene Strauss (2014) en Adé van Heerden (2017) ook mediese studente toe hulle ingeskryf het. Waar lê die konneksie? wonder ek.

"Ek is nie seker nie... Ek dink dokters het 'n goeie idee oor die land se probleme. Ons verstaan dit en beleef hierdie probleme elke dag in hospitale. Ek weet ek wil graag 'n verskil maak."

Beter mediese sorg is een van haar twee grootste wense vir Suid-Afrika. Die ander een? "Gelyke onderwys."

Tamaryn Green verskyn in die modeblaaie van SARIE se Augustus 2018-uitgawe. FOTO Dean Paulse

Tamaryn straal 'n kalmte uit - 'n selfversekerdheid wat jy met vandag se bemagtigde vrou vereenselwig. Ook in vanjaar se Mej. SA-kompetisie is sterk hierop gefokus. Wat beteken dit vir haar?

"'n Sterk vrou is iemand wat nie bang is om haar opinie te lug nie, sy neem verantwoordelikheid en maak haar eie reëls. Sy glo in wat reg is."

Tamaryn besef sy kan nie die wêreld verander nie, maar haar nuwe titel gee haar 'n platform.

"Vroue is definitief my fokusgroep. Maar ek is ook passievol oor gelykheid vir al die inwoners van Suid-Afrika."

Haar 10/10-antwoord die kroningsaand... bly sy altyd so koel onder die druk van groot oomblikke?

En dié groot oomblik, die een toe haar naam aangekondig word. "Ek kon nie die trane keer nie. Dit was pure vreugde, 'n droom het waar word."

Agter-die-skerms: Tamaryn Green, die nuwe Mej. SA, by 'n SARIE-fotosessie. FOTO SARIE

Haar slimfoon lui, dis haar pa, David. "I'm okay, Daddy. I love you!" Tamaryn beskryf haar pa, 'n kurrikulum-adviseur, as haar grootste inspirasie. 

"Hy het my geleer van die lewe. Hy het die waardes wat ek vandag ken, vir my geleer." Tyd saam met haar familie is kosbaar, haar gesin haar grootste ondersteuningstelsel.

Tamaryn en haar ouers. FOTO Instagram / Tamaryn Green

Ons is amper by ons bestemming waar dit tyd sal wees vir modelspeel.  

Tamaryn bieg: Sy was nog nooit goed met die nuutste modes nie. Daar was nie altyd geld vir die mooiste en duurste klere nie. "Have you seen my style before Miss South Africa," vra sy laggend. En nou? "My styl het verander - dis elegant, eenvoudig en treffend."

Die sessie verloop goed. Soos die Engelse sal sê: Tamaryn is 'n natural. Ná elke fotosessie doen sy 'n "het jou"-danspassie. Sy lag spontaan en vra dan: "Is that okay?"

Op een van die foto's (ek wil nie te veel verklap nie) dra sy haar kroon. Dit blink van die diamante en lyk asof dit vir haar gemaak is. "Queen!" skree ek trots. 

En eenklaps is die sessie verby. Sy trek haar tekkies aan, maak haar hare los en raak weer Tamaryn van die Paarl. Die dag eindig met 'n selfie - hoe dan anders!

Tamaryn Green: Mej. SA, miljoenêr, beeldskone Bolandkind.

'n Selfie-oomblik: Dean Paulse en Tamaryn Green. FOTO Dean Paulse

Blitsvrae aan Tamaryn

Wat's altyd in jou handsak? Slimfoon, lisensie en mentlekkertjies

Wat is jou oggendroetine? Ek sit my slimfoon aan, stort, trek aan en eet my All-Bran Flakes

Twee voorkoms-wenke: Vorm jou ooghare, en goeie lipstiffie

Gunsteling-kleur: Groen

Gunsteling-kos: Soesji, braaivleis en my ma se Sondagkos

Guilty pleasure: Speckled Eggs

Bekende wat jou hart steel: David Beckham

Gunsteling-liedjie: Ed Sheeran se "Thinking Out Loud"

Gunsteling-parfuum: Abercrombie & Fitch